Nuwe ATKV-tak wil die jeug bemagtig

’n Nuwe ATKV-tak in die Mosselbaai-omgewing wil hulle bemoei met die jeug en ’n liefde vir taal en kultuur onder jong mense kweek.
Die ATKV-tak See-uitsig is onlangs gestig en hul takvoorsitter, Ebraim Kapp, sê hulle grootste fokus is jeugontwikkeling.
“My kinders is in ’n Engelse skool en ek agtergekom hulle sukkel verskriklik met Afrikaans. Daar is ook nie regtig hulp vir hulle by die skool nie en daarom het ek besluit om ’n tak te stig wat die jeug gaan bedien.”
Volgens hom wil die tak ’n sentrum stig waar jong mense berading kan ontvang, maar ook hulself in hulle eie kultuur en taal kan uitleef.
“Ons wil vir jong mense ’n geleentheid gee om in Afrikaans te kan lees en skryf. Kinders moet hulself kan uitdruk in die kunste en in Afrikaans.
“Ons grootste uitdaging is om ’n passie onder die jeug vir Afrikaans te kweek.”
Hy sê een van hulle belangrikste fokuspunte is hulle leesprogram.
“Daar is baie kinders in ons gemeenskap wat nie met begrip kan lees nie. Ons wil hulle kan bemagtig deur hulle behoorlik te leer lees.”
Die tak is in gesprek met verskeie biblioteke in die omgewing om ATKV-leeshoekies te begin waar kinders toegang tot boeke kan kry.
“Ons grootste fokus is nou om die tak te bemark en soveel as moontlik jong mense betrokke by die tak te kry.
“Ons wil aan jong mense wys dat Afrikaans nie besig is om uit te sterf nie en dat dit ’n jong en lewendige taal is.”