PEAAT-tak bring vrolikheid met teaterstuk

Daar is ’n soort euforiese gevoel wat jou omvou as jy by die teaterdeure uitstap. Hetsy dit ’n tranetrekker of ’n diep eksistensiële stuk oor die mens se bestaan is, een ding is seker – teater en die kunste het die mag om mense tot stilstand te bring en diep te roer.
Die ATKV-tak PEAAT poog al vir jare om die inwoners van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) se lagspiere te kielie met hulle komedies wat hulle na die hawestad bring. Hierdie jaar maak hulle weer só met Louis de Villiers se produksie Ma skryf matriek.
“Die lewe is reeds te ernstig en vol drama. Ons wil hê mense moet lig en vrolik voel as hulle by die teater uitstap,” sê Emercia de Lange, takvoorsitter.
Volgens haar het hulle juis dié produksie gekies weens die komiese oomblikke en karakters met diepte.
“Baie mense sal hulle met Bella, die hoofkarakter, kan vereenselwig. Sy voer ’n tweestryd, maar toon ook merkwaardige deursettingsvermoë,” sê Emercia, wat ook die rol van Bella vertolk.
Ma skryf matriek handel oor die huisvrou Bella wat keelvol is om daarvan beskuldig te word dat sy nie ’n intellektuele gesprek kan voer nie.
Sy voel daar is net een manier om dit reg te stel – sy moet haar matriek kry. Maar haar man mag nie hiervan te hore kom nie – dit is immers hý wat haar so minderwaardig laat voel.
Sake neem ’n nuwe wending wanneer die aantreklike doktor Smal vir Bella se tuisklasse opdaag. Bella sit met uitdagings om haar daaglikse take saam met al die studies te kombineer. Boonop moet sy nog rekening hou met die nuuskierige buurvrou, Lily.
Louis de Villiers het dié teaterstuk in die 1970’s geskryf en daar is ook ’n gelyknamige rolprent gemaak.
“Louis se werk is tydloos en spreek selfs vandag tot ’n moderne gehoor. Sy kinders het die opvoerregte gratis aan ons geskenk en hulle gaan ook die produksie bywoon.”
Die tak het ook al in die verlede bekende akteurs soos Tobie Cronjé en Albert Maritz gekry om rolle in hulle produksies te vertolk. Vanjaar gaan die akteur Ruan Wessels op die planke te sien wees wanneer hy die rol van Bella se seun vertolk. Hy is veral bekend vir rolle in Binnelanders, Hoofmeisie en meer onlangs, Wyfie.
Ruan sê hy is baie opgewonde om deel van dié teaterstuk te wees.
“Dit is vir my ’n groot voorreg. Stukke soos dié sal altyd relevant wees weens die dinamika van gesinslede. Die gehoor kry die kans om hulle te vereenselwig met die karakters en om eintlik ook vir hulself te lag.”
Ma skryf matriek sal vanaf 15-19 Julie 2025 by die Savoy-teater te sien wees. Kaartjies kan deur Quicket gekoop word by https://www.quicket.co.za/events/313367-ma-skryf-matriek/#/.