’n Hart vir kuns en kultuur

Elke jaar word daar in die hartjie van die Karoo ’n toneelfees vir laerskool- en hoërskoolleerders gehou, en vanjaar het skole sover as die Oos-Kaap, Namakwaland, Kalahari en die Tuinroete daaraan deelgeneem.
Die saadjie vir hierdie fees is reeds sewe jaar gelede deur Brandon Erasmus, toneelentoesias, onderwyser en die voorsitter van die ATKV-tak Victoria-Wes, geplant.
Hy het op skool in toneel, revue, redenaars en debat uitgeblink en het daar besef dat kinders soos hy ’n plek van hul eie nodig het waar hulle kan groei en hulself kan wees.
“Ek wil graag vir sulke kinders ’n stem gee. Dis ongelukkig so dat kultuurkinders dikwels op skole verdwyn, want hulle is nie die rugbysterre en sportuitblinkers nie. Maar hul talent moet raakgesien en ontwikkel word en daarom is dié fees en ander toneelfeeste so spesiaal.”
Brandon is ’n onderwyser by die Victoria-Wes Gekombineerde Skool en verenig as onderwyser en takvoorsitter ’n paar liefdes: Afrikaans, opvoeding, kultuur, kuns en gemeenskap.
“Dit het alles begin toe ons eendag besef het dat ons skool se saal ongelooflike akoestiek het en ’n goeie plek vir ’n toneelstuk kon wees. Ons het altyd aan die Logan-toneelfees deelgeneem en ons het besluit dat dit lekker kan wees om nog ’n toneelfees te hê sodat daar meer platforms vir kultuur kan wees.”
Dit was egter makliker gesê as gedaan, want Covid-19 het ’n stokkie daarvoor gesteek. Brandon en die res van die span het egter nie hul droom laat vaar nie en die fees is in 2023 vir die eerste keer aangebied.
Vandag bars die fees behoorlik uit sy nate.
“Die inskrywings is elke jaar meer en meer en vanjaar het 21 skole deelgeneem. Die skole ondersteun dit ongelooflik goed en daar was vanjaar omtrent honderde voete deur ons skoolsaal. Die gehalte van die werk was werklik besonders.”
Allerlei pryse is gewen, onder meer pryse vir die beste akteur, die beste byspeler, die beste regie, die beste ensemble, die beste tegniese versorging, die beste nuutgeskrewe teks en die toppresterende skole.
Dit was egter vir Brandon belangrik om dit oor meer as net die verhoog en pryse te laat gaan, en om werklik iets vir die gemeenskap te beteken.
“Ons vra dus jaarliks vir deelnemende skole om aan ons gemeenskappe te skenk en daar is elke jaar ’n tema daarvoor. Ons het al op bejaardes gefokus en vanjaar se tema is die ontwikkeling van ons jeug.
“Daar was allerlei projekte waarby ons jeug baat kon vind. Dit pas ook in by ons fees se leuse van ‘’n fees met die gees van omgee’. Maar ons wil nie hê mense moet dink die fees gaan net oor gee en gee nie. Nee, dit gaan oor gemeenskap en hoe ons vir mekaar kan omgee.”
Só sorg hulle dat die fees nie net kultuur en Afrikaans bevorder nie, maar ook ’n gemeenskap saamsnoer en kinders leer van die krag van omgee.
Die ATKV-tak Victoria-Wes is ’n bedrywige tak en daar is elke maand ’n projek of twee. Dit is veral taal, kuns, kultuur en leesbevordering wat hulle na aan die hart lê, en hulle werk nou saam met die plaaslike biblioteek.
“Ons het onder meer ’n boekklub en ons doen verskillende leesprojekte. Ons taktesourier is juis ’n leesafrigter en sy doen ongelooflike goeie werk,” vertel Brandon.
Hulle is ook baie betrokke by die twee ATKV-jeugtakke op die dorp en pak heelwat projekte saam met hulle aan. Hulle het juis saam met die jeugtakke die onlangse Apollo-kunstefees aangebied. Verder beplan hulle om matriekleerders met ’n uitstapdag te bederf, klop-op-die-skouer-toekennings uit te deel en om ’n speletjiesaand en ’n digkunsaand te hou.
Hul hoofprojek bly egter die toneelfees en hulle begin nou al dink aan die beplanning vir volgende jaar. Die fees is immers ’n bewys van wat gedoen kan word as jy talent, inisiatief en ’n passie vir die gemeenskap bymekaarbring.
Karoo Interskole Toneelfees-wenners
Beste manlike byspeler
Benoemings:
- Willie de Bruyn (Hoërskool Fichardtpark)
- Linzelle Louw (Victoria-Wes Gekombineerde Skool)
- Ellistor Sauls (Gerrit du Plessis Sekondêre Skool)
Wenner: Willie de Bruyn (Hoërskool Fichardtpark)
Beste vroulike byspeler
Benoemings:
- Katelynne Bezuidenhoudt (Hoërskool Keimoes)
- Elrine Cloete (Hoërskool Upington)
- Wildene Coetzee (Hoërskool Keimoes)
Wenner: Katelynne Bezuidenhoudt (Hoërskool Keimoes)
Beste akteur
Benoemings:
- Siyamthanda CJ Mamani (Victoria-Wes Gekombineerde Skool)
- Evert Pietersen (Gerrit du Plessis Sekondêre Skool)
Wenner: Siyamthanda Mamani (Victoria-Wes Gekombineerde Skool)
Beste aktrise
Benoemings:
- Lydia Jaquire (Hoërskool Fichardtpark)
- Mia Prinsloo (Hoër Volkskool Graaff-Reinet)
- Kaylee Bezuidenhoudt (Hoërskool Keimoes)
Wenner: Lydia Jaquire (Hoërskool Fichardtpark)
Beste tegniese versorging
Benoemings:
- Stuur groete vir Ma (Panorama Primêr)
- Blou (Hoërskool Upington)
- Tanya en haar treadmill (Hoërskool Fichardtpark)
Wenner: Stuur groete vir Ma (Panorama Primêr)
Beste ensemble
Benoemings:
- Blou (Hoërskool Upington)
- And Action (Gerrit du Plessis Sekondêre Skool)
- Spieëltjie, spieëltjie (Panorama Primêr)
Wenner: Blou (Hoërskool Upington)
Beste regie
Benoemings:
- And Action, Adrian Swartz
- Blou, Lesley Swart
- Tanya en haar treadmill, Lydia Jaquire
Wenner: And Action, Adrian Swartz
Beste nuutgeskrewe teks
Benoemings:
- Blou (Hoërskool Upington)
- Stuur groete vir Ma (Panorama Primêr)
- And Action (Gerrit du Plessis Sekondêre Skool)
Wenner: Blou (Hoërskool Upington)
Beste produksie
Benoemings:
- Tanya en haar treadmill (Hoërskool Fichardtpark)
- And Action (Gerrit du Plessis Sekondêre Skool)
- Blou (Hoërskool Upington)
Wenner: Tanya en haar treadmill (Hoërskool Fichardtpark)