Oesfees: ATKV en Solms-Delta span weer saam

Die ATKV sit vandeesmaand sy jare lange vennootskap met die Solms-Delta Oesfees met ’n program propvol musiek, kultuur- en gemeenskapsgees voort.
Die geleentheid is uniek op die Suid-Afrikaanse kultuurkalender en bring plaaswerkers en eienaars van die vallei bymekaar om te kuier en hul harde werk en die Kaap se ryk kulturele erfenis saam te vier en met gaste van regoor Suid-Afrika te deel.
Geniet tradisionele Bolandse musiek, Kaapse kos en die beste van Solms-Delta se wyne, met bykomende aanbiedings van kosverkopers op die terrein.
Die Oesfees vind op 29 Maart 2025 by die pragtige Solms-Deltawynlandgoed in Franschhoek plaas.
Volgens Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, is hulle vanjaar betrokke deur die fees finansieel te ondersteun en van die ATKV se vlagskipprojekte ten toon te stel, met Taalgenoot-RUK EN RYM-kunstenaars en ATKV-Crescendo-finaliste wat gaan optree.
“Die ATKV het ’n jare lange vennootskap met Solms-Delta en spesifiek die Oesfees. Die eerste fees is in 2008 aangebied, waarna die ATKV vir tien jaar die naamregte van die fees gehad het en op vele vlakke ’n bydrae gelewer het,” verduidelik Gerrie.
Hy sê die ATKV het ’n spesifieke doelwit met die vennootskap.
“Tale en kulture is wonderlike meganismes om nasiebou te bevorder. Dit skep geleenthede om ten toon te stel, te vermaak, op te voed en te kommunikeer. Dit laat mense mekaar beter verstaan, dit lok belangstelling en dit skep goedgesindheid. Dit is kreatief en bied geleenthede om uiting te gee. Die Oesfees by Solms-Delta is waar hierdie aspekte gevier word. Dit skep die geleentheid om te bewys dat taal en kultuur – spesifiek Afrikaans – nie sy gelyke het nie.”
Gerrie is vol vertroue dat gaste by vanjaar se Oesfees baie sal vind om te ervaar en geniet.
“Gaste kan Suid-Afrikaanse gemeenskaps- en alternatiewe musiektalent uit die boonste rakke verwag. Gooi tradisionele disse en goeie wyn in die mengsel, en jy het ’n samekoms van spesiale mense wat gevul is met danksegging en goeie gees,” sê hy.
Angie Gallagher, assistentregisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, sê dit is vir die ATKV uiters belangrik om feeste soos die Oesfees te ondersteun.
“Die doelwit met vennootskappe soos die een met die Oesfees is om platforms en feeste te ondersteun waar die kunste belangrik geag word en kunstenaars die geleentheid kry om op hul seepkis te gaan staan en te sê wat hulle wil sê,” sê Angie.
“Die kunste is ook vir die ATKV geweldig belangrik. Dit spreek vanself uit die projekte wat ons intern bestuur.”
Wat RUK EN RYM, Taalgenoot se opwindende musiekkompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, betref, sê Angie twee groepe wat verlede jaar aan dié kompetisie deelgeneem het, is by die Oesfees te sien.
“Dierbaar, een helfte van die supergroep Dierbaar na die Maan, wat RUK EN RYM verlede jaar gewen het, en Die Bom en die Ster, wat vierde geëindig het, sal op die Oesfeesverhoog verskyn,” sê sy.
“Wat die Oesfees van ander feeste onderskei is die feit dat daar nie werklik ’n groot aantal hoofstroom-kunstenaars daar optree nie. Daar word juis ’n ruimte geskep vir kunstenaars wat nie noodwendig by enige ander fees op ’n hoofverhoog sal optree nie. Dit maak die Oesfees ’n bietjie anders as die ander feeste waarby ons betrokke is.
“Dit is vir ons fantasties om ook kleiner en anderste feeste te ondersteun, omdat die kunste nie beperk is tot wat in die hoofstroom aangaan nie. Daarom is dit ook baie lekker om RUK EN RYM-kunstenaars daar te hê, want die hele idee agter RUK EN RYM is om ’n platform vir alternatiewe kunstenaars te skep.
“Dit is beslis ’n wen-wen-situasie vir sowel die Oesfees as die ATKV. Ons kry hierdie wonderlike geleentheid en platform, die Oesfees kry uiteraard ons samewerking en dan hierdie kunstenaars wat wonderlike dinge op die verhoog gaan doen.”
ATKV-Crescendo-kunstenaars Jason Baartman, Victor Fredericks en IXA sal ook op die Oesfees-verhoog te sien wees.
Ander kunstenaars sluit in Emo Adams en sy orkes, Koos Kombuis, Valiant Swart en Anton L'Amour, Die Papier Familie, Luna Paige, Oom Hannes Coetzee, Die Soetstemme, Nick Turner, Schalk Joubert en Die Solms-Delta Optelband.
Die hekke maak 10:00 oop en kaartjies is teen R200 per persoon hier beskikbaar (gratis toegang vir kinders onder 12).