Ommietafelgesprek: Almal het ’n storie
Die ATKV en die Vriende van Afrikaans (VVA) se Ommietafelgesprek, wat in die Pniël-museum se teetuin plaasgevind het tydens die jaarlikse Adam Small-fees, het die nuuskierige luisteraar aangemoedig om dieper oor hul eie storie na te dink, want elkeen se storie maak saak.
Die gesprek het op die Saterdagoggend van dié gewilde fees in die Dwarsriviervallei plaasgevind.
Die gesprek het inspirasie geput uit Adam Small se drama, Kanna hy kô hystoe. Verskeie ander temas, soos wat is jou storie, die rol wat boeke speel om die wêreld beter te verstaan en die rol van ouers om onderwysers in die opvoedingsproses by te staan, is aangeraak.
Die gespreksleier, Chareldine van der Merwe, projekhoof by die VVA, het die gehoor op ’n lekker reis geneem deur die kundige paneel van sprekers, Anzil Kulsen, André Hendricks en professor Diana Ferrus aan hulle voor te stel.
Anzil kom van Keimoes en is ’n skrywer van 13 kinder- en jeugboeke, asook volwasse romans en sowat 30 kortverhale.
André is ’n lewensafrigter en motiveringspreker wat ook die projekorganiseerder is vir die ATKV se Kopskuif-program.
Diana is ’n bekroonde digter en skrywer wat haar eredoktersgraad van die Stellenbosch Universiteit ontvang het en in 2023 ’n Legende-toekenning tydens die kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid ontvang het. Diana is ook ’n ereburger van Worcester.
Chareldine en die sprekers was vol kwinkslae en het staaltjies en uitdrukkings gedeel wat die somber reënweer-atmosfeer sommer opgehelder het.
Boeke help om te verstaan
Chareldine het met die deur in die huis geval deur klem te plaas op hoe boeke die leser kan help om sin te maak van die pynlike werklikhede waardeur ’n mens in die gesig gestaar word, en hoe probleme in uitdagings omgeskep kan word.
Anzil het toe vertel hoe sy in ’n huis saam met haar enkelma en ouma in Keimoes grootgeword het. Sy het glo ’n ryk verbeelding gehad, al was hulle baie arm. Haar ouma sou uitvind dat Anzil gejok het oor die grootte van hulle stuk grond, wat glo ondenkbaar groot was – wat glad nie die geval was nie. “Ouma sou sê, ‘Hulle moet loop bid vir die kind, want soos sy jok, sal sy nooit die hemel sien nie,’” sê Anzil.
Anzil het vertel hoe haar verbeeldingsvlugte haar uiteindelik genoop het om stories te skryf uit haar gemeenskap.
“My rol by die ATKV bring my in aanraking met diverse gemeenskappe wat arm is. Daar is mense met skrywersdrome en ek leer hulle hoe om te skryf en waar om te begin. Jy hoef nie noodwendig daaroor te praat nie, jy kan jou storie neerskryf.”
André het tydens die Ommietafelgesprek ook uitgebrei oor sy eie betrokkenheid om ’n verskil teweeg te bring in gemeenskappe.
“Ek beantwoord gewoonlik drie vrae van mense: “Maak ek ’n verskil? Is ek altyd so positief? Waarom doen ek wat ek doen?” het hy gesê.
“Ek wil glo ek maak ’n verskil, want 65% van my werk is in townships. Ek het my oomblikke van negatiwiteit, maar ek is meer positief – want ek woon al my eie sessies by,” het hy gespot en bygevoeg, “En, ja, ek het ’n absolute passie vir wat ek doen.”
Diana is in 1953 in Worcester gebore. Dié kaalvoetdogtertjie wat in ’n arm huis grootgeword het waar drankmisbruik en gesinsgeweld voorgekom het, het onder ander drie bundels gepubliseer: Ons komvandaan, I’ve come to take you home, Die vrede kom later. Sy het ook oor die waters in die mooie Nederlandse stad Utrecht, studeer, waar sy die gedig, “I have come to take you home” (1998) vir Sarah Baartman geskryf het.
“My ouers het hulle tekortkominge gehad, maar daar was sterkpunte. Ek wil vir hulle krediet gee dat ek stories kan vertel en skryf. Ek is die produk van goeie skrywers – ’n ma en pa wat hulself op papier kon uitdruk. My ma het briewe geskryf namens mense in die gemeenskap,” sê Diana.
Boeke kan help met seer
“In my eie skryfwerk is daar altyd iets van jouself, soos met Zita,” sê Anzil tydens die gesprek. “Jy stel jouself bloot. So baie mense wat my boeke lees, kom na my toe en sê hulle kan hulself in my karakters sien. As dit dan ’n positiewe uitwerking op hulle het, is ek bly.”
“Dan dink ek aan die boek, The War of Art, van Steven Pressfield. Hierin noem hy dat as jy jou kuns van die wêreld weerhou, steel jy van hulle. Net so steel jy van die wêreld as jy nie jou storie skryf nie,” voeg sy by.
“Die boek wat seker die grootste uitwerking in my lewe op my gehad het, was Up a Road Slowly (deur Irene Hunt),” voeg Diana Ferrus by.
“Dit het empatie vir die underdog by my wakker gemaak.
Alles begin by die huis
Die rol van ouers is onontbeerlik in die kind se opvoeding, sê André tydens die sessie. “Die ouerhuis is die primêre opvoedingstasie. As ouers en onderwysers saamwerk, kan ons vlerke aan die kinders gee. Vir vaders is dit goed om geïnteresseerd te wees, maar veel beter om betrokke te raak.
“Vaderskap is iets waaraan ons moet werk. Die manne weet nie noodwendig om dít te doen nie. Hulle het nie omgeegroepe soos vroue nie. Hulle suffer in silence.”
Hy voeg by dat daar meer na die welstand van onderwysers gekyk moet word. “Hulle kan nie in die plek van die ouers staan nie. As ons as ’n gemeenskap ook na die onderwysers kyk, kan ons ver gaan, want onderwysers werk met besonder delikate materiaal – die kop van jou kind.”
Ter afsluiting van die Ommietafelgesprek lees Diana Ferrus haar bekende gedig wat aanhaak by die tema van “kô hystoe”.
“Ek het gekom om jou huis toe te neem” is geskryf ter ere van Sarah (Saartjie) Baartman wie se oorskot in 2002 ná 192 jaar vanaf Frankryk na haar moederland teruggebring is en op Hankey begrawe is.
Diana was destyds deel van die delegasie wat die oorskot gaan haal het en moes ’n gedig doeriekant voorlees.
“Maar voor ek dit kon lees, hoor ek hulle (Frankryk se) minister is baie haastig. Ek dog toe, ons moes 200 jaar wag om Sarah huis toe te neem, hy moet nie vir my sê ‘hurry’ nie”.
Sy laat toe die Franse vertaler frases voorlees, speel die bekfluitjie, sing ’n song en dra toe haar gedig voor, wat vandag nog in Franse regsboeke vervat is.
“Ek is trots dat ek die Franse minister laat wag het,” spot sy. “Die mense in die vliegtuig het destyds nie geweet Sarah se oorskot is op die plane nie. Die volgende oggend toe ons oor Johannesburg se lughawe vlieg, sê die kaptein: ‘We welcome Sarah Baartman back into her country after 192 years.’”