‘Op pad na Grysberg’: Saamspanboek is lees werd
Vir M is die wêreld grys. Sy bevind haar in ’n distopiese land sonder kleur, sonder water en sonder mense wat omgee. Haar man is ’n gewetenlose nikswerd, en haar seun, Benji, het reeds geruime tyd gelede klaarblyklik die pad gevat. M neem aan dis om die utopiese wêreld, Xanavu, waaroor mense fluister, by Grysberg te gaan soek.
Só begin hierdie verhaal, wat deur 22 skrywers geskryf is en saamgestel is deur Stefaans Coetzee. Elsa Winckler en Didi Potgieter, wat onderskeidelik die eerste twee hoofstukke skryf, vang die leser vas met hierdie fondament waarop daaropvolgende skrywers moet bou. Daarna lewer nog ’n klomp bekende Afrikaanse skrywers hul bydraes en dit is eintlik onmoontlik om enige skrywers of hoofstukke uit te sonder. Die storielyn is beplan deur Constant van Graan en elke skrywer het ’n kort opdrag gekry oor wat in hul hoofstukke moes gebeur.
Wat uitstaan, is dat dit ’n distopiese verhaal is, maar sonder die oordrewe wreedheid wat dié genre soms kenmerk. Daar is wel genoeg intrige en ’n skoot wreedheid, maar dit word meer gesuggereer, sonder te veel koppe wat rol en bloed wat spuit. Selfs lesers wat nie van die genre hou nie, geniet hierdie boek.
In die meeste hoofstukke word die storie vorentoe getrek, en dit was moontlik die grootste uitdaging wat só ’n projek van die skrywers geverg het. Die skrywers kon die hoofstukke voor hul eie lees, maar niemand het geweet wat daarna kom nie. Elke hoofstuk moes bou op ’n vorige een, maar ook vastrapplek bied vir die volgende skrywer om weer die spanningslyn styf te trek, of te laat skiet, waar nodig. Die gevolg is ’n roman wat ’n mens moeilik neersit.
Dit bring ons by die einde – die kontroversiële laaste hoofstuk, geskryf deur Kerneels Breytenbach. ’n Einde wat die meeste lesers dalk óf gaan haat, óf waaroor hulle mal gaan wees. Dis moeilik om oor die einde te skryf sonder om dit weg te gee. Onlangse gebeure in die wêreld gee dit konteks, maar sommige lesers mag dalk effens gekul voel, hoewel ander sal voel dat dit vir hulle werk. Hoe dit ook al sy, die leser gaan tot aan die einde moet lees om te weet – en Op pad na Grysberg is die lees werd. Dit is ’n goeie idee wat goed uitgevoer is.
Resensent: Analize Viljoen