Praat hond uit ’n bos met nuwe boek
Hoe gemaak as jy sukkel om jou sê te sê of as jy jou sê beter wil sê? Riglyne hieroor was tot onlangs toe – veral wat betref redenaars en debat op skool – maar min. Aristotle se Rhetoric en Cicero se De Oratore is eeue al beskikbaar, maar nou is daar ’n splinternuwe eenstopgids vir álles oor toesprake, Dames en here, uitgegee deur Lapa-uitgewers.
Lees ’n mens die voorwoord, is dit duidelik dat die boek twee gehore in gedagte het: Vir die skole wat graag aan debat en redenaars wil begin deelneem, sal dit ’n vertrekpunt wees om konsepte te verstaan; vir skole wat reeds ’n sterk debats- en redenaarstradisie het, sal dit as aanmoediging kan dien om hulle vaardighede te slyp om sodoende selfs beter te word.
Lisinda de Jager, een van die skrywers, is passievol oor studente en leierskapontwikkeling. Sy is ’n kommunikasiespesialis en ’n mentor in redenaars en leierskapontwikkeling en is werksaam by die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir studentelewe en leer.
Lisinda, ’n geakkrediteerde nasionale beoordelaar en deel van die ATKV se uitvoerende komitee vir redenaars en debatvoering, glo dié boek gee teorie, maar ook praktiese wenke vir redenaars en debat.
“Dit is ’n uitstekende vertrekpunt vir dié wat nog nooit betrokke was nie en graag sal wil begin en leer, maar ook vir leerders, afrigters en onderwysers wat al jare daarby betrokke is. Die jonger generasie vra ons om inligting anders te verpak en daarmee saam ook ons eie ervaring te deel. Ek dink hierdie boek doen presies dit,” sê sy.
Lisinda glo dat enigiemand die vaardigheid kan aanleer om ’n toespraak te skryf en om voor mense te praat.
“Openbare redevoering benodig nie duur toerusting nie, dit kort bloot ’n gewilligheid om te leer (’n teachable spirit) en om tyd te spandeer om die kuns te bemeester.
“Almal van ons lewer êrens in ons lewe ’n toespraak – so indien ons dit ‘makliker’ kan maak vir mense, waarom nie?”
In die boek sal jy wenke kry vir van die beplanning, tot die skryf van ’n toespraak, tot die lewering en deelname aan redenaars. Die boek gee ook waardevolle wenke om selfvertroue te bou en om die angstigheid te oorkom wat sommige sprekers mag ervaar.
Dit is juis die praktiese aanslag wat vir Lisinda die meeste aanstaan.
“Die boek is interaktief, dit gee praktiese voorbeelde en wenke. Die boek bevat ’n deel wat verwys na ander soorte toesprake ook en dit maak dit ook van toepassing op ’n groter gehoor as net diegene wat aan redenaars en debat deelneem.”
Om aan die boek te werk was vir dié oudredenaar ’n droom wat waar geword het.
“Ek was gemotiveer deur die begeerte om ander te help om hul vrees om voor mense te praat, te oorkom en meer selfversekerde sprekers te word.
“Ek glo dat ek ’n unieke insig bring en verder kan ek getuig hoe die vaardighede wat ontwikkel word deur redenaars en debat jou later ook help met verdere studie, ook in jou beroep.
Lisinda glo openbare redevoering gaan nie net oor die “perfekte” lewering van ’n toespraak nie.
“Dit gaan daaroor om werklik met jou gehoor in gesprek te tree en jou boodskap met opregtheid, selfvertroue en duidelikheid oor te dra.”
Nog ’n besondere aspek van die boek is die QR-kodes wat die leser na opnames van wentoesprake neem.
Verskeie kompetisies – ATKV-Redenaars, die Interskole-kompetisie in samewerking met die Wits University School of Law, Oppie Tong Af, Dink of Sink, Con Spirito en die WOW-debatsfees – word in-diepte bespreek.
Die boek is beskikbaar by alle groot boekwinkels en op Lapa-uitgewers se webwerf en kos R200. Die ATKV sal nou betrokke wees by bemarkingspogings en die verspreiding van bestelvorms.
Lees in die jongste Taalgenoot wat dr. Elbie Adendorff, een van die ander skrywers, oor dié boek te sê het.
Dames en here is op 15 Oktober amptelik bekendgestel. Kyk hier na ’n video van die bekendstelling: