Nasiebou met hekelnaalde
Die ATKV se Arendsnes-tak aan die Wesrand gaan ’n unieke Hekel Safari Marathon oor 30 ure aan die einde van Mei aanbied. Dit word in samewerking met die Maak ’n Verskil-groep aangebied en hekelaars van regoor die land gaan saam hekel om ’n verskil te maak.
Alle deelnemers hekel blokkies op hul eie wat gedurende die marathon oor twee dae aanmekaar gelas sal word om komberse te maak. As deel van ’n winterwarm-projek, sal die komberse aan behoeftige mense en instansies uitgedeel word.
Mense wat nie kan hekel nie, kan ook deelneem. Soos om ’n kombers te borg vir R200, of die aflewering daarvan vir R100, of selfs net wol te skenk.
Die WhatsApp-groep waarop inligting en reëlings gedeel word, is: https://chat.whatsapp.com/FI9nPDBb3KiBtZ9syOB4F1
Die blink idee van ’n hekelmarathon het in die Arendsnes-tak uitgebroei waar die lede wissel van twee maande tot 86 jaar oud. “Ons is een groot laslappiekombers – verskillende persoonlikhede en verskillende patrone, gemaklik deur ons eie kultuur saamgebind,” vertel Monique Brink, takvoorsitter.
Volgens ondervoorsitter Leandra van Wyk is die tak se hoofdoel nie liefdadigheid nie, maar om taal en kultuur saam met gesinne te geniet as voorbeeld vir die volgende geslagte. “Ons wil die wanopvatting dat ’n ATKV-tak net ’n klomp ouer mense is wat ter wille van liefdadigheid saamkom, regstel. Ons missie is om positiewe ATKV-lidmaatskap te bevorder onder jonger gesinne – en ons groei weekliks.”
Die twee leiers het meer verklap oor die hekelmarathon. “Ons moes iets ‘anders’ doen om gemeenskapsbetrokkenheid te bewerkstellig. Iets wat almal saam kan geniet én ’n uitdaging is,” sê Monique.
Die fisiese marathon begin Vrydag, 26 Mei om 12:00 en duur tot Saterdag, 27 Mei om 18:00. Iemand moet deurentyd hekel (dieselfde persoon hoef nie vir 30 ure aaneen te hekel nie). Die Safari-deel dui op die geografiese omvang – dit het in die Wesrand begin en daar is nou al deelnemers so ver as Namibië en Botswana. Dit sal ook lewendig gestroom word sodat hekelaars van oraloor kan inskakel.
Hekelaars wat reeds begin hekel het, kan blokkies en komberse na die sentrale adres stuur (Somersetstraat 4, Floridapark). Ná die marathon sal die Arendsnes-tak saam met die Maak ’n Verskil-groep die blokkies aanmekaar hekel.
Alle deelnemers kan laat weet waar die nood die grootste is. Die ATKV sal dan landwyd behoeftebepalings doen.
“Hierdie projek is ’n ongelooflike inspirasie as gevolg van almal se entoesiasme, opgewondenheid en samewerking en wys ook hoe graag mense wil gee en bymekaar wil uitkom,” aldus Leandra.
Die WA-groep bruis met passievolle mense. “Ons besef hoe gewillig en opgewonde Afrikaans- én Engelssprekende hekelaars landwyd is om ’n verskil te maak. Ons het reeds 570 lede op die groep, en sommige is verteenwoordigers van hekelgroepies. Op die groep word ouma-blokkie-idees gedeel, en wol word onder mekaar verdeel en versprei.”
Hekelaars bemoedig en inspireer mekaar. Groepies word in dorpe gevorm deur mense wat na mekaar uitreik en reël om bymekaar te kom vir die marathon.
Wat dus as ’n klein takprojek begin het, het volgens Monique ontplof in “een ongelooflike nasionale wonderwerk – ons is dankbaar!”
Die Arendsnes-tak se grootste doelwit is om in kinders te belê, wat moet leer om onbaatsugtig te kan gee en te kan inspireer. “Om in ons kinders te belê, belê ons in ons toekoms. As ons kinders ons voorbeeld sien en saam met ons ’n verskil probeer maak, sal ons ’n verskil in die toekoms sien!”
“Om te kan hekel, is ’n vaardigheid en ’n kuns wat stres verminder en kreatiwiteit verhoog. Dit gee ’n warm gevoel en jy kan dit enige plek en tyd doen. Dit maak ook liefdadigheid en nuwe vriendskappe moontlik,” voeg Leandra by.
“Ons hoop hierdie projek sal vir mense in nood ’n verskil maak met komberse wat met liefde, entoesiasme en sorg gehekel en persoonlik oorhandig word,” sê Monique.
Ander takke kan by die projek inskakel. Baie groepies gaan landwyd hekel en nr. 4 hekelpenne, dubbeldraadwol, eetgoed, koffie en tee word benodig. Tydens die marathon benodig die hekelaars baie wol. Takke kan die hekelgroepies in hulle areas ondersteun en ook groepies stig indien dit nog nie bestaan nie.
Die projek moet ook bemark word en hulp is nodig om ná die marathon die gehekelde blokke en komberse na die sentrale punt te koerier of te stuur.
Skakel Monique Brink by 082 682 6964 of Leandra van Wyk by 082 451 4548 vir meer inligting.