Proe-proe deur George bou brûe in Afrikaans

Hoe proe jou Afrikaans? Of jy jou lippe aflek vir ’n koeksister, waterblommetjiebredie, ’n boereworsrol of chakalaka en pap – jy is genooi!
“Die Proe-proe deur George-inisiatief wat van 30 Julie tot 2 Augustus in dié Suid-Kaapse dorp gehou word, is ’n viering van Afrikaans as taal van insluiting, uitdrukking en verbondenheid,” sê Beverley McKelly, voorsitter: ATKV-tak Sommer Net Ons, wat die projek bestuur.
“Afrikaans verbind ons met mekaar en Proe-proe deur George is ’n viering van daardie verbintenis,” sê McKelly.
Inwoners van dié Suid-Kaapse dorp kan hulle regmaak vir vier dae van kuier, kultuur, dans, debatteer, musiek en kreatiwiteit.
“Afrikaans is die gemene deler vir verskillende gemeenskappe in George, en Proe-proe is ’n geleentheid om mense oor kultuurgrense heen byeen te bring om mekaar beter te leer ken en te verstaan,” sê Herman Pienaar van Love George, ’n organisasie wat hom vir die maatskaplike en ekonomiese transformasie van die gemeenskap beywer.
René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, sê Proe-proe deur George getuig dat Afrikaans aan almal wat dit praat, behoort.
“Dit is vir Afrikaans Amptelik 100 ’n groot voorreg om in Afrikaans se eeufeesjaar deel te wees van hierdie wonderlike inisiatief. Die projek is ’n bewys dat die mense in George en die Suid-Kaap se harte warm klop in Afrikaans.”
Die feesvieringe vir die publiek begin met Petronel Baard wat Woensdag 30 Julie om 18:30 by Attic Atelier by die Benz in Markstraat optree tydens ’n gesellige aand van musiek en kuns. Bernedette Botha sal uit haar debuutbundel by die huis voorlees.
Tydens die VVA-Ommietafelgesprek wat Donderdag 31 Julie om 19:00 ook by Attic Atelier plaasvind, kom die onderwerp “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?” onder die loep in ’n paneelbespreking onder leiding van McKelly en Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA).
Van der Merwe sê die persepsie bestaan dat ’n mens nie suksesvol in Afrikaans kan werk en ’n loopbaan kan bou nie. In die VVA-Ommietafelgesprek gaan paneellede wat wel suksesvol is, hul stories vertel.
Op Woensdag 30 Julie word ’n werkswinkel vir leesfasiliteerders om 10:00 in die konferensiesaal van die George-burgersentrum gehou en op Saterdag 2 Augustus vind die leesmarathon Kô lat ons lees by Pacaltsdorp Primêre Skool plaas ter bevordering van lees, geletterdheid en moedertaalonderrig. Dit is vanjaar die vierde jaar dat dié leesmarathon aangebied word.
Erna O’Neill, leerondersteuningsadviseur by die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê by dié leesmarathon word daar vir drie ure lank net op lees gefokus.
“Dit is mooi om te sien hoe die kinders wat eers skaam en skugter is, deur die loop van die dag vrymoedigheid kry om saam te lees. Kinders wat lees vermy, beleef dat lees lekker kan wees en dat hulle altyd moet probeer, al voel hulle dat hulle nie kan of wil nie.”
“Die groei in belangstelling in die leesmarathon is iets om te aanskou. Ons maak vanjaar reg vir ’n rekordgetal van 350 leerders,” sê Garelene Muller, kinderbibliotekaresse by die George-biblioteek, wat die boeke vir die marathon en leiding aan leesfasiliteerders verskaf.
Kontak gerus vir Beverley McKelly per e-pos by sommernetons@atkv.org of telefonies by 071 604 2007 om by Proe-proe deur George betrokke te raak.
Proe-proe deur George is ’n inisiatief van die ATKV-tak Sommer Net Ons in samewerking met die ATKV, Afrikaans Amptelik 100, VVA, die George-munisipaliteit, Love George, die Wes-Kaapse onderwysdepartement en die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON).