Prestigetoekennings vier taal- en kultuurreuse
Tydens ’n spoggeleentheid by Die Boekklub in Johannesdal buite Stellenbosch is vier vooraanstaande Suid-Afrikaners – Magdaleen Kruger, Max du Preez, Hein Willemse en Philip de Vos – met die ATKV se Prestigetoekenning vereer vir hul onmiskenbare impak op die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld.
Elke ontvanger het ook ’n skildery van Henk Serfontein ontvang. Die seremoniemeester van die aand was Kabous Meiring. Sy het gesê dis belangrik dat hierdie mense se name by vorige ontvangers gevoeg word, omdat hulle die ruimte in Afrikaans geskep het waarin ons tans in Afrikaans kan werk en kreatief wees. Sy het ook van die groot datums in Suid-Afrika se geskiedenis sedert 1930 uitgelig en gesê met elkeen van daardie gebeurtenisse was die ATKV die afgelope 95 jaar deel daarvan.
Die ontvangers
Prof. Hein Willemse, akademikus, skrywer en kultuurdenker, is vereer vir sy werk oor kanonisering, kreolisering en marginalisering in die Afrikaanse letterkunde, die meervoudige geskiedenisse van Afrikaans en die rol van bruin en swart Afrikaanssprekendes in die taal se ontwikkeling. Hy het wyd gepubliseer oor temas soos identiteit, taalpolitiek en die dekonstruksie van die Afrikaanse kanon.
Willemse is bekend as ’n dekoloniale denker wat Afrikaans help beskou het as meer as net “die taal van die onderdrukker”. Sy werk het ’n groot invloed op die verbreding van die Afrikaanse literêre en kulturele gesprek gehad.
Die akademikus en literator, prof. Willie Burger, verbonde aan die Universiteit van Pretoria as professor in die Afrikaanse letterkunde en bekend vir sy werk oor narratologie, literêre teorie en Afrikaanse prosa, het prof. Willemse se commendatio behartig.
Hy het gesê Willemse het ongetwyfeld ’n volgehoue bydrae op verskeie terreine van die Afrikaanse taal- en kultuurlandskap gelewer, “maar sy belangrikste bydrae is dat hy in der waarheid die manier waarop ons óór die konsep ‘Afrikaanse taal en kultuur’ dink, help verander het.
“Die variëteit van Afrikaans wat in woordeboeke en grammatikas beskryf is en tot amptelike taal verhef is, het ’n groot groep Afrikaanssprekendes uitgesluit. In ons dae het hierdie kennis nou al gemene besit geword en (byna) almal stem daarmee saam, maar dit het algemene kennis geword danksy die werk van onder meer Hein, wat met onverdrote ywer die gevestigde opvatting van Afrikaans en die Afrikaanse literêre kanon uitgedaag het.
“Hein het die gemaksone van beskouings oor Afrikaans se herkoms en die literêre kanon deur sy navorsing uitgedaag. Sy boek Aan die ander kant is baanbrekerswerk. Hy grawe vergete, gemarginaliseerde stemme uit en wys voortdurend dat daar ook ’n ander kant aan elke verhaal is. Ná blootstelling aan Hein Willemse se werk, kan geen kritikus meer onbewus bly van die kant waarvandaan hulle kyk nie.”
Prof. Willemse het met ontvangs gesê een van die groot dinge wat ons met die geskiedenis van Afrikaans verloor het, toe Afrikaner-nasionalisme Afrikaans gekaap het, is die taal se bindingskrag oor die hele land. “Ek dink ons kan dit herwin; Afrikaans behoort nie net aan een groepering nie. Dis – naas Engels – die een taal wat al die spore van hierdie land dra – van alle gemeenskappe en oor alle grense heen.”
Max du Preez is ’n invloedryke figuur in die Suid-Afrikaanse media- en kultuurlandskap. Sedert sy vroeë werk in koerante en sy toonaangewende stigting van Vrye Weekblad tot sy latere werk as skrywer en kommentator, illustreer sy loopbaan ’n strewe na onafhanklike joernalistiek en ’n bereidheid om risiko’s te neem ter wille van die waarheid en regverdigheid.
