Ommietafelgesprek: Radio hier om te bly

Afrikaans vier vanjaar haar 100ste jaar as amptelike taal, die ATKV is 95 jaar oud en Afrikaanse radio trek ook al by die 90 jaar. Daar is beslis ’n lang geskiedenis om oor te praat, maar by die Vriende van Afrikaans (VVA) se onlangse Ommietafelgesprek is daar gekyk na radio se hede en toekoms.
Daar is behoorlik gepraat, geluister en gekuier by dié gesprek wat op 14 Augustus by Middelvlei-wynlandgoed op Stellenbosch aangebied is.
Die tema was: “Hoe gaan dit met Afrikaans op ons plaaslike en nasionale radiostasies?” Die kunstenaar en TV-persoonlikheid Frazer Barry het die leisels van die gesprek stewig vasgehou. Die paneellede het bestaan uit Martelize Brink, radio-omroeper en -vervaardiger, Lynden Jafta, die Paarl FM-radiostasie se eienaar en stasiebestuurder en Crystal Orderson, joernalis en radionuuspersoonlikheid.
Die aand is deur die VVA se projekorganiseerder Shireen Crotz geopen met die boodskap dat ons nie net ons sê op sosiale media moet sê nie, maar ook die daad by die woord moet voeg en ’n verskil in ons gemeenskappe moet maak.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, het onder meer gepraat oor hoe die ATKV begin is om die lekkerte van Afrikaans-wees te vier en dat ons dit vandag steeds moet doen, en daarom is die Ommietafelgesprek so nodig – dit gee ons die kans om die lekkerte van Afrikaans-wees te vier. Die Ommietafelgesprek oor radio was net een van ’n reeks gesprekke oor aktuele kwessies wat die VVA aangebied het.
Frazer Barry het die paneelbespreking begin deur met Crystal Orderson oor haar begindae in die bedryf te gesels. Crystal het vertel hoe sy al op skool daarvan gedroom het om ’n joernalis te wees en hoe sy, ten spyte van verskeie hekkies, die bedryf trappie vir trappie uitgeklim het.
Sy het genoem dat die radiowese nie vandag maklik is nie, want die advertensiekoek is kleiner, radio ding met podsendings mee en Generasie Z luister glo nie veel na radio nie. Ten spyte van die uitdagings, meen sy egter daar is wel ’n toekoms vir Afrikaanse radio, maar dit vra vir kreatiwiteit, interessante stories en ’n bedryf wat by tegnologiese veranderinge aanpas.
“In China is daar deesdae mikro-sepies van vyf minute lank wat ’n voorbeeld is van hoe hulle saam met die tyd beweeg en innoveer. Ons moet ook aanpas en kreatief wees om die sukses van radio te verseker,” was die veteraanjoernalis se boodskap aan die gehoor.
Die gesoute omroeper Martelize Brink het Crystal se woorde beaam en gesê dat baie mense gedink het dat radio dieselfde roete as gedrukte media sou loop, maar dit het nie gebeur nie.
Sy het benadruk dat dit die toeganklikheid van radio is wat dit so uniek maak en dit is vir baie mense hul enigste kommunikasiemiddel.
Martelize het genoem dat nie almal toegang tot die internet het nie en vir baie mense is radioprogramme die enigste plek waar hulle onder meer hoor wat die jongste Sassa-inligting is, en waar hulle moet gaan stem.
“Radio is vandag amper sterker as wat dit vroeër was,” was haar woorde.
Lynden Jafta van Paarl FM het vertel hoe hy sy droom om ’n gemeenskapsradiostasie te begin, bewaarheid het. Hy het oor radio se uitdagings gesels en hoe radio se onmiddellikheid die medium bevoordeel. Hy het ook vertel hoe sy span sosiale media tydens die Covid-pandemie benut het en hoe die radiostasie vandag nog op verskeie platforms werk.
“’n Mens moet alle geleenthede aangryp, want radio kan nie agterbly nie. Die krag van radio sal bly, maar ons moet by tegnologiese veranderinge aanpas,” het hy vertel.
Martelize het self ook vertel hoe hulle dieselfde by RSG doen en verskeie platforms benut. Een daarvan is Bekbasaar, ’n nuwe RSG-platform waar potgooie beskikbaar is.
“’n Mens moet voorbly. Dis moeilik, maar dis ook opwindend,” meen sy.
Crystal het benadruk dat Afrikaans beslis nie doodgaan nie, maar dit is ook nodig om ruimte te skep vir nuwe stories wat vertel word, mense wat verskillend praat en anders lyk.
“Maak die spreekwoordelike sirkel groter,” was haar raad.
En met al die praat van ’n blink toekoms vir radio, is die aand afgesluit met ’n jong sanger wat self ’n blink toekoms het. Selby Williams, voormalige deelnemer aan die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram, het sy splinternuwe enkelsnit gesing en só gewys watter talent daar in Afrikaans bestaan. Die snit sal binnekort op Selby se platforms beskikbaar wees.
Het jy geweet?
Die Vriende van Afrikaans (VVA) is ’n groep mense wat vir Afrikaans werk en die vereniging is in 1994 op Stellenbosch gestig. Die VVA het in 2014 deel geword van die ATKV en die organisasie se vlagskipprojek is hul boektrommelprojek vir laerskole en kleuterskole, en hul Koop ’n Afrikaanse boek-dag, wat vanjaar sy 21ste verjaardag gevier het. Hul nuusbrief en voorleesprojek is ook baie bekend.
Kontak gerus vir Chareldine van der Merwe by chareldinev@vva.atkv.org.za of Shireen Crotz by shireenc@atkv.org.za vir meer inligting.
- Hou die VVA se Facebook-blad dop vir meer inligting oor die Ommietafelgesprek.
- Wees op die uitkyk vir Selby se nuwe enkelsnit op Instagram.