Onnie van (s)taal kry klop op die skouer

Vir drie en ’n half dekades woeker Janet Fouche in haar moedertaal en kweek sy ’n passie vir Afrikaans onder haar leerlinge.
Dié onderwyser van die Hoërskool Waterkloof is deur die ATKV-tak Centurion vereer met ’n klop-op-die-skouer-toekenning vir die 35 jaar wat sy Afrikaans as vak aangebied het.
“Dit is vir my ’n besonderse groot eer om raakgesien te word en om erkenning te kry vir al die harde werk wat ek deur die jare gedoen het. Dit is regtig bevredigend.”
Dit is nie die eerste keer wat sy ’n toekenning ontvang nie.
Janet het al weggestap met die Nederlandse ambassadeprys en die J.C. Steyn-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap.
“Dit is altyd lekker om erkenning te ontvang en die ATKV se toekenning kom op die regte tyd. Dit is ’n goeie manier om my loopbaan af te sluit.”
Janet was tot verlede jaar departementshoof vir Afrikaans by die Hoërskool Waterkloof.
Janet se passie en liefde vir die Afrikaanse taal is duidelik as jy kyk na haar matriekleerders se gemiddelde slaagsyfer vir Afrikaans.
“Ons het verlede jaar ’n gemiddelde slaagsyfer van 72% gehad en in al my jare was daar nog nie ’n enkele druipeling nie.”
Sy sê sy kyk met verwondering terug na die drie dekades van skool gee.
“Daar is baie goeie herinneringe en mylpale wat ek bereik het. Ek was vir vyf jaar die nasionale eksaminator vir Afrikaans. Ek het gehelp om Afrikaanse vraestelle in Gauteng te standaardiseer en vir ’n dekade was ek die hoofnasiener en interne moderator vir die Gautengse departement van onderwys.”
Janet het ook haar meestersgraad in Afrikaans verwerf.
Sy sê sy gaan nou haar aftrede geniet, maar gaan steeds betrokke wees by winterskole.
“Ek het nou bereik wat ek wou en ek sien uit na die ruskans wat ek gegun word. Ek kyk steeds met blye herinneringe terug na my tyd as Afrikaansonderwyseres.”