Oos-Kaapse jeugtak laat hul stem oor klimaat hoor by COP27

Die sleutel tot ’n gemeenskap wat saamstaan om ’n volhoubare, positiewe impak op die omgewing te hê, is opvoeding – daarsonder kan aksie nie geneem word om klimaatsverandering te stuit nie. Volgens die webwerf, runningoutoftime.com, wat geskep is om mense wêreldwyd bewus te maak van die dringendheid om klimaatsverandering te verstadig en te keer, is kwaliteit-klimaatsopvoeding kritiek as ons mense van alle ouderdomme en oraloor wil toerus met kennis en vaardighede om ’n toekoms te bou waarin ons almal kan gedy.
Die St Colmcille Sekondêre Skool in Kirkwood in die Oos-Kaap is sedert 2018 ’n sogenaamde Eco-skool. Die skool is ook geregistreer by WESSA. Hulle het tans goue status danksy al die volhoubare doelwitte wat hulle tot dusver bereik het. Volgens die voog van die ATKV Jeugtak-Veritas, Eileen Watson, is dié skool ook deel van die Global Classroom-projek saam met lande soos Ierland, Kenia, Dubai en Denemarke. “WESSA het ons skool gekies om deel van ’n internasionale studie te wees oor hoe verskillende skole oor die wêreld die Eco-program bestuur. Elf skole uit vier provinsies in ons land was deel van hierdie ondersoek, insluitend St Colmcille Sekondêre Skool,” sê sy.
Eco-skole is ’n wêreldwye skoleprogram wat jongmense aanmoedig om op ’n sinvolle wyse interaksie met hul omgewing te hê deur aktiewe deelname aan programme en projekte om die omgewing te beskerm. Kennisvaslegging begin in die klaskamer en brei uit na die skoolgemeenskap en uiteindelik na die gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Deur hierdie program kry jongmense die geleentheid om insae te hê in hul skool se omgewingsbestuurbeleide. Dit is ’n manier om ’n betekenisvolle impak op die omgewing te hê, maar ook ’n blywende indruk te maak op die kinders se lewens, hul familie, die onderwysers en plaaslike owerhede.
Me. Carine Lombard, ’n onderwyseres by die St Colmcille Sekondêre Skool, dryf die program met passie. Die internasionale studie het behels dat ’n doktorale student van Swede, Linus Bylund, die skool besoek het en onderhoude met leerders en onderwysers gevoer het. Deel van sy studie is om lande wat minderbevoorreg is te vergelyk met meer bevoorregte lande. “Hy is beïndruk met ons skool in vergelyking met ander skole wat in erge sosio-ekonomiese toestande is, wat nie met dieselfde passie hul Eco-projekte dryf nie. Ons Eco-bestuurder, Carine, en haar span het ’n absolute passie vir die omgewing. Hy wou ook weet of ons ondersteuning vanaf WESSA ontvang en watter doelwitte ons skool bereik het. Ons het met ons eerste jaar op skoolgronde gefokus en hoe om ons skool netjies te hou. Herwinning was deel hiervan. ‘Globale burgers’ is ook ’n tema wat goed by ons aangesluit het, en ons het ’n suksesvolle Geen geweld teen vroue-veldtog gehou – projekte wat uniek aan ons leerders se omstandighede is.
“Al is ons ’n geen-fooi-skool, is ons steeds in staat om die Eco-program ten volle te bestuur. Omdat ons skool omring is deur die natuur is biodiversiteit beslis een van die doelwitte wat ons bestuur. Ons skool het ook ’n vleiland en die student was in sy element met die diversiteit waarmee ons die Eco-program toepas,” sê Eileen.
“Ons nasietrots op die onderhouddag self het Linus verras. Omdat dit in September was, het ons ’n lekker tradisionele verwelkoming gegee ter viering van Erfenismaand. Ons skool is ook gekies om ’n klimaatsveranderingboodskap aan die Verenigde Nasies te gee. Die Running Out of Time-tema word in die formaat van ’n afloswedstryd regoor die wêreld gehardloop.
Eileen sê trots, “Hierdie jaar se konferensie oor klimaatsverandering (COP27) word in Egipte gehou, en St Colmcille is een van die skole wat hul hul boodskap gaan deel met wêreldleiers. Cindy-Lee Cloete, algemene bestuurder by WESSA, gaan persoonlik ons boodskap oorhandig.”
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.