Mpumi se passie is praat
Lank voor Mpumi Rakhudu gebore is of sy eerste woord geuiter het, het die bekroonde dramaturg Deon Opperman die opmerking gemaak dat Engels ’n waterverftaal is en Afrikaans ’n olieverftaal. As die einste heer Opperman nou die toespraak moes hoor waarmee Mpumi vanjaar se ATKV-Redenaarskompetisie in die kategorie Afrikaans Addisionele Taal (graad 10-12) ingepalm het, sou hy waarskynlik opnuut verstaan presies hoe en hoekom ons “olieverftaal” steeds uithaal en wys. Want in Mpumi se wenrede, Bemagtig deur Afrikaans met drie geheime wapens, gaan elke woord ’n ekstra myl, elke paragraaf spreek van passie en die somtotaal is ’n sege wat beelde optower van ’n taal wat sin maak vir ’n toekoms wat saak maak.
Sy geheim, vermoed ’n mens, is dat hy nie toesprake lukraak saamflans nie. Op ’n unieke manier koppel hy diep denke, onwrikbare oortuiging en rasionele passie aan ’n kragkombinasie van heerlike humor, formidabele verwysingsbronne en, soos die uitdrukking lui, baie, baie meer.
Maar kom ons begin min of meer by die begin. Mpumi se eerste daadwerklike tree op sy reis na redenaarsuitnemendheid was in Graad 11, nie dat hy voorheen op sy mond geval was nie. “Ek het dit nog altyd geniet om voor mense te praat en baie van my onderwysers het dit raakgesien en my aangemoedig om redenaars te begin doen,” vertel hy.
En toe hy eers begin, was ophou nie ’n opsie nie en struikelblokke eenvoudig iets wat hom sterker gemaak het; as redenaar én as mens. Sy eerste groot struikelblok, en een wat hy duidelik te bowe gekom het, was om dieper in homself te delf om die X-faktor te kry wat sy spesifieke kwaliteitkorrels van ander se kafpraat skei. “Dis altyd moeilik om jouself te vind en ’n manier van praat te kry wat jou nie soos al die ander laat klink nie,” verduidelik hy. “Ek het regtig gesukkel om my eie identiteit te kry tussen al die toesprake deur, maar toe daardie ‘Eureka’-oomblik my tref, kon ek met selfvertroue alle struikelblokke in redenaarskompetisies én in my persoonlike lewe aanpak.”
Nóg ʼn uitdaging bly die onsekerheid oor die tipe gehore of beoordelaars wat hy moet toespreek. “Ek het ’n spesifieke praatstyl ontwikkel wat ek as my eie gevestig het en partykeer is dit moeilik om jou argumente oor te dra en mense te oorreed as jy weet jou styl en manier van praat is nie noodwendig almal se koppie tee is nie,” vertel hy.
Nie dat Mpumi se argumente ooit ‘oppie koffie’ is nie, veral nie in die rede waarmee hy vanjaar sy mededingers uitgestof het nie. Opgekikker deur alles van ʼn pittige gedraaksteek met ons eie Hollywood-legende Charlize Theron tot ’n passievolle ode aan die oorlede sanglegende Theuns Jordaan, bied sy toespraak uitsonderlike stof tot nadenke. Dit bewys deur en deur een van sy sleutelargumente: dat Afrikaans as skooltaal, saam met “Tswana as (sy) huistaal en Engels as (sy) lingua franca” sy redenaarsbrein superaktief hou.
Dit verduidelik ook hoekom suur gesigte begin straal wanneer Mpumi sy mond oopmaak ‒ maar dis nie al wat gebeur nie. Knoppe kom sit in kele en harte klop warmer vir sy betowerende kombinasie van argumente en sy sonderlinge omgang met Afrikaans, wat ’n mens nie net aan Opperman se olieverftaal-metafoor herinner nie, maar aan ’n duiselingwekkende dans. Durf ek sê, met apologie aan alles van volkspele tot langarm, Mpumi Rakhudu tango met die taal.
Terwyl alles ván uitdagings tot introspeksie vir Mpumi vleuels gee, is sy familie sy anker; sy hart. “Die ondersteuning en liefde wat ek elke dag van my familie kry is ongelooflik en ek is oneindig dankbaar daarvoor. Sonder hulle sou ek nie kon doen wat ek vandag doen nie. Hulle maak alles vir my die moeite werd,” sê hy.
En so, bemagtig deur alles van redenaarstalent en familieliefde tot, natuurlik, Afrikaans, is Mpumi nie net verheug oor sy toekenning nie. Hy is positief oor die toekoms. “Ek is baie optimisties oor wat voorlê. Daar is natuurlik onsekerheid, maar dis juis die onsekerheid wat my die nuuskierigheid gee om te bly vorentoe beweeg in volle verwagting vir wat nog gaan kom,” sê hy.
Te midde van al die onsekerheid, staan een ding soos ʼn paal bo water: “Afrikaans se hart is groot. Myne ook,” sê Mpumi in sy wentoespraak. En ons sê almal so.
LEWENSWAARHEDE UIT ’N WENTOESPRAAK
“Ek steel graag die woorde van Theuns Jordaan se ikoniese lied, Soos Bloed, want ek sukkel om ’n beter stel metafore te vind. Soos bloed, soos asem, soos tyd. Dit is hoe Afrikaans my bemagtig.”
“Afrikaans bemagtig my met drie geheime wapens. Dit verruim my verstand, vergroot my hart en plavei vir my ’n toekoms.”
“... as ’n boer eers sy hart vir jou oopgemaak het, dan is jy sommer familie. In Affies het ek broers ontdek.”
“Die tyd wat ek nou met my broers spandeer, gaan eendag in geld omskep word. Want glo my, die skoolbaadjie maak my deel van ’n sterk netwerk, sonder politieke agendas. Ons netwerk is iets anders. Oor ’n paar jaar, in hierdie droewe land, sal ek en my broers ook vir mekaar uitkyk, sonder nepotisme of korrupsie of rassisme. Ons gaan mense bemagtig, nie onderdruk nie. Ons gaan oplossings soek en ’n sterk familiebesigheid opbou. Want as mens eers saam detensie gesit het, pawiljoene laat dreun het, gehuil en gelag het, dan word mens een groot familie.”