Moedertaalonderrig: die sleutel tot sukses
Onderrig in ’n mens se moedertaal is ’n kleinood vir leerders oor die land heen – en ook vir die ATKV. Moedertaalonderrig is ’n kernbelangrike faset van hierdie organisasie se visie om Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar en aktief deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika te maak.
Die invloed van moedertaalonderrig op leerders spreek vanself: KwaZulu-Natal was in 2025 die provinsie met die hoogste slaagsyfer vir matrieks, en deel van hul sukses word aan moedertaalonderrig toegeskryf. Die waarde daarvan kan nie betwyfel word nie, maar met Internasionale Moedertaaldag, wat wêreldwyd op 21 Februarie gevier word, wonder ons hoekom dit nog in ’n globaliserende wêreld saak maak.
Dr. Annelie Wassenaar is ’n kenner in opvoedkunde en die akademiese en kwaliteitskoördineer by die MOS-inisiatief. Sy vertel dat moedertaalonderrig die kognitiewe, emosionele en akademiese grondslag van leer vorm.
“Kinders ontwikkel vanaf graad R konsepbegrip, probleemoplossingsvaardighede en abstrakte denke deur middel van taal. Wanneer kinders in hul moedertaal leer, hoef hulle nie eers die taal te leer voordat hulle die inhoud kan begryp nie – hulle kan onmiddellik op betekenis fokus.”
Dr. Annelie sê daar is vele voordele verbonde aan moedertaalonderrig.
“Sterk moedertaalvaardighede bevorder kritiese en analitiese denke, bevestig kulturele identiteit en bevorder ’n gevoel van behoort. Moedertaalonderrig is nie slegs ’n taalvoorkeur nie, maar ’n pedagogiese noodsaaklikheid.”
Voorts noem sy ook dat leesbegrip en wiskundige geletterdheid sterker ontwikkel as dié konsepte eers in die moedertaal gevestig word.
Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), stem saam met haar. Hy glo dat moedertaalonderrig potensiaal ontsluit en werklike geleenthede skep.
“Ek weet uit persoonlike ervaring dat komplekse begrippe makliker en dieper begryp word wanneer dit eers in jou moedertaal aangeleer word. Sodra die begrip gevestig is, kan dit in enige ander taal toegepas word. Leerders is ook meer leergierig, nuuskierig en kreatief in die taal waarin hulle die gemaklikste is.
“Internasionale navorsing wys duidelik dat leerders ’n beduidende voorsprong het wanneer onderrig so lank as moontlik in die moedertaal plaasvind. Afrikaanssprekendes hoef net na ons eie geskiedenis en prestasies te kyk – baie daarvan is onlosmaaklik verbind aan sterk moedertaalonderrig.”
Daar is weliswaar baie Afrikaanse ouers wat kies om hul kinders in Engels te laat onderrig, omdat hulle glo dat hul kinders só beter geleenthede kan kry. Dr. Jaco sien dit egter nie as ’n keuse tussen Afrikaans óf Engels nie.
“Navorsing toon juis dat ’n tweede en selfs ’n derde taal baie makliker en vinniger aangeleer word wanneer ’n leerder oor ’n sterk moedertaalgrondslag beskik. Die beste geleenthede word geskep deur diep begrip en goeie kommunikasievaardighede, en dit ontwikkel die sterkste in die moedertaal.
“Ons onderskat dikwels hoe bevoorreg ons is om in ’n veeltalige samelewing groot te word. Kinders se blootstelling aan Engels is vandag reeds veel groter as wat dit vir baie van ons op skool was, en die manier waarop gemeenskappe kommunikeer, het ingrypend verander. Koester eerder die ontwikkeling van sterk moedertaalvaardighede. Die bykomende tale sal natuurlik volg,” vertel Jaco.
“Suid-Afrika erken twaalf amptelike tale, en die taalbeleid word onder meer gerig deur die departement van basiese onderwys,” vertel dr. Annelie.
“Dit beteken dat moedertaalonderrig in baie skole in die grondslagfase (graad R-3) aangebied word, met ’n geleidelike bekendstelling aan bykomende tale.”
Sy vertel dat sommige skole ’n parallelmedium- of dubbelmediumbenadering volg, en ander implementeer weer ’n tweetaligheidsmodel, waar die moedertaal behou en ontwikkel word terwyl ’n tweede taal bygevoeg word.
“Die uitdaging lê dikwels in hulpbronne, opvoederopleiding en ouervoorkeure. Tog bly die ideaal ’n verrykende meertaligheidsbenadering waarin geen taal verdring word nie, maar eerder uitgebou word,” meen sy.
Jaco sê die ideaal is dat elke leerder tot en met graad 12 in sy of haar moedertaal onderrig kan ontvang en daardie taal ook in take, toetse en eksamens kan gebruik.
Wenke vir ouers
Hoe help jy jou kinders as hulle nie in hul moedertaal onderrig word nie? Dr. Annelie sê ouers speel ’n kritieke rol in taalontwikkeling, selfs wanneer die skool se onderrigtaal verskil van die kind se moedertaal. Sy gee die volgende wenke:
- Handhaaf die moedertaal tuis:Gesels, lees en vertel stories in die moedertaal.
- Lees gereeld:Selfs eenvoudige boeke of koerantartikels bou woordeskat en begrip.
- Verduidelik konsepte in die moedertaal:Help kinders om moeilike werk eers in hul eie taal te verstaan.
- Moedig trots op taal en kultuur aan:’n Positiewe taalidentiteit versterk leer.
- Bou brugvaardighede:Help kinders om nuwe vakterminologie tussen tale te verbind.
Vier op 21 Februarie jou moedertaal deur dit met trots te gebruik. Lees ’n gedig of kortverhaal, deel ’n gesegde of spreekwoord met jou familie, sing jou gunstelingliedjie in jou moedertaal, of vertel ’n storie wat jy by jou ouers of grootouers gehoor het. Jou taal is ’n skat, en op Internasionale Moedertaaldag vier jy dit deur jou moedertaal met ander te deel.