Ons erfenis leef!
Sy was nie opgewonde om ’n standbeeld in die skoolkonsert te wees nie, maar deur die rol van Jan van Riebeeck se stomme betonstandbeeldvrou te speel, is daar ’n lewende erfenis aan haar oorgedra, onthou Zerelda Esterhuizen. Wat is lewende erfenis en hoe bewaar die ATKV dit?
My ster het helaas nie op die verhoog geskitter nie en dit was ook nie die begin van ’n veelbewoë toneelloopbaan waar ek eers op 7de Laan verskyn voor ek op die KKNK se verhoë beland het nie. Nee. Ek het die rol van ’n standbeeld in my eerste skoolkonsert gespeel en moes vir ’n lang ruk botstil staan terwyl die ander kinders gepraat, gesing en gejil het. Dit was ook nie ’n grap om vir so lank stil te staan nie, hoor! Dit het toneelkuns geverg.
Ek moet wel bieg dat ek nie na Juffrou geluister het en my oë stip voor my gerig gehou het nie. Nee wat, ek het die gehoor omtrent bekyk en na my ma gesoek, wat alte trots was op die beste standbeeld wat sy nog gesien het.
Hoekom onthou ek dit nou? Wel, dit was net een manier hoe die Afrikaanse kultuur en taal in my kinderjare gevier is, want dié konsert het die storie van Afrikaans se ontstaan vertel. Die stories wat ons van kleintyd af oor Dirkie Uys en die arme Racheltjie de Beer aangehoor het, die volkspele in die saal, die Saterdagmiddag-braaivleis, kerkbasaars en die Afrikaanse liedjies wat ons gesing het, was alles maniere hoe ons lewende erfenis aan ons oorgedra is.
Wat is lewende erfenis?
Dit is die grondslag van ons gemeenskappe en dis die bron van ons identiteit, sê die Suid-Afrikaanse departement van sport, kuns en kultuur. Dis die bron wat van jou ’n Afrikaanssprekende maak.
Lewende erfenis is die tradisies en gebruike wat oorgedra word, mondelinge geskiedenis, vertonings, rituele, tegnieke en vaardighede, drama, sosiale praktyke, musiek, kuns, en selfs die doilies wat op jou ouma se koffietafel lê.
Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê vir dié organisasie beteken lewende erfenis die voortdurende vier, skep en ontwikkel van bestaande erfenis deur gemeenskappe en groepe.
“Ons organisasie skep geleenthede en volhoubare platforms vir Afrikaanssprekendes om hul erfenis te vier en in die proses lewende erfenis te ontdek en te dokumenteer. Dié aktiwiteite word regdeur die jaar aangebied – nie net in Erfenismaand nie.”
Gerrie sê dis al amper ’n eeu sedert hul ontstaan in 1930 en die ATKV is steeds sinoniem met die Afrikaanse taal.
“Ons organisasie, sy honderde takke en duisende lede landswyd en in Namibië woeker om nie net ons taal te laat voortleef nie, maar ook om Afrikaanse erfenis te beskerm.
“Ons besef maar te deeglik watter groot rol lewende erfenis speel in die ontwikkeling en vooruitgang van ’n nasie, want dit gee betekenis en waarde aan Afrikaanse erfenis, verryk mense se lewe en beïnvloed ons denke. Erfenisbewaring en die skep van ’n lewende erfenis bemagtig gemeenskappe. Die ATKV maak al baie jare deur middel van sy projekte en aktiwiteite seker dat erfenis van geslag tot geslag oorgedra word,” vertel hy.
Gerrie noem dat ons in Suid-Afrika met al sy uitdagings dit nodiger as ooit tevore het om mekaar se stories te hoor, te sien en te voel, want daardeur kry “ons meer begrip vir mekaar se lewe en situasies en hoor ons uiteindelik ook mekaar se harte”.
