Nuwe lewe vir geliefde treffers van Jannie

Toe Jannie du Toit se ’n Nuwe Baadjie-projek met sy 70ste verjaarsdag op 13 Desember 2021 afgeskop het, was Jannie se wens dat dit ’n geseënde projek moet wees – ’n projek wat aan jongmense die kans sal bied om van sy liedjies in nuwe baadjies te laat pronk. Jannie is voorwaar nie teleurgestel nie en kyk met groot vreugde terug op hierdie projek, wat meer as geseënd was.
“Op die aand van die galakonsert het Coenie de Villiers, wat gehelp het met die afronding van die kompetisie se finaliste, vir my gesê dat daar meer talent te sien was op dié aand as in ’n hele Idols-reeks op televisie. Dit was vir ons baie moeilik om uiteindelik ’n wenner aan te wys. Die talent wat ons met hierdie galakonsert gesien het, is verstommend,” sê Jannie.
In 2021 het Jannie sy vyf dekades van musiek maak op vele wyses gevier. Hy het hard gewerk aan ’n televisiereeks van 13 episodes met die titel ’n Liedjie vir jou, wat op kykNET NOU! uitgesaai is en wat ’n oorsig van Jannie se hele musikale reis gegee het. Jannie het ook ’n program saamgestel waarmee hy deur die land getoer het – hy noem dit BeSTEMmings. Dit was ’n heerlike fees van die oorspronklike Afrikaanse musiek wat hy en sy kollegas oor die jare gesing het.
Tog wou Jannie nóg iets aanpak om terug te gee aan die baie mense wat hom oor die jare as musikant ondersteun en gehelp het. Karen Zoid se weergawe van “’n Liedjie vir jou”, wat sy in haar TV-program Republiek van Zoid Afrika met ’n vars rock- en blues-klank uitgevoer het, was die inspirasie om aan ander jong musikante dieselfde geleentheid te bied – boonop met die heerlike lokaas van wonderlike kontantpryse ter waarde van R60 000.
Die ’n Nuwe Baadjie-kompetisie het op 13 Desember 2021 afgeskop en musikante het tot 13 Mei 2022 die geleentheid gehad om hulle vars interpretasie van een van Jannie se liedjies in te skryf in MP3-formaat.
“Daar het wonderlike idees na vore gekom en ’n mens kan nie anders as om aangenaam verras te wees nie. Daar was skuins oor die 60 inskrywings gewees. Uit die 50 liedjies op die ’n Nuwe Baadjie-webwerf waaruit die musikante kon kies, is daar meer as 30 liedjies gebruik. Die verskeidenheid musikale style waarmee die jongmense vorendag gekom het, was net so lekker om te sien. Daar was ’n a capella-groep, ’n kletsrymer, musikante wat aan my musiek ’n wonderlike jazz-klank gegee het en selfs ’n groep marimbaspelers, die Thabang Marimba Band van die Thabang Kinderhuis in Thabazimbi, wat ’n wonderlike instrumentale weergawe van “’n Liedjie vir jou” ingeskryf het,” sê Jannie.
Uiteindelik het die groot taak begin om deur al die inskrywings te sif en te besluit wie sou deurdring as finaliste. Aanvanklik was die idee om 12 finaliste te kies wat dan aan ’n werkswinkel by ATKV-Buffelspoort kon deelneem. Jannie verduidelik dat dit egter onmoontlik was om by 12 te stop – hy was oorweldig deur al die talent. Met die ATKV se toestemming kon hy 18 finaliste nooi om ook na die ATKV-Buffelspoort-vakansieoord te kom en aan die werkswinkel deel te neem.
Tydens hierdie tweedag-werkswinkel het ervare kunstenaars soos Coenie de Villiers, Mauritz Lotz, Chanie Jonker en Renette Bouwer help slyp aan die jong kunstenaars om hulle gereed te kry vir die galakonsert. Eloise Cupido het met hulle gesels oor ’n loopbaan in die kunste en adv. David du Plessis het die kwessie van outeursreg bespreek.
Op Woensdagaand, 6 Julie het elkeen van die kunstenaars of groepe die geleentheid gekry om tydens die galakonsert hulle nuwe weergawes van Jannie se musiek aan die waarderende gehoor bekend te stel. Jannie vertel dat hy na afloop van die konsert eers geweier het om ook sy stem uit te bring, want dit was vir hom byna onmoontlik om die keuse te maak. Mauritz Lotz was dit met hom daaroor eens, maar uiteindelik moes hulle tóg hul keuse uitbring en is die wenners aangekondig.
Mia-Lana Hough het met die eerste prys van R30 000 weggestap vir haar vertolking van Jannie se “Wys my die plek”. In die tweede plek was Marcel Dednam, wat met sy weergawe van “Volgende Winter” R20 000 gewen het. Sherilee Botha het in die derde plek geëindig met “Die liefde”, ’n liedjie waarvan Jannie die woorde geskryf het en Christa Steyn die musiek. ’n Groot deel van die prysgeld was ’n skenking van een van Jannie se bewonderaars in Australië wat nou ook ’n goeie vriend geword het, Jack Bantjes.
Vir Jannie was dit ook ’n wonderlike geleentheid om met die samewerking van Vonk Musiek, een van die borge van die projek, opnames van die 18 finaliste se vertolkings te maak wat op ’n kredietkaarttipe geheuestokkie beskikbaar is. Dit sal digitaal onder Jannie se JNS-musiekhandelsmerk versprei word.
“Ek kyk werklik met groot vreugde terug op die projek en is besonder dankbaar teenoor die ATKV, wat van die eerste oomblik af ingekoop het in hierdie idee. Vir my lê daar nog altyd soveel vreugde in musiek opgesluit en om te kon sien dat die jong musikante ook vreugde daaruit put, was ’n wonderlike bonus.
“Ek glo ons het jong mense laat sien dat Afrikaanse musiek nie net die musiek is wat hulle gereeld oor die radio hoor nie,” sê Jannie. “Daar is ook baie ander dimensies van Afrikaanse musiek en van die finaliste het dit beslis reggekry om musiek te maak waarby jongmense sal aanklank vind. Die jongmense se opgewondenheid om mekaar se talent te sien, was besonder verblydend. In die drie dae wat hulle daar bymekaar was, kon ek sien dat daar ’n hele paar vriendskappe gevorm word en oor en weer gesels is oor saamwerkpogings. Dit is iets wat ek gehoop het sou gebeur, omdat my musiekpad nooit moontlik sou wees as ek dit alleen moes stap nie.”
Vir navrae oor die ’n Nuwe baadjie-album, stuur ’n e-pos aan jannie@agterplaas.co.za.