Ondersteun Loslitdag op 2 September saam met die ATKV en die NRPG

September is om die draai en dit beteken een ding: Loslitdag, Suid-Afrika se toonaangewende fondsinsameling- en bewusmakingsprojek vir mense met gestremdhede.
Dié dag word jaarliks sedert 1995 op die eerste Vrydag van September gevier. Vanjaar snoer die ATKV en die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG) kragte saam om ’n verskil te maak en nooi alle ATKV-takke uit om dit op 2 September saam met hulle te doen.
Elda Kruger, bestuurder: ATKV takke, sê: “Ten einde ’n verskil te maak, het ons dit goed gedink om hande te vat met die NRPG en saam, as ATKV-takke regoor die land, in vennootskap met die NRPG ’n wesenlike verskil te maak in mense se lewens. Die takke is die ATKV se hande, voete en hartklop in gemeenskappe en ons het gedink om hierdie inisiatief van loslitdag gebruik as ’n projek om takke regoor die land en Namibië saam te span om fondse vir twee spesifieke projekte van die NRPG in te samel.”
Elda daag ATKV-takke uit om agente van hoop te wees en plakkers vir hierdie doel te verkoop. Die plakkers kos R20 elk, waarvan die ATKV R8 terugkry. “Ons het besluit om die totaal van al die R8’e te ewenaar en terug te gee aan die NRPG. Ons sal by die Kultuurkuier (16 tot 18 Augustus by Klein-Kariba) die tak aankondig wat die meeste plakkers verkoop het, en hierdie tak sal R5 000 kontant ontvang, om terug te ploeg in projekte in die tak se plaaslike gemeenskap,” sê Elda. Die twee projekte waarvoor fondse ingesamel word, is die NRPG se voedings- en voedselverspreidingsprogram, asook werkskeppingsprojekte.
Voedings- en voedselverspreidingsprogram
Voor 2020 (en die COVID-19 pandemie) het die NRPG slegs op sosiale en ekonomiese bemagtiging, en voorspraakprojekte gefokus. Dit word steeds gedoen en sluit beide stedelike en landelike gebiede in. Verskeie teikengroepe word betrek, soos kinders, kinders met gestremdheid se ouers, jeugprojekte en baie ander.
In 2020 het baie spesiale skole asook sentrums vir kinders en volwassenes met gestremdheid net eenvoudig oornag gesluit. Hierdie mense moes huis toe gaan en is selfs van die enigste bietjie kos wat hulle gewoonlik by so ‘n dagsentrum of skool gekry het, ontneem. Oornagfasiliteite se borge het verdwyn en almal het baie min of geen kos gehad nie.
Terwyl die ergste inperking tydens die pandemie van krag was, moes die NRPG skarrel om kos te soek en ook maniere vind om dit op ’n kostedoeltreffende manier te versprei. “Gelukkig was hul pogings suksesvol en kon hul met groot moeite en baie hulp vir baie mense kosgee,” sê Elda.
Die beplanning was om hiermee aan te hou tot na afloop van die inperking, maar die werklikheid was uiteindelik heeltemal anders. “Soveel mense met gestremdheid asook entrepreneurs wat deur die NRPG in diens geplaas is of gehelp is om besighede te begin, het hul werk en inkomste verloor. Daar is nou meer mense wat kos nodig het as voor die pandemie. Pogings word steeds aangewend om mense te help om weer ekonomies aktief te raak. Vir hierdie doel, bied die NRPG werkswinkels vir spesiale skole en tehuise aan en doen fondsinsamelings. Maar intussen moet hulle steeds voedsel voorsien, want projekte soos byvoorbeeld groentetuine neem lank om van die grond af te kom en terwyl hulle mense help om solank die spreekwoordelike vis te vang, moet dié mense steeds gehelp word om te oorleef,” verduidelik Elda.
Werkskeppingsprojekte
Die NRPG is reeds vir 30 jaar besig om – gelyklopend met talle ander projekte – ook landswyd werkskeppingsprojekte te begin of te ondersteun.
Hierdie projekte sluit onder andere in die maak van pragtige items vir binnehuisversiering, hoë gehalte kralewerk, herwinning en mosaïekwerk. Een van die gewildste werkskeppingsprojekte is die groentetuinprojek.
As deel van die NRPG se ekonomiese bemagtigingsprogram, probeer hulle altyd eers om vir ’n persoon ’n formele werk te kry of te help met entrepeneurskap. Ongelukkig is dit so dat baie mense nie in enige van die bestaande programme gehelp kan word nie – as gevolg van faktore soos die aard van die persoon se gestremdheid of gebrek aan skoolopleiding. Dit is hierdie persone wat met werkskeppingsprojekte gehelp word. Hierdie projekte word deur die NRPG self of deur ’n niewinsgewende organisasie in hulle netwerk bestuur. Dit is nie ’n besigheid nie, maar ’n projek.
Soms gebeur dit tog dat ’n persoon so goed vaar in ’n werkskeppingsprojek dat hy of sy wel in ’n formele werk geplaas kan word.
Elda verduidelik: “Dit is deesdae baie moeiliker as vantevore om borgskappe te kry en ook Lotto-geld is baie skaars. Daarom is die NRPG se mikpunt om in 2022 ook van die inkomste uit Loslitdag vir werkskeppingsprojekte aan te wend.”
Jy en jou tak kan ook woeker en ’n verskil maak om die NRPG te help om ander te help. “Die ATKV-takke dien as verspreidingskanale van die ATKV se visie en missie op voetsoolvlak en ons taklede is aktiewe lede wat daagliks hul hande vuilmaak, ander se harte volmaak en ons hand vat om ons land heel te maak!” sê Elda.