Prestigetoekennings: ‘Op die skouers van reuse’
“Die Afrikaanse gemeenskap is ’n veeleisende minnares wie se waardering jy as ’n media-instelling deurlopend moet verdien.”
Só het Tim du Plessis Woensdagaand in Johannesburg gesê by die ontvangs van die ATKV se Prestigetoekenning – dié organisasie se hoogste eerbewys. Die toekenning is by dieselfde geleentheid ook aan Marida Swanepoel, Coenie de Villiers en Diana Ferrus toegeken.
Du Plessis is vereer vir sy invloedryke en gesaghebbende bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek in sy rol as joernalis, redakteur van geliefde Afrikaanse titels soos Beeld en Rapport, ontleder en kommentator.
Pieter du Toit, bekroonde joernalis en skrywer wat in sy loopbaan onder Du Plessis se redakteurskap gewerk het, het die commendatio vir Du Plessis gelewer. Du Toit het Ton Vosloo, voormalige redakteur van Beeld, aangehaal, wat vertel het Du Plessis “was nie ’n onderdanige joernalis nie en het gedy by Beeld, wat geen sogenaamde politieke orgaan van die Nasionale Party was nie”.
Du Toit het ook verwys na die pad wat Du Plessis oor jare met die Afrikaanse gemeenskap gestap het. “Tim het nog altyd ’n fyn oor gehad vir kompleksie en ingewikkelde gesprekke in die Afrikaanse samelewing, veral in die beginjare van demokrasie waar Afrikaners en Afrikaanssprekendes gesukkel het om taal en kultuur met die werklikhede van die toe nuwe Suid-Afrika te versoen.”
Du Plessis het by die ontvang van die toekenning sy geloof in “joernalistiek in die openbare belang” beklemtoon en gesê dat dit iets is wat ook in Afrikaans gedoen kan word. Hy het vertel hoe hy ná sy jaar as Nieman-genoot aan die Harvard-universiteit in 1993, een jaar by City Press en 18 maande by The Citizen besluit het: “Ek wil my ding in Afrikaans doen. Dis my mense en ek sien myself in hul wêreld.”
Hy het die ATKV bedank vir die “waardevolle erkenning” en gesê die ATKV “is al Afrikaanse hoofstroom-organisasie wat die oorgang van 1994 met geloofwaardigheid oorleef het.” Die rede hiervoor is volgens hom finansiële selfstandigheid en dat die organisasie nie so polities gebonde is nie.
Swanepoel, wat vereer is as ’n kurator van die Afrikaanse kultuur vir haar uitgebreide bydrae tot die radio- en televisiebedryf, onder andere as stigterslid van kykNET 25 jaar gelede, as gesoute dramaskrywer en vervaardiger en mentor vir jong talent, se ontvangs van die toekenning is voorafgegaan deur ’n commendatio deur Waldimar Pelser, M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale.
“TV is nie ’n eksakte wetenskap nie. As jy kykers wil roer; as jy ’n mate van kulturele verheldering wil bring wat nie net wys hoe ons samelewing lyk nie, maar kán lyk; as jy gehore wil herinner wat dit is om mens te wees en om ons te wees, dan kan jy nie bloot ’n formule inpons nie. Dit is nie ’n wiskundesom nie. Om dit reg te doen, moet jy die fyn aanvoeling van ’n Marida Swanepoel hê,” het Pelser gesê.
Hy het verwys na Karen Meiring, voormalige kanaalhoof van kykNET, wat Swanepoel se intuïtiewe aanvoeling vir stories uitsonder “en die feit dat sy haarself nooit in die kollig plaas nie”. En na Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, wat sê “Marida verstaan die Afrikaanse kyker beter as enigiemand.”
Pelser het sy commendatio afgesluit deur te sê Swanepoel word vereer “vir wie en hoe jy is … Jy stut en lanseer en troos die mense om jou en is ’n toonbeeld van hoe om goed en betekenisvol en sonder selfsug te lewe.”
Swanepoel het by die ontvangs van die toekenning gesê sy is nog altyd gewoond daaraan om agter die skerms te werk. Sy het haar dankbaarheid teenoor die ATKV uitgespreek vir die toekenning en daarna daarna verwys dat dié organisasie die eerste was om by die stigting van kykNET 25 jaar gelede uit te reik – ’n samewerking wat oor die jare verdiep en uitgebrei het.
De Villiers, wat vereer is vir sy luisterryke musiekloopbaan as liedjieskrywer en komponis, sy bydrae tot die medialandskap en sy voortgesette verbintenis tot die uitbreiding van die Afrikaanse kultuurskat, se commendatio is gelewer deur Amanda Strydom, ’n vorige ontvanger van die Prestigetoekenning.
Sy het De Villiers geloof as ’n “formidabele woordsmid, liedjieskrywer, komponis, digter-sanger, TV-aanbieder, radio-omroeper en vervaardiger”, maar ook sy rol in die akademie as dosent in mediakunde en kommunikasie, bemarker en sy betrokkenheid in die sakewêreld belig. Strydom het gesê De Villiers is ’n “kunstrepreneur” wat geleenthede raaksien vir innoverende en grensverskuiwende werk.
