‘Onbeskryflike genade’: Skokkend, diep persoonlik
Stefaans Coetzee was net 19 jaar oud toe hy ’n bom geplant by die Shoprite-winkelsentrum in Worcester – ’n bom wat die lewens van vier mense sou beëindig. Stefaans is tot 40 jaar tronkstraf gevonnis vir hierdie misdaad en is in 2015 op parool vrygelaat.
Sy boek, Onbeskryflike genade, haal nie net dié lewensveranderende gebeure op nie, maar is ook ’n verhaal van hoop, genade en tweede kanse.
Trisa Hugo deel haar indrukke van Onbeskryflike genade in hierdie resensie.
***
’n Paar jaar gelede het ’n (gewese) vriend my ’n snaakse vraag gevra, ietwat persoonlik. Hy wou weet hoe sien ek my man nou, vergeleke met 20 jaar gelede. Ek het eerlik geantwoord: Hy het in alle opsigte gegroei, beter en wyser geword. (Gewese) vriend het my ingevlieg van ’n kant af – wil ek dus sê my man was ’n slegte mens 20 jaar gelede? Niks wat ek gesê het, kon hom oortuig dat ek dit as ’n kompliment bedoel het nie.
Dit was vir my iets om oor na te dink: Dat ’n mens iemand moet sien in terme van wat jy nóú beleef. Dat dit wat in die verlede is, agter jou lê en enige skaduwees agtertoe val as jy self in die lig staan. Daarom het ek Stefaans Coetzee se Onbeskryflike genade vanuit hierdie perspektief benader.
Die dag toe Stefaans my voordeurklokkie gelui het, het ek ’n sagtheid om hom gevoel, eerder as gesien. Daardie tipe sagtheid in iemand se energie waarvan jy wéét, wat jy voel en beleef, het ek vantevore ervaar toe ek dokter Emanuel Taban by my ma se sterfbed sien staan het. Daardie energie is die tipe grootsheid wat meer is as wat woorde kan beskryf. Jy beleef dit met jou hele wese.
Hoe resenseer jy iemand se lewensverhaal sonder om te oordeel?
Tydens die lees van die boek het ek my notas versigtig gemaak. Ek het uitgestel, want dit is skokkende leesstof, heeltemal in teenstelling met die mens Stefaans Coetzee wat ek leer ken het. Dis moeilik om die (geskiedkundige) woede met sy liefde te versoen, tog is woede menslik – ons almal ervaar dit. Dis egter te verstane dat hy sy donkertes nou skerper bevraagteken as ander mense. So ook die behoefte aan erkenning en aanvaarding wat hy skerp bekyk. Verantwoordelikheid neem vir jou keuses sonder om die skuld te verskuif, om vry te vrees, aanpassing, en die vrede wat tevredenheid bring, is alles aspekte waaroor Coetzee besin.
Dit is ’n verhaal van selfontdekking en spirituele soeke en daar is dwarsdeur die boek ’n duidelike strewe na verlossing en bevryding. Soms is dit wat die meeste mense as vanselfsprekend ervaar iets wat ander as ’n lewensdoel stel. Om deel te wees van ’n liefdevolle gesinstruktuur. Om ’n man en ’n pa te wees. Die gedagte aan ’n familie en ’n nageslag het hom staande gehou.
Onbeskryflike genade belig die skokkende en diep persoonlike aspekte van Coetzee se lewe en bied insig oor sy pad na selfverwesenliking en selfvergifnis.
Coetzee is uiters belese. Deurgaans word sy kennis van ’n wye verskeidenheid skrywers en boeke geïllustreer, en hy pas die filosofie van skrywers toe in sy denke. Hierdie liefde vir die woord het hom deur moeilike tye staande gehou.
Die aanbieding van die verhaal word nie streng chronologies gestruktureer nie. Hierdie nie-lineêre benadering skep ’n ryker konteks vir sy geestelike en persoonlike groei.
Die boek sal nie net spreek tot diegene wat belangstel in persoonlike verhale van deursettingsvermoë nie, maar ook tot dié wat geïnteresseerd is in die soeke na dieper betekenis en die rol van liefde, ’n familielewe en geloof in ons menslikheid. Die selfinsig waaroor daar in hierdie boek gelees word, die eerlikheid waarmee Coetzee homself bekyk en soms kruisig en die gewilligheid om te verander, dui op ’n mens wat sy lewenspad stap met elke klip en hindernis daarin ingebou.
Onbeskryflike genade stel Stefaans Coetzee voor as ’n deelnemer aan ’n groter geestelike gesprek wat ons almal aangaan, of ons gelowig is, of nie.
Lees ook die artikel van Stefaans Coetzee in die nuutste Taalgenoot: https://atkv.org.za/taalgenoot/ of klik hier.