Prettige jeugtakprojekte gee liefde vir Afrikaans ’n hupstoot

Dis ’n feit soos ’n koei dat die ATKV-jeugtak Hupstoot hierdie jaar die bul by die horings gepak het om ’n liefde vir Afrikaans by die leerders van die Hoërskool Pionier in Vryheid te kweek. Dié tak het verskeie prettige projekte geloods om leerders se nuuskierigheid en bewustheid van onder meer idiome speel-speel aan te wakker.
Annalie Vermaak, takvoog, sê die Hoërskool Pionier is die enigste hoërskool in KwaZulu-Natal met Afrikaans as onderrigtaal. “Dit is daarom vir ons belangrik dat ons die liefde vir Afrikaans aanmoedig,” sê sy.
’n Uiters suksesvolle “Op die Spel”-kompetisie is in Augustus gehou met junior- en seniorleerders wat onderskeidelik deelgeneem het. ’n Week later is nog ’n suksesvolle projek gehou, waar leerders aangemoedig is om enigiets, behalwe hul skooltas skool toe te bring.
“Ons probeer die leerders met elke projek raad gee oor hoe om die gemeenskap te help, maar wil ook ’n liefde vir mekaar en ons taal wakker te maak. Die gunstelingprojek was beslis die “Op die Spel”-kompetisie. Die aanbieder het leerders lekker laat lag oor hoe hulle maats spel. Selfs ons twee gr.12-Afrikaans Huistaalonderwyseresse is uitgedaag om by die kateders – nogal met knoppies en ’n skreeugeluid – ’n woord te spel. Vet pret vir die leerders!” sê Annalie.
Die tasse-idee, “Hiep-hupstoot-rugsak”, se doel was om geld in te samel vir die jeugtak, maar het ook vir groot jolyt gesorg. Leerders het die kreatiewe grense verskuif en oulike alternatiewe vir “tasse” uitgedink, soos ’n supermarkwaentjie (glo om sommer ’n moeë vriend op te laai en te help) en ’n klerehanger met ’n plastieksak wat daaraan hang, terwyl ’n ander leerder hom as ’n boemelaar voorgedoen het: sy tas was ’n besemstok met ’n materiaalsak daaraan vasgebind – dié is sommer op die skouer gebalanseer.
Annalie sê, “Die leerders hou van nuwe, oorspronklike idees en ek dink die takbestuur se advertering van elke projek met ’n PowerPoint-aanbieding in die saal twee weke voor die tyd gee die leerders genoeg tyd om idees uit te dink. Die wortel voor die neus van ’n ATKV-prys haak beslis die plan deur.”
Volgens haar wil die jeugtak graag teruggee aan die skool en word ’n idiome-projek beplan.
“Ons werk op die oomblik saam met ’n drukkersbesigheid in die dorp om idiome op elke trapvoorkant vas te maak, sodat die leerders verskillende idiome kan sien soos hulle die trappe klim. Hulle kan dan oor die idiome wonder, in die Afrikaansklasse uitvind wat elke idioom beteken, en dit in hul kreatiewe skryfwerk gebruik,” sê Annalie.
Hulle sê grootse gedagtes kom uit die hart. In die geval van die ATKV-jeugtak Hupstoot is dit presiés so.
Besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.