“Sy hart is so groot soos ’n Gauteng-taxi – daar’s altyd plek vir nog een. Hy is die lojaalste vriend … ’n ensiklopedie vol grappe, kennis en wysheid … ’n ware gentleman én ’n platjie!”
De Villiers het by die ontvangs van die toekenning gesê dis vir hom ekstra-spesiaal om die toekenning te ontvang, omdat hy in sy loopbaan ook by die ATKV gewerk het, waar hy die direkteur: kultuur was.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die begenadiging om hier te kan staan.” Hy het ’n staaltjie vertel oor hoe sy musiekloopbaan begin het. “Ek het vroeg in my lewe geweet ek gaan nie provinsiaal rugby speel nie. Dis iets wat ’n mens net weet.” Dis hoe hy toe musiek gekies het. Maar, vertel De Villiers, hy kon nie ’n oudisie vir die Vrystaatse Jeugkoor – destyds onder leiding van Dirkie de Villiers – slaag nie. Dit was wel vir hom heerlik toe die koormeester hom later jare vra of dié koor sy lied “Karoonag” kan sing – vandag “die mees gesingde lied in Afrikaans”. Gevra deur die koormeester waarom hy nooit in die Jeugkoor gesing het nie, het De Villiers opmerk “Ek het jou oudisie gedop!”
“Musiek het geweldig baie vir my beteken … die grootste dankie aan Afrikaans, want dit is die mooiste taal ter wêreld.” Hy het ook sy dank teenoor Du Plessis en Swanepoel uitgespreek vir die kanse wat hulle oor die jare aan hom gebied het en gesê hy sien uit na ’n toekomstige projek wat hy binnekort saam met Diana Ferrus, die vierde ontvanger van die Prestigetoekenning, gaan aanpak.
Ferrus is vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse digkuns, haar mentorskap van jong skrywers en haar deursettingsvermoë in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot van Frankryk na Suid-Afrika.
Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans wat ook pas haar debuut as skrywer gemaak het, het gesê dit is vir haar ’n “groot voorreg en eer om die commendatio van hierdie formidabele vrou, mens, skrywer, digter, storieverteller, mentor en vriendin te doen.”
Sy het vertel Ferrus het in 1998 ’n beurs ontvang om aan die Universiteit van Utrecht te studeer. Dis daar waar sy “een aand, terwyl sy alleen in haar kamer sit, na haar mense en land verlang het”. Sy kon haar in daardie oomblik vereenselwig met Sarah Baartman, wat in die 19de eeu na Frankryk geneem en daar uitgestal is en uiteindelik in die vreemde gesterf het. Dis weens dié heimwee dat Ferrus “I’ve Come to Take You Home” geskryf het – haar seminale gedig wat uiteindelik sou lei tot die repatriasie van Baartman se oorskot.
Van der Merwe het Ferrus geloof vir haar “nederigheid, toewyding, geduld, liefde vir sport, goeie geheue, omgee en belangstelling vir haar medemens, maar veral haar liefde en deernis vir haar familie.”
Ferrus het by die ontvangs van die toekenning gesê dis ’n “voorreg en eer” om in dieselfde asem genoem te word as Du Plessis, Swanepoel en De Villiers. “Baie geluk aan die ander vereerdes … dit doen my hart so goed.” Sy het verwys na die feit dat Suid-Afrikaners vir so lank “verwyderd van mekaar” gelewe het. “Dankie dat ek ’n kykie in julle lewe kon kry.”
Ferrus het ook verwys na ’n Franse politikus wat haar gedig oor Baartman gelees het en toe vir haar laat weet het, “I feel removed by it”. Sy het dadelik verstaan Engels is ook nie sý eerste taal nie, en het presies geweet wat hy bedoel. Sy het daarom by die ontvangs van die Prestigetoekenning gesê: “Baie dankie, I feel removed by it.”
Die ATKV se Prestigetoekenningseremonie is by Burkleigh House in Randburg gehou, en Strydom, met begeleiding van Coenraad Rall, was ook die gaskunstenaar. Strydom en De Villiers het die aand afgesluit met ’n impromptu-opvoering van “Karoonag”.
Ontvangers van vanjaar se toekenning het elk ook ’n skildery van Karin Preller ontvang.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het die ontvangers van vanjaar se toekenning geloof vir hul lewenslange bydrae tot die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld en vertel hoe sy dikwels die ATKV-personeel daaraan herinner: “Ons staan op die skouers van reuse”. Vorige ontvangers sluit in dr. Anton Rupert (sakeleier), PG du Plessis (skrywer), lt.genl. M. van Vuuren (kultuurleier), Mimi Coertse (operasangeres), prof. Elize Botha (akademikus), prof. TT Cloete (digter), Elsa Joubert (skrywer), Peet van Staden (mediaman), Riaan Cruywagen (TV-nuuslegende), Antjie Krog (digter), prof. Richard van der Ross (akademikus) en David Kramer (musikant).