Otto Stigting kry kinders aan die lees, wen ’n Woordveertjie
Vir die Otto Stigting is dit belangrik om die jeug aan die lees te kry, want lees vorm ’n kritieke hoeksteen in leerders se opvoedkundige sukses.
Dié organisasie wat talle biblioteekprogramme in voorheen benadeelde gemeenskappe bestuur, het vir sy wonderlike werk ’n ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering gewen.
Die ATKV-Woordveertjies bekroon uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord met ’n verskeidenheid van toekennings vir skeppende werk in Afrikaans.
Die laaste paar jaar word daar as deel van die ATKV-Woordveertjietoekennings ook erkenning gegee aan ’n organisasie wat ’n bydrae maak tot die bevordering van lees.
“Die toekenning gee vir ons ’n geleentheid om ons werk met ’n breër gehoor te deel, en om bewustheid te skep rondom die belangrikheid van leesgenot,” sê Frouwien Bosman, besturende direkteur van die Otto Stigting.
Volgens haar is die volhoubaarheid van hulle projekte en aktiwiteite afhanklik van eksterne donateurs.
“Ons hoop dus ook dat die erkenning en blootstelling wat die ATKV-Woordveertjie vir die Otto Stigting gee, ander organisasies en finansiers sal aanmoedig om in die toekoms saam met ons te werk.”
Die organisasie het sedert 2016 drie skoolbiblioteke in Distrik Ses in Kaapstad gevestig.
“Die Otto Stigting fokus op die daarstelling en bestuur van biblioteke, en die implementering van leesprogramme. Ons glo dat die fondament van ’n kind se skoolloopbaan sy vermoë is om met begrip te kan lees. Kinders moet kan lees om te leer.”
Frouwein sê hulle beoog om oor die volgende vyf jaar elke jaar ’n nuwe biblioteek by hulle netwerk te voeg.
“Elke biblioteek het ’n permanente assistent wat gesamentlik deur die skole en die Otto Stigting finansier word.”
Elke biblioteek het ’n wye verskeidenheid van leesmateriaal met ’n fokus op plaaslike literatuur en boeke wat spreek tot die leefwêreld van ’n leerder.
“Ons het ook weeklikse biblioteeklesse vir alle leerders en gereelde voorlesings deur plaaslike skrywers.”
Volgens Frouwien bied hulle ook programme aan om leerders aan te moedig om hulself op ’n skeppende wyse uit te druk.
“Dit sluit skryfkompetisies, inkleur- en tekenkompetisies in. Ons het ook ’n biblioteekposbusprojek waar leerders uit verskillende skole met mekaar kan korrespondeer.
“Ons plaas ook sterk klem op die ontwerp van ons biblioteekruimtes en doen moeite om seker te maak dat dit ’n kindervriendelike omgewing is wat kreatiwiteit, speelsheid en nuuskierigheid aanmoedig.”
* Die Prys vir Liefdesroman en Prys vir Romanses word môre (15 September 2021) om 09:00 op die ATKV se Facebookblad bekendgemaak.