Plaasgemeenskap pluk groentetuinprojek se vrugte
Die ATKV-tak Droomdraers het in 2023 ’n groentetuinprojek begin ten bate van die gesinne van die plaaswerkers op die kommersiële plaas Tomahawk in Malelane, Mpumalanga.
Daar woon nagenoeg 50 gesinne op die plaas.
Volgens Magon Mouton, voormalige streeksbestuurder van die ATKV in Mpumalanga en Gauteng, wat sedertdien as bestuurder: Jongvolwassene-ontwikkeling en Innovasie by die ATKV oorgeneem het, was die eerste groentetuin se eerste oes so ’n groot sukses dat die Droomdraers-tak besluit het om die inisiatief na nog ander dele van die plaas uit te brei.
“Die tak, in samewerking met die gesinne op die plaas, werk op ’n rotasiestelsel om die tuine in stand te hou,” sê Magon.
Hulle doelwit is om die tuine verder te laat groei sodat hulle ’n groter impak met hul oeste kan maak. Hulle het sover twee goeie oeste uit die tuine ontvang en was in staat om van die groente van die tweede oes in Desember aan hul plaaslike gemeenskapskliniek te skenk.
“Die sukses van hierdie projek is nie net sigbaar in die groei van die tuine nie, maar ook in die positiewe impak op die gemeenskap. Die families van die plaaswerkers het nou ’n bron van vars, gesonde kos, terwyl die kliniek ook ondersteuning ontvang om die gesondheid van die plaaslike gemeenskap te bevorder.”
Bantu Shongwe, voorsitter van die ATKV-tak Droomdraers, sê die idee vir die groentetuinprojek is uit ’n behoefte gebore.
“Ons lewenskoste styg al hoe meer en kos raak eenvoudig al hoe duurder,” sê Bantu.
“Ons het dus gedink dit is gepas om met ’n groentetuinprojek te begin en die opbrengste te skenk aan diegene wat van groente hou.”
Bantu sê hulle plant vier verskillende gewasse: mielies, spinasie, tamaties en rissiepeper.
“Sodra ons oes, nooi ons enige belangstellendes om vir hulle groente te neem,” sê hy.
“Ons het ook die gesinne op die plaas gemotiveer om met hul eie groentetuine te begin. Ons staan hulle dan by en verskaf ook surplus kunsmis.
“Almal is mal oor die projek omdat dit hulle help om op inkopies te bespaar!”
Magon verduidelik ’n bietjie meer waarom die ATKV so ’n hoë prys stel op die skep en ondersteuning van groentetuinprojekte in gemeenskappe oor die land heen.
“Vir die ATKV is die vestiging en versorging van informele groentetuine binne gemeenskappe ’n diepgaande en veelvlakkige doelwit,” sê sy.
“Buiten die blote bewerking van die tuine, simboliseer hierdie tuine veerkragtigheid, selfgenoegsaamheid en eenheid onder inwoners. Deur ’n verbintenis met die natuur te bevorder en volhoubare praktyke te implementeer, dien die tuine as opvoedkundige platforms vir toekomstige geslagte.
“Boonop moedig hierdie tuine gesonde eetgewoontes aan en verbeter dit voedselsekerheid deur kritieke kwessies soos voeding en toegang tot gesonde kos te hanteer.
“Uiteindelik oortref die impak van groentetuine op voetsoolvlak die handeling van tuinmaak self, deurdat dit gemeenskappe verryk met ’n tasbare beliggaming van kollektiewe bemagtiging en ’n gedeelde verbintenis tot ’n groener, gesonder toekoms.
“Deur hierdie pogings word ons taklede en gemeenskapsleiers katalisators vir verandering en kweek hulle nie net groente nie, maar ook die sade van positiewe transformasie binne hul gemeenskappe en verder.”
Vir meer inligting, of om ’n bydrae te lewer, kontak asseblief vir Bantu Shongwe by 072 156 7315, of stuur ’n e-pos na sb.mabengede@gmail.com