Hy sê voorts beskerm die ATKV Afrikaanse erfenis deur die aanbied van nasionale en takprojekte. ATKV-projekte wat spesifiek fokus op erfenisbewaring en lewende erfenis is ATKV-Rieldans, rielmusiek, ATKV-Crescendo, storievertelgeleenthede, naelstringlesings (oor familiegeskiedenis) en Karoo Kaarte, en ’n plaaskorekompetisie in samewerking met die Suidoosterfees.
’n Paar ATKV-projekte wat erfenis uitbou
ATKV-Applous: Dit is die ATKV se koorkompetisie en is die oudste van sy soort in Suid-Afrika. Die kompetisie is op skoolkore gerig, word ook in Namibië aangebied en is vanjaar 46 jaar oud.
ATKV-Crescendo: Hierdie kompetisie wat musiektalent identifiseer, het al vir menige Afrikaanse sanger ’n deurbraak in die mark beteken. ATKV-Crescendo word in 2024 50 jaar oud!
ATKV-Debat- en -Redenaarskompetisies: Die kompetisies word jaarliks aangebied en bied aan skoolkinders ’n platform om in Afrikaans te redeneer en te debatteer.
ATKV-Woordveertjies: Die kompetisie bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
Karoo Kaarte: Die projek het vroeër vanjaar by die 26ste KKNK plaasgevind en het meer as 300 inwoners van Oudtshoorn betrek. Karoo Kaarte het onder meer uit ’n teaterproduksie, ’n visuele kunsuitstalling en die publikasie van vier tydskrifte bestaan. Die inwoners van Oudtshoorn het verskeie maniere gebruik om inligting oor hul tuisdorp te versamel om stories oor die dorp en sy mense te vertel. Die projek is ook vir ’n Basa-toekenning benoem.
Koop-’n-Afrikaanse-boekdag: Die dag word jaarliks op 14 Augustus gevier en is ’n inisiatief van die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV. Dis vanjaar vir die 19de keer aangebied ter ondersteuning van die Afrikaanse boekbedryf. Vir boekliefhebbers beteken die dag heerlike afslag op Afrikaanse boeke.
RSG-Radiodramaskryfkompetisie: Die ATKV is ook vanjaar die borg van RSG se radiodramaskryfkompetisie. Die kompetisie is al 27 jaar oud.
ATKV-Rieldanskompetisie: Die ATKV se Rieldanskompetisie is ’n uitstekende voorbeeld van erfenis wat lewend gehou word. Die kompetisie het vir die eerste keer op 9 Desember by die amfiteater op die Paarlberg afgeskop. Die kompetisie het allerlei suksesse behaal. Die riel is vandag landwyd in aanvraag by feeste en Suid-Afrikaanse rieldansers het selfs al aan ’n kultuurkompetisie in Los Angeles deelgeneem, waar hulle 13 medaljes verower het.
ATKV-Tienertoneel: Die 59ste ATKV-Tienertoneel is vanjaar gehou met 3 200 tieners wat by agt streeksfeeste opgetree het. Daar was 195 uitstekende produksies op die planke.
Wat sê mense oor hul Afrikaanse erfenis?
Skrywer Elsa Winckler: Ek het op Upington in die jare sestig en sewentig grootgeword. Dit was ’n klein dorpie met net een NG Kerk. Ons het buite op klippe gespeel, baie gelees, naweke in die een van die twee fliekteaters op die dorp gaan fliek en Sondag was man en muis in die kerk.
Die groot sosiale byeenkoms van die jaar was die kerkbasaar – met koeksisters, basaarpoeding, braaivleisgeure in die lug en vrolike mense – so Afrikaans as wat dit kan kom. Die ander groot jaarlikse hoogtepunt was die skou – almal in die dorp was altyd daar.
My ma was ’n groot leser en ons het met storieboeke grootgeword – dit was ’n ontsnapping weg uit ’n alledaagse bestaan na ander wêrelde. Pa kom uit ’n groot familie, hy was die tweede seun van agt kinders en het ’n pragtige stem gehad. Ek het helder kinderherinneringe aan hoe Ouma Lily voor die klavier sit, terwyl Pa, sy broers en susters saamsing. Saans, ná huisgodsdiens, is daar gesing. Liedere wat ’n mens nooit meer hoor nie. Ons groepie skoolvriende het ook dikwels om die klavier uit die FAK-liederebundel sit en sing.
