Nico Malan vir die tweede keer Vlymskerp-wenners
Spanne van 12 hoërskole in die Oos-Kaap het dinge uitgespook by die Vlymskerp-vasvrakompetisie, wat onlangs by die Laerskool Sunridge in Gqeberha gehou is. Dit was die eerste keer dat die kompetisie weer aangebied is ná die Covid-19-pandemie en was, aldus die organiseerders, ’n rasende sukses. Die skerpstes van die skerpes was die span van die Hoërskool Nico Malan van Humansdorp (wat ook in 2019 met die louere weggestap het), terwyl die Hoërskool Despatch die naaswenners was en die Hoërskool Paul Sauer van Kareedouw derde geëindig het.
Vlymskerp is vir die eerste keer in 2014 aangebied nadat Elda Kruger, voormalige ATKV-streeksbestuurder van die Oos- en Suid-Kaapstreek, en Retief Odendaal, burgemeester van Nelson Mandelabaai, die behoefte aan ’n lekker vasvra tussen hoërskole raakgesien het. Destyds het Elda en Die Burger hande gevat om hoërskoolleerders te motiveer om die koerant te lees – die kompetisie het tóé bestaan uit algemenekennisvrae uit Die Burger, saam met musiek- en natuurlik taalvrae.
Christie Swanepoel, bestuurder van die Oos- en Suid-Kaapstreek, het vanjaar die groot eer gehad om Vlymskerp aan te bied. Aangesien die vasvra nie in 2020 en 2021 kon plaasvind nie, was daar ’n paar uitdagings wat sy in ag moes neem. Sy verduidelik, “Eerstens bestaan Die Burger nou slegs aanlyn. Ons wou nie gehad het dat skole onnodige uitgawes moes aangaan om aanlyn in te teken nie. Die vasvra is toe verander om algemenekennisvrae (insluitend vrae oor nuus wat opslae gemaak het), musiekvrae en taalkennisvrae in te sluit. Omdat Vlymskerp vir twee jaar nie plaasgevind het nie, wou ek graag ’n aanbieder kry wat bekend is, maar ook ’n goeie vasvra-aanbieder sou wees. Ek het dadelik aan Beer Adriaanse gedink, omdat hy die program Slim vang sy baas op VIA aanbied, asook bekend is vir sy rolle in Fynskrif en Hotel. Ons het ’n ongelooflik prettige middag gehad en die leerders het dit vreeslik geniet.”
As inskrywingsfooi moes die leerders hondekos saambring. Al die hondekos wat ingesamel is, is aan Vallei Diere Vriende, ‘n dierewelsynsorganisasie wat ’n groot verskil in Kirkwood maak, oorhandig.
Die kompetisie het bestaan uit verskillende afdelings:
- Die eerste ronde (veelvuldige keuse) het bestaan uit 36 veelvuldigekeusevrae. Daar was drie kategorieë (algemene kennis, taal en musiek) met 12 vrae elk, elk met vier moontlike antwoorde. Spanne het 30 minute gehad om die geskrewe vraestel te voltooi.
- Ronde twee – Snelvuurafdeling: In hierdie afdeling het die vraesteller soveel vrae moontlik binne twee minute en 30 sekondes aan elke span gestel, tot en met ’n maksimum van 18 vrae.
- Halfeindronde – Die nege topspanne het almal op ’n nulpuntbasis begin. Twee spanne ding op ’n slag teen mekaar mee, terwyl die ander vier spanne in ’n ander lokaal wag. Daarna word dieselfde stel vrae beurtsgewys aan die oorblywende spanne gevra. Daar is deur middel van ’n trekking besluit watter spanne teen mekaar meeding. Hierdie ronde het bestaan uit 30 vrae – drie kategorieë (algemene kennis, taal en musiek) met 10 vrae elk, wat gelyktydig aan die twee spanne gestel is. Daar is met behulp van ’n gonserstelsel bepaal watter span die vraag kon beantwoord.
- Eindronde – Die drie topspanne het almal weer op ’n nulpuntbasis begin. Hierdie ronde het bestaan uit 30 vrae – drie kategorieë (algemene kennis, taal en musiek) met tien vrae elk, wat gelyktydig aan die drie spanne gestel is. Daar is met ’n gonserstelsel bepaal wie die vraag kon beantwoord.
Die organiseerder is uit haar vel oor hoe goed Vlymskerp 2022 afgeloop het. “Hopelik kan ons volgende jaar groter gaan om laerskole te betrek, asook om dit bietjie verder te vat Suid-Kaap toe,” sê Christie.