Prof. Hans: ’n onvergeetlike stem in Afrikaans

Hans du Plessis se akademiese en letterkundige nalatenskap, asook sy menswees, is op 13 Maart 2025 tydens ’n gedenkgeleentheid in Potchefstroom gevier.
In sy lang loopbaan het prof. Hans, soos hy alombekend was, ’n blywende invloed uitgeoefen op taalkunde, skryfkuns, letterkunde en die Afrikaanse taal- en kultuurlewe. Benewens talle akademiese publikasies het hy as veelsydige en bekroonde skrywer rubrieke, kortverhale, poësie, jeugromans, romans en tekste vir verskeie verhoogproduksies geskryf.
Die gedenkgeleentheid is op ’n besondere manier ingelui met ’n video-opname waarin die skrywer self aan die woord was: “Ek sal baie graag onthou wil word as iemand wat nêrens gepas het in die letterkunde nie. Hulle het eenmaal vir my gevra saam met wie wil ek gegroepeer word in die skryfwêreld, toe was my arrogante antwoord, saam met Hans du Plessis,” het Hans met sy kenmerkende laggie en ’n vonkel in sy oë gesê.
Dit was kompleet asof hy self tussen sy vriende en familie gekuier het, wat van oraloor gekom het om die geleentheid by te woon. Susan Lombaard, oudstudent van prof. Hans, voormalige assistent by die ATKV-Skryfskool en uitvoerende hoof van Maroela Media en Skryfnet, het as gespreksleier opgetree.
“Hans het opgeval as ’n soort meervoudsmens – en min taalnavorsers en nadenkers het soveel bygedra as hy om ons onder die besef te bring dat ‘Afrikaans’ ’n versamelnaam is, vir soorte Afrikaans wat hy almal ewe wonderbaarlik en waardevol geag het.”
Só het Bernard Odendaal dié besondere mens in sy huldigingswoord beskryf.
Met sy deurleefde voordrag het Elias Nel, wat saam met sy seun Eldridge al die pad van Kuilsrivier gekom het, die beelde en taal van Hans se Griekwapsalms laat leef.
“Wat vir my uitstaan van Hans is die feit dat hy met hierdie Griekwapsalms die stigma wat daar rondom streekvariëteite of streekstaal bestaan, gedemarginaliseer en gedestigmatiseer het, en daarvoor salueer ek hom. Hy het bewys dat streekstaal ook geloofstaal kan wees en dit het baie van ons, waarvan ek een is, aangespoor om die Bybelse teks ook in die streek waaruit ek kom, te skryf.”
In ’n rusbankgesprek het Susan Lombaard, Ilse Salzwedel, Louis du Plessis, prof. Bernard Odendaal, Adri Breed en Franci Greyling gesels oor prof. Hans du Plessis as akademikus en letterkundige.
Adri Breed, adjunkdirekteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Tale en ’n oudstudent van prof. Hans, het vertel dat hy steeds as een van Afrikaans se belangrikste taalkundiges gereken word. Hy is veral bekend vir sy belangrike navorsing in variasietaalkunde, wat hy saam met ander taalkundiges, soos prof. Christo van Rensburg, oor die variëteite van Gariepafrikaans gedoen het. Hierdie navorsing, wat onder meer tot sy Bybelbegronde gedigte in Griekwa-Afrikaans gelei het, word steeds as belangrike navorsingsmateriaal gebruik.
As eerste direkteur van die ATKV-Skryfskool het hy meer as drie dekades lank leiding geneem met die aanbieding van skryfwerkswinkels oral in Suider-Afrika. Hy het ook baanbrekerswerk gedoen met die instelling van skryfkuns as akademiese vak aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit) en ’n rigtinggewende invloed op talle studente en skrywers se loopbane uitgeoefen, het Franci Greyling, ’n voormalige kollega, vertel.
Volgens Bernard Odendaal, voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool, het Hans du Plessis se helder en oortuigende stem daartoe bygedra dat die manier waarop mense na die Afrikaanse letterkunde kyk, verander het. Hy het veral twee aspekte uitgesonder: die verhoogde aansien van kreatiewe skryfwerk in ander variëteite as Standaardafrikaans en die verruiming van sienings oor wat as belangrik in die Afrikaanse letterkunde beskou word. Vir Hans was daar slegs twee soorte skryfwerk: goeie of slegte skryfwerk.
Ilse Salzwedel, skrywer, joernalis en aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG, het beaam dat Hans ’n mentor vir talle skrywers was en ’n blywende invloed op hul loopbane gehad het. Sy ruimhartigheid oor Afrikaans het in elke gesprek wat sy met hom gevoer het, na vore gekom.
“Dit is dalk die een rede waarom ons hom nooit mag vergeet nie: Hy het met ’n glimlag en met hartlikheid soveel vriende vir Afrikaans gemaak dat mense na hom geluister het en dat mense hom wou eer deur goeie werk te doen.”
Louis du Plessis, een van Hans se vier seuns, het ’n blik gebied op sy pa as gesinsman, sy unieke humorsin en sy geloof. “Die feit dat hy blind was, het vir hom ’n gehoor gegee wat gehóór het. Hy het nie net geluister nie, hy het gehoor. Dit wat in sy hart was, het as lig uit sy oë geskyn. Sy hele lewe was ’n getuienis van dit waarin hy geglo het.”
Ná sy formele aftrede in 2011 het Hans du Plessis steeds aktief gebly en per geleentheid lesings en skryfwerkswinkels aangebied. Hy het hom egter veral toegespits op sy eie skeppende skryfwerk, veral die skryf van romans. Met sy historiese Groot Trek-romans soos Die pad na Skuilhoek en As die wind kom draai en kontemporêre romans, soos Verbrande Paradys en Inkommers, het hy die Potchefstroomomgewing en die Vredefortkoepel lewend laat word. In onlangser jare het hy toenemend oor meer omstrede en sensitiewe temas geskryf, soos die trauma van die verlede en geslagsgebaseerde geweld.
Sy laaste roman, Klein Wonderwerk, waarin van hierdie temas aangeraak word, is tydens die gedenkgeleentheid bekendgestel. Volgens Janita Low, redakteur by Penguin Random House, het Hans die manuskrip aan die einde van 2023 voorgelê. Die uitgewers wou dit aanvanklik in 2024 uitgee, maar het later besluit dat dit spesiaal sou wees om die boek eers in 2025 vry te stel, sodat dit saamval met die skrywer se 80ste verjaarsdag en die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal. Hans het ’n maand of wat voor sy onverwagse dood op 26 Oktober 2024 die proefweergawe, voorblad en agterblad goedgekeur.
Hans het tot die einde van sy lewe jonk van gees en meelewend gebly. Dit is daarom verstaanbaar dat talle mense wie se paaie oor die jare met dié van Hans du Plessis gekruis het, as’t ware familie van hom geword het. Familie wat Hans du Plessis in sy afsluitingswoorde bedank het: die kultuurfamilie, die taalfamilie, die mediafamilie, die kunsfamilie, die akademiese familie, die skryffamilie, die Potchfamilie.
Die geleentheid is afgesluit met Coenie de Villiers se uitvoering van “Solo”, die lied wat hy met Hans se dood aan hom opgedra het: “Want die mens bedink ’n tjello, laat die viool se snare tril, maar instrumente gaan verlore, en word uiteindelik tog stil.”
Alhoewel Hans du Plessis se stem stil geword het, sal sy woorde steeds weerklink in sy werk en die lewens wat hy geraak het. Inderdaad, enig in sy soort.