Passievolle jonges slaan dubbele slag vir ATKV-jeugtakke
Dit reën ATKV-jeugtakke in die Sentraal-Karoo!
Daar was verlede week groot opgewondenheid in die Noord-Kaapse dorp Victoria-Wes toe twee splinternuwe takke, die ATKV-jeugtak Die Oewer en die ATKV-jeugtak Die Vuurvonkies, op die been gebring is.
Leerlinge van die Victoria-Wes Gekombineerde Skool en die Hoërskool Victoria-Wes het ondanks die skoolvakansie in hul skoolklere opgeruk om die stigting te vier, waarna die onderskeie takbesture na afloop van die amptelike verrigtinge ’n heerlike middagete by ’n plaaslike koshuis geniet het.
Volgens Darryl Baadjies, die takvoog van die ATKV-jeugtak Die Oewer en ’n onderwyser aan die Hoërskool Victoria-Wes, sien die takke daarna uit om ’n bate vir die dorp te wees.
“Die kinders wil ’n verskil maak,” sê Darryl.
“Die twee skole geniet ’n baie goeie verhouding, dus is die twee jeugtakke ook gretig om saam met mekaar te werk.”
Maar dit gaan uiteraard nie net oor watter bydrae die nuwe takke vir die dorp kan lewer nie, maar ook die voordele wat dit vir die jong lede inhou.
“Ons wil geleenthede vir die kinders skep om hulle uit te leef en hulself te geniet, veral wat die Afrikaanse taal en kultuur betref,” sê Darryl.
Darryl sê nog ’n onderwyser, sy kollega Olive Golden, was verantwoordelik vir die idee om die jeugtakke op die been te bring.
“Olive het vir mnr. (Brandon) Erasmus (die ATKV-takvoorsitter in Victoria-Wes) genader en gesê dat ons twee nuwe jeugtakke wil stig,” sê hy.
“Die res het daarvandaan gebeur. Ek was nog altyd ’n voorstander van Afrikaans en ek is ’n Afrikaansonderwyser, dus het dit vir my eenvoudig sin gemaak om betrokke te raak en ’n bydrae te lewer.”
Baadjies sê hulle grootste uitdaging is om van hier af uit te brei.
“Nou moet ons skouer aan die wiel sit om ander kinders betrokke te kry. Die onlangse Karoo-toneelfees (waaroor daar later berig sal word) het baie daarmee gehelp,” sê hy.
Volgens Jaco Spies, streeksbestuurder van die ATKV se takke in die Noord- en Oos-Kaap, kan die jeug in Victoria-Wes nou die geleentheid aangryp om hulself te bemagtig.
“Die gemeenskap van Victoria-Wes word uiteraard deur verskeie maatskaplike en sosio-ekonomiese kwessies in die gesig gestaar,” sê Jaco.
“Die stigting van die nuwe jeugtakke bied aan die jeug van dié dorp die geleentheid om hulself te laat geld en ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak.”
Brandon, wat ook as voorsitter van die onlangse suksesvolle Karoo-toneelfees gedien het, sê hy is opgewonde oor die positiewe impak wat die nuwe jeugtakke op Victoria-Wes kan hê.
“Ek glo dat al die innoverende projekte wat die twee jeugtakke in die toekoms in die dorp van stapel sal stuur ’n daadwerklike verandering in die lewens van die jongklomp in die dorp teweeg sal bring,” sê hy.
“Die lede van die jeugtak het van meet af aan ’n leierskapsrol om te vervul, wat uiteraard ’n verantwoordelikheid op elke een van hulle plaas. Daarom sal hulle elkeen ’n sin van selfstandigheid begin ontwikkel.
“Die jeug van vandag is veerkragtig en die leiers van die toekoms. Die feit dat hulle hierdie takke saam met ons op die been bring, is ’n duidelike aanduiding dat hulle agente vir positiewe verandering is.”
So, wat kan Victoria-Wes van die jeugtakke verwag?
“Veerkragtige, dinamiese, doelgerigte jongmense wat die dorpie en haar inwoners in ’n positiewe rigting sal stuur,” sê Brandon.
“Die dorp gaan onder leiding van die ATKV-jeugtakke Die Oewer en Die Vuurvonkies ’n metamorfose ondergaan deur middel van taal- en kultuurprojekte, wat soveel ontwikkeling gaan bied.”
Elda Kruger, algemene bestuurder van ATKV-takke, verskaf meer besonderhede oor wat die takke en doelwitte van die jeugtakke is en hoe ’n mens te werk gaan om een te stig.
“Die idee van ’n jeugtak is om ’n geleentheid, platform en struktuur te skep vir ons jongmense om ’n verskil te maak in hul skool- en dorpsgemeenskappe, met die ATKV in ’n ondersteunende rol,” sê Elda.
“Die jeug is ons toekoms en ons wil graag ons leerders bemagtig om van jongs af agente van verandering te wees en self ’n veranderende rol te speel waar hulle hulself bevind.
“Só belê hulle in hulle en ons land se toekoms en leef ons leuse van #weesdieverskil uit.
“Ons nooi enige leerder ouer as 13 jaar om ons te nader om ’n ATKV-jeugtak by hul skool te stig. Jongmense met ’n liefde vir Afrikaans, taal, kultuur en gemeenskappe, asook hope energie, is almal welkom.
“Wees gereed vir konstruktiewe pret terwyl jy jou bydrae lewer tot ’n florerende Suid-Afrika!”
Indien leerders wil betrokke raak by ’n ATKV-jeugtak of ’n jeugtak by hul skool wil stig, kan hulle vir Louise Frieslaar ’n e-pos stuur (louisef@atkv.org.za) of by 011 919 9000 skakel.