Hy het verskeie boeke geskryf, waaronder sy memoires Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (in beide Afrikaans en Engels) en ander werke soos Of Warriors, Lovers and Prophets en Of Tricksters, Tyrants and Turncoats.
Du Preez staan bekend as ’n Afrikaner wat gedurende ’n tydperk van groot politieke verandering sy taal- en kultuurruimte gebruik het om magstrukture uit te daag. Hy beklemtoon dat joernalistiek nie bloot verslag doen nie, maar ook ’n morele rol in die burgerlike samelewing speel.
Die skrywer en joernalis Jacques Pauw – wat bekend is vir sy ondersoekende joernalistiek – het Du Preez se commendatio behartig. Pauw het vir verskeie koerante en televisieprogramme gewerk en talle korrupsie- en politieke skandale ontbloot.
Hy het oor Du Preez gesê: “Toe ek hom in 1987 leer ken het, het hy geglo in vryheid, gelykheid en ’n geleentheid vir almal. Dis dié beginsels wat ons probeer uitleef het toe ons die Vrye Weekblad ’n jaar later begin het.
“Max du Preez is ’n held, al vir vyf dekades lank. In die donkerste tye in Suid-Afrika, soos met die noodtoestand van die later-80’s, het hy ’n lig op die verskriklikhede geskyn vir diegene wat wou sien. Elke boek wat hy geskryf het en elke stukkie joernalistiek wat uit sy pen gevloei het, is ’n standbeeld vir een van Suid-Afrika se grootste seuns.”
Du Preez het met ontvangs gesê hy praat Vrystaatste Afrikaans – die neutraalste van al die Afrikaanse variëteite, maar hy is mal oor die taal; hy is trots om te sê dis sy moedertaal en hy is mal oor die taal in al sy variëteite en aksente. Dis ’n wonderlike ding waarmee hy graag speel en eksperimenteer.
Hy het vertel dat hy aan geen party of organisasies behoort nie, maar hy is ’n lid van die ATKV – die minste rasgereguleerde beweging in die land – en dit sê iets.
“Dis vir my ’n vreemde ding om erkenning vir die Afrikaanse deel van my te kry. Dit kom min vanuit Afrikaanse geledere en dit maak dit vir my baie meer spesiaal.
“Afrikaans is vir my ’n hartsding en dit moet die mooiste storie wees van ’n taal wat ooit ontstaan het.”
Philip de Vos is vereer is vir sy werk as onderwyser, operasanger, skrywer en fotograaf. Hy het sedert 1984 al meer as 30 boeke in Afrikaans en Engels gepubliseer, met ’n sterk fokus op kinderliteratuur, limerieke en “nonsenspoësie”. Fotografie vorm ’n belangrike deel van sy werk. Hy het verskeie solo-uitstallings gehou, fotobundels gepubliseer en baie erkenning vir sy werk as fotograaf ontvang. Sy nuutste boek, Die jaar toe dit gemmerbier gereën het, is onlangs gepubliseer.
Frieda van den Heever – musikant, sangeres, liedjieskrywer, aktrise en radioaanbieder – het die commendatio vir Philip gedoen.
Sy het in haar toespraak gesê: “Een van my gunstelingskrywers het eens gesê: ‘Storytelling is an act of hospitality.’ Philip de Vos is gasvry verby. Hy steek sy meegevoelers uit (om ’n metafoor te gaan leen by sy geliefde goggas) in alles wat hy aanpak – of dit in verse skryf, foto’s neem of musiek is. In alles wat hy deel, skemer die donker én lig deur, die swoeg én sweef, die pyn én plesier, die klippe kou én die lugkastele bou. Nie omdat hy probeer nie, maar omdat die lewe so is en hy lewensgetrou skep.
“Philip se aanvoeling en intuïsie is inspirerend, en sy ligvoetige styl het al diep spore in my en soveel ander lesers se binnelandskap gelaat. Dit word gekenmerk deur wonder, avontuur, verbeelding, humor, verrassings, oënskynlike paradokse en woorde wat musiek maak.”
Sy het Nelia Gerber, ’n leerder van die Laerskool Totius, voorgestel, wat een van Philip se versies opgesê het.
