Nuwe ATKV-tak gee Ruiterbos ’n stem
Net langs die lieflike Robinsonpas, die R328 tussen Oudtshoorn en Mosselbaai, lê ’n klein bosboudorpie met die naam Ruiterbos. Dis ’n gemeenskap van sowat 1300 Afrikaanssprekende mense. Hierdie gemeenskap het onlangs deel geword van die ATKV met die stigting van die ATKV-tak Ruiterberg. Die tak, wat vanjaar in Februarie amptelik gestig is, bestaan uit agt vroue wat hard werk om ’n verskil te maak.
Elisa Prins is die voorsitter van die ATKV-tak Ruiterberg. Sy vertel dat die behoefte vir ’n ATKV-tak op Ruiterbos gebore is uit die idee om ’n verskil in die lewens van die jongmense op die dorp te maak. Daar is twee laerskole in Ruiterbos: die Laerskool Denneprag en die Laerskool Ruiterbos. Die Laerskool Ruiterbos is ’n entjie uit die dorp, maar spog dat dit al meer as ’n eeu oud is. Die hoërskoolleerders gaan egter in Mosselbaai skool en reis daagliks heen en weer, of party bly in die koshuis. Elisa vertel dat sy weet dat hierdie kinders soveel potensiaal het, maar dat daar vir hulle weinig te doen is in die dorp. Sy het navraag gedoen oor die moontlikheid om ’n ATKV-tak op die dorp te stig, en sy is dankbaar dat hierdie droom nou bewaarheid is.
“Net soos baie ander townships en informele nedersettings, het ons ’n hele klomp uitdagings hier in Ruiterbos. Hier is maar onwettige bedrywighede aan die gang wat ’n mens kwel, maar wat my die meeste bekommer, is dat daar niks is vir jongmense om te doen nie. Ná skool bly hulle in Ruiterbos agter, of gaan werk iewers op ’n plaas in die lande en ek weet hulle het potensiaal vir soveel meer,” sê Elisa.
Die heel eerste groot projek wat hierdie tak aanpak, is ’n entrepreneursdag wat aan die einde van Julie gaan plaasvind. By die ATKV se streeksbyeenkoms vroeër vanjaar het hulle met Quinton Adams kennis gemaak. Hy is ’n opvoedkundige sielkundige van die Wes-Kaap wat al meer as 17 jaar lank in gemeenskappe in die Wes-Kaap werk. Hy staan ook bekend as die “ShackBuilder” en help mense om vir hulle houthuisies op te rig. Quinton het ’n besondere groot hart vir jongmense, en hy was dadelik opgewonde toe hy van Elisa en haar tak se planne met die entrepreneursdag hoor. Quinton staan Elisa en haar span by met die reëlings vir hierdie dag.
“Ons idee met die entrepreneursdag is om nuwe entrepreneurs in Ruiterbos te vestig. Ons is ’n hanetree van die nasionale pad, die R328, en daar is verkeer wat elke dag hier verbybeweeg. Ons het reeds begin om geld in te samel by die drie gemeenskappe in hierdie area: Ruiterbos, Brandwag en Sonskynvallei. Al wat ons van elke huisgesin vra, is ’n skenking van R20. Ons het ook ’n paar groot besighede in Mosselbaai waar ons skenkings gaan ontvang. Met hierdie geld gaan ons dan die stalletjies oprig en die jongmense help om een of ander entrepreneursprojek aan te pak waarmee hulle dié dag kan woeker. Alles gaan plaasvind in Ruiterbos op die sportgronde. Daar gaan onder meer heerlike eetgoed wees – afvalkerrie, vetkoeke met verskillende vulsels, melkterte en ander soetgoed. Ons beplan ook ’n teetuin vir daardie dag,” sê Elisa.
Elisa se wens is dat die jongmense van Ruiterbos binne vyf jaar van nou af finansiële vryheid sal kan geniet met besighede wat hulle op hierdie manier aan die gang kry. Hulle beplan ook om instansies wat besighede registreer by die entrepreneursdag te betrek sodat die jongmense ook op daardie manier gehelp kan word met ’n nuwe onderneming of diens.
Oor langtermynplanne vir die ATKV-tak Ruiterberg sê Elisa dat hulle hoop om sommer baie spoedig ook ’n ATKV-jeugtak op die dorp te vestig, wat dan verder gaan help om die jonges besig te hou.
“Die ATKV-ervaring is nog vir ons ’n nuwe ervaring, so ons is nog nie bekend met alles wat in hierdie organisasie gebeur nie, maar ons is baie trots daarop dat Ruiterbos deel hiervan kan wees. Die kinders van Ruiterbos se toekoms is vir ons ons prioriteit, maar ook die gemeenskap, en ons hoop om ’n positiewe impak hier te hê.”
Christie Swanepoel, die ATKV-streekbestuurder van die Oos- en Suid-Kaap, onder wie se leiding hierdie nuwe tak geopen is, is saam met die ATKV-tak Ruiterberg opgewonde oor die verskil wat hier gemaak gaan word.
“Dit maak ’n mens se hart warm om te sien hoe entoesiasties Elisa en haar span is,” sê Christie. “In hierdie gemeenskap is daar ongelooflik baie uitdagings, maar ek dink die mense van Ruiterbos het nou vir die eerste keer ’n stem gekry. Dis ’n klein gemeenskap tussen êrens en nêrens en hulle word baie keer misgekyk of oor die hoof gesien. Nou nie meer nie. Een van die belangrikste doelwitte van die ATKV is om ’n impak in ’n gemeenskap te maak. Danksy die ATKV-tak wat nou hier in Ruiterbos gestig is, en met die hulp en die ondersteuning wat die ATKV aan hulle gaan gee, sal ons help om hierdie gemeenskap op te bou na nuwe hoogtes.”
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.