
Die meeste Afrikaans-sprekendes kan redelik goed Engels praat; van die gelukkiges onder ons kan nog een van ons landstale praat; en dan is daar diegene wat sommer ’n paar tale kan besig.
Twee navorsers aan die Northwestern-universiteit in Amerika, proff. Sayuri Hayakawa en Viorica Marian, het die impak van meertaligheid op die brein ondersoek. Hulle het gevind dit hou verreikende gevolge vir breinfunksies in en van kognitiewe beheer tot spraakverwerking word beïnvloed.
As ’n mens verskeie tale aanleer en dit voortdurend oefen, vind daar selfs strukturele veranderings in die brein plaas.
’n ‘Fikser’ brein
Dr. Vincent DeLuca, navorsingsgenoot aan die Universiteit van Birmingham in Engeland, sê daar is al bewys wanneer jy ’n tweede taal aanleer en gereeld gebruik, word dit saam met jou moedertaal in jou brein “geaktiveer”.
Wanneer jy wil kommunikeer moet jou brein een taal kies en die ander een onderdruk. Dit is nie ’n sommerso takie nie en die brein moet aanpas om dit te kan bemeester. Volgens DeLuca vind daar veranderings in die grootte of vorm van sekere dele van die brein plaas, asook in die “paadjies” wat hulle verbind. “Hierdie aanpassings vind gewoonlik in dié breingedeeltes en paadjies plaas wat vir ander belangrike kognitiewe prosesse gebruik word, soos jou geheue en aandagbeheer.”
Die manier waarop jy taal gebruik, het ook ’n invloed op jou brein. Praat jy byvoorbeeld Engels net wanneer jy ’n regeringsdepartement of ’n diensverskaffer bel of gebruik jy die taal gereeld? Navorsers wat gekyk het na hoe lank iemand al meer as een taal praat, hoe gereeld hulle dit praat en hoeveel keer hulle tussen die tale wissel, het gevind hierdie ervarings het ’n impak op die brein se werking, sê DeLuca.
“As jy nog ’n taal aanleer of as jy twee tale gereeld gebruik, vind daar veranderings in die prefrontale korteks plaas. As jy egter al lank tweetalig is, word ander breingedeeltes aangepas soos die serebellum en basale ganglia.”
Prof. Christos Pliatsikas, ’n dosent in kognitiewe sielkunde aan die Universiteit van Kent in Engeland, sê mense wat hul hele lewe lank meer as een taal praat, het beter kognitiewe vaardighede.
“Meertaligheid beïnvloed die struktuur van die brein, insluitende die wit- en die grysstof. Die volume van die grysstof word met die leer en verwerking van taal verbind. Die brein is dus in staat om self te herskik om nog ’n taal by te leer, maar kan steeds tussen tale wissel. Die brein moet al hierdie inligting suksesvol hanteer en daarom word die paadjies van witstof, wat inligting herlei, ook doeltreffender.”
Die witstof werk doeltreffender wanneer dit meer isolering kry en dié isolering staan bekend as miëlien, wat die oordrag van inligting versnel. By meertaliges is die miëlien glo dikker. Pliatsikas glo ’n mens moet ál die tale wat jy ken voortdurend praat en lees sodat daardie aangepaste breinstruktuur behoue bly.
Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif gratis.

Alexander Mickel
Dié Duitser hou van Afrikaans
As daar nou ’n man is wat glo dat taal jou lewe verryk, is dit Alexander Mickel van Duitsland wat homself leer Afrikaans praat het nadat hy twee Afrikaanssprekendes ontmoet het.
Hy praat Duits, Engels en Afrikaans en het op skool Frans geneem. Hy kan ook Nederlands en Vlaams lees.
“Afrikaans is vir my ’n besonderse taal,” sê Alexander. “Aan die een kant is daar al die voordele wat die taal my bied, soos om Nederlands en Vlaams beter te verstaan, en aan die ander kant is dit die interaksie met al die mense wat ek op Facebook en in Suid-Afrika leer ken het.
“Hulle is trots Afrikaans en hulle waardeer dit so baie dat iemand hul taal bemeester.”

Sophia Kapp
Praat een taal op ’n slag
Sophia Kapp, skrywer en senior taalraadgewer by VivA, sê in Suid-Afrika is die praat van meer as een taal gewoon noodsaaklik.
“Omdat ons so ’n veeltalige en multikulturele samelewing is, is dit nie moontlik om met net een taal oor die weg te kom nie. En dit is veral in hierdie land ’n teken van respek en aanvaarding as mens probeer om ’n basiese gesprek in ’n inheemse taal te voer.
“Ek was gelukkig om in ’n huis groot te word waar taalvaardigheid en keurige taalgebruik deurlopend beklemtoon is. Ek het met Engels as ’n sterk tweede taal grootgeword en het geleer dat ’n mens albei tale so korrek moontlik praat. As jy byvoorbeeld Afrikaans informeel praat, praat jy steeds Afrikaans, jy maak nie ’n taalsop waarin albei tale verdrink nie.”