Philip was oorbluf en het gegrap dat hy op 86 amper so oud soos Afrikaans as amptelike taal is! Hy het gesê hy is dankbaar dat hy rym ontdek het en al weet hy tot vandag toe nie hoe om te skryf óf hoe om te sing nie – hy dóén albei net – weet hy:
“Elke voëltjie het sy lied –
selfs die seevoël en die kokkewiet.
Of dit nou fraai of goor of gek is,
elkeen sing maar soos hy gebek is.”
Philip het die hoop uitgespreek dat hy nog baie kan sing soos hy gebek is.
Magdaleen Kruger is vereer vir haar bydrae tot radio, waar sy vir meer as 32 jaar as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en eindelik stasiebestuurder van RSG gewerk het. Wat sy vir openbare diensradio verrig het, is van onskatbare waarde.
Kobus Burger – radioman by RSG, kunstejoernalis, regisseur en rolspeler in die Afrikaanse kultuurlandskap – het die commendatio vir Kruger gedoen. Hy werk as kuns- en kultuurredakteur en is betrokke by verskeie radiodramas en musiekprogramme.
Kobus was by RSG ’n jarelange kollega van Magdaleen en het in sy commendatio gesê: “In die gange van die SAUK, onder leiding van Magdaleen Kruger, is daar na RSG verwys as die ‘olieboor van die SAUK’. In die sowat 15 jaar as RSG se stasiebestuurder, het sy die nasionale Afrikaanse uitsaaier se winsgewendheid en gehaltesuksesse uitgebou.
“Haar liefde vir taal, asook die kunste en kultuur, het reeds tydens haar jare by die ATKV uiting gevind toe sy die organiseerder vir toneel en klassieke musiek was. Later was sy aanbieder van Taaldinge op RSG, en tans is sy steeds die anker van Loof die Here, een van die oudste programme op Afrikaanse radio.
“Van nuus en musiek tot taal, talentbestuur en selfs die georganiseerde vakbondwese, het Magdaleen Kruger in haar meer as drie dekades by die SAUK haar stempel afgedruk en seker gemaak dat die verveling van voorspelbaarheid nie die vlamme van die draadloos blus nie.”
Magdaleen het met ontvangs gesê die toekenning is ’n groot eer, dat sy ’n sagte plek het vir die ATKV en dat die tyd by die ATKV vroeg in haar lewe haar baie goed voorberei het vir die posisies wat sy later in haar lewe beklee het. Daar het sy geleer organiseer en om mense te kan bestuur.
Sy het gesê sy moet vir heelwat mense dankie sê, want haar sukses is te danke aan ’n groot klomp mense se bydrae.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het gesê dis vir die ATKV belangrik om platforms te skep waar mense hulself kan uitleef. “Dis belangrik vir Afrikaans om sy plek in die land in te neem – nie as verdeler nie, maar as brugbouer en medium waarin versoening en nasiebou kan plaasvind.
“Ons het vanaand voorbeelde van mense wat uitgestyg het omdat hulle nie noodwendig gekonformeer het nie – nie in ’n bepaalde boksie gebly het waarin ons mense wil plaas nie.
“Afrikaans is groot, dis wyd, dis baie divers. Dit het baie tongvalle; dit het baie invalle en ’n ryk geskiedenis wat baie verder strek as net die amptelike 100-jaar-viering van Afrikaans in 2025.”
Sy het gesê dis ’n taal wat gebore is uit ’n behoefte van mense wat in ’n land aangekom het en wou kommunikeer met dié wat hulle hier aangetref het. “En as dit die oorsprong van ’n taal is, kan ek nie sien hoekom die taal nie sal voortleef nie.”
Vorige ontvangers van die ATKV-Prestigetoekenning sluit in dr. Anton Rupert (sakeleier), PG du Plessis (skrywer), lt.genl. M. van Vuuren (kultuurleier), Mimi Coertse (operasangeres), prof. Elize Botha (akademikus), prof. TT Cloete (digter), Elsa Joubert (skrywer), Peet van Staden (mediaman), Riaan Cruywagen (TV-nuuslegende), Antjie Krog (digter), prof. Richard van der Ross (akademikus), David Kramer (musikant), Tim du Plessis (joernalis), Marida Swanepoel (mediaskepper), Coenie de Villiers (sanger en liedjieskrywer) en Diana Ferrus (skrywer).