Maar dis die stories uit my kleintyd wat ek altyd saam met my sal dra, soos die spookstories en stories oor die Boereoorlog. Ek glo stories is die manier om sin te maak uit die wêreld rondom ons en ek dink wanneer ons ’n liefde vir lees van veral Afrikaanse stories by ons kinders en kleinkinders kan kweek, kan ons weet hulle sal ’n liefde vir ons taal ontwikkel, iets wat hulle hopelik aan die volgende geslag sal oordra.”
Sanger Jakkie Louw: Dis vir ons baie belangrik om ons Afrikaanse erfenis te vier, want dit is wie ons is. Enige kultuur het ’n herkoms en ons moet altyd trots daarop wees. Ons probeer ook daardie erfenis aan ons kinders oordra. Ons lees ná aandete saam Bybel en gesels oor die les wat ons leer. Ons lees baie Afrikaanse boeke vir ons dogtertjies voor en ek maak stories vir hulle op om hul verbeelding te prikkel. Ons stel hulle selfs bloot aan legendariese Afrikaanse reekse soos Orkney snork nie. Ons is ook baie trots en dankbaar vir die Afrikaanse skool waarin ons dogtertjies is, wat baie moeite met die Afrikaanse taal en ons kultuur doen.
Geldghoeroe en beleggingskenner Elke Brink: Ek het die afgelope paar jaar die voorreg gehad om saam met die RSG-span te werk om luisteraars se beleggingsvrae te beantwoord, en waardeer nou die taal van voor af. As ek aan my Afrikaanse erfenis dink dan onthou ek hoe ek as dogtertjie saam met die seuns leer jag en duiwe vang het. My oupa het my seker al op vyfjarige ouderdom geleer hoe om die korrekte skootplasing op ’n bok te doen. Ek onthou kerk op Sondagoggende was gevolg deur koek en tee in die sonnetjie en dan het my ouers die Rapport gelees. Afrikaanse musiek is by sokkies op skool en later huisdanse op Stellenbosch gespeel. Afrikaans is vir my die woord “lekker”, rugby, biltong en braai.
Afrikaans laat my aan ’n vriendelike, glimlaggende kind dink wat ’n humorsin vir uitdagende tye in die land het en altyd gereed vir ’n braai is!
Skrywer Fanie Viljoen: Ek het baie herinneringe aan hoe lewende erfenis op skool oorgedra is. Ek het toe meer van kuns en kultuur as sport gehou. In die laerskool het ek onder meer volkspele gedoen, kompleet met onderbaadjie en krawat. Ek onthou veral die mooi aand toe die Laerskool Dagbreek verjaar, het ons ’n groot volkspelevertoning op die skool se rugbyveld gegee. Daar was ook talentkompetisies en optredes wat ek geniet het, selfs al is ek nie ’n goeie danser nie!
Wat kan jy doen?
- Nasionale Erfenisdag word jaarliks op 24 September Doen iets op daardie dag om jou erfenis te vier.
- Raak betrokke by die aktiwiteite in jou gemeenskap. Die ATKV-takke bied op ’n georganiseerde manier vir mense ’n geleentheid om hul erfenis te bewaar en te geniet.
- As jy kan brei of hekel, probeer om iemand anders te leer sodat hulle ook daardie vaardighede kan aanleer.
- Ondersteun sangers en skrywers wat in jou taal skryf of sing.
- Bederf jou mense met tradisionele kos en leer sommer vir die res van jou gesin hoe om dit te maak.
- Deel stories en herinneringe uit jou kinderdae met jou gesin.
- Vertel vir jou kinders volkstories, soos dié van Wolraad Woltemade.
- Speel “outydse” speletjies saam met kinders, of hou boeresport.
- Besoek museums en monumente wat vir jou kultuur belangrik is.