Ossewaens van Groot Trek-museum kry nuwe lewe

Erfenis lê die bekende wetenskaplike prof. Erik Holm (80), skrywer van die trefferboek Die ossewa en sy spore, besonder na aan die hart. Hy restoureer al dekades lank ossewaens.
Aangesien die ATKV graag in lewende erfenis belê, is Erik gevra om restourasiewerk aan die ossewaens by Die Groot Trek-museum by ATKV-Hartenbos te doen.
Hy het hom nie twee keer laat nooi nie.
Gaan kuier ’n mens vir hom bo-op die berg op Saartjiesnek in Hartbeespoort, is sy erf een groot ossewalaer, terwyl sy span werkers fluks kap, bou en skaaf. Sy hande staan vir niks verkeerd nie en hy spring self ook in – veral met die afrondingswerk.
“Die Groot Trek-museum is ’n wonderlike plek. Hulle beskik nog oor een van die waens wat aan die eerste gedenktrek deelgeneem het en spesiaal deur ’n toentertydse wamaker gebou is,” sê Erik.
“Dis werklik ’n aanskoulike museum waar ’n hele aantal rytuie uit dié tydperk ook besigtig kan word – soos ’n bokwa, ’n skotskar en verskeie gebruiksartikels.”
Erik, wat as “die professor met die werkershande” beskryf is, praat met groot lof van sy span werkers, asook van sy skoondogter, Colleen, wat met sy seun Erik Holm junior van Binnelanders-faam getroud is. Hoewel sy werkers ’n groot aanwins is, is daar sekere werk wat hy self doen.
“Colleen beskik oor buitengewone kunstalent en doen die beskildering van die ossewaens wat met die vryhand gedoen moet word. Ek is so beïndruk met haar skilderwerk, want daarmee kan sy alles na hul eertydse glorie herstel.
“In die museum by Hartenbos kan ’n mens gevegstonele en al die voorwerpe en meubels wat uit daardie tyd gebruik is, sien. Dit is byna soos ’n monument en kry groot aftrek by besoekers.”
As alles afgehandel is, sleep Erik ’n hele ossewa op ’n sleepwa met sy bakkie Hartenbos toe.
“Ek gaan haal dikwels self die ossewaens en as die restourasiewerk voltooi is, neem ek dit weer terug. Ek doen dit self omdat ek wil sien hoe dit in die museum lyk.”
Hy is hoogs beïndruk met Die Groot Trek-museum wat klein begin het.
“Ek is baie lief vir museums, want ek weet hier gaan dit bewaar word,” sê hy.
Die restourasiewerk waarop hy tot dusver die trotsste is, is die museumwerk wat hy by Lichtenburg gedoen het, waar die museum afgebrand het. Daar was byvoorbeeld ’n verewaentjie waarmee genl. Koos de la Rey oorlog toe gery het en sy vrou, Nonnie, se spaaider.
“Ek het die los ysterstukke opgebou en die volledig herboude voertuie van die De la Reys is nou by die monument.
“Die enigste kakebeenwa afkomstig van Bloedrivier wat een van die oudstes en bestes is, staan in die senotaaf by die Voortrekkermonument. ’n Kakebeenwa is ’n wonderlike ding, want niemand waag dit om daaraan te raak nie. Hy is ook ten volle gerestoureer – beskilder en al.”
Daar is ook items soos kanonwiele van die groot kanonne voor die Uniegebou wat Erik gebou het. Hierdie kanonne is tydens die Eerste Wêreldoorlog van die Duitse skip, Konigsberg in Kenia na Suid-Afrika verskeep.
Erik het destyds Die Ring Ossewa-herberg begin en kry heelwat werk van privaatversamelaars van ossewaens wat laers wil bou. Hy is tans besig met ’n derde ossewalaer wat hy vir kliënte bou. Een staan net buite Orania.
Hy vertel dat baie van sy kliënte Engelssprekend is en sukkel deur sy Afrikaanse ossewaboek waarvan talle woorde – soos die osse se name – eenvoudig nie vertaal kan word nie.
Intussen word die waglys vir ossewaens by hom al langer.