Program van ATKV-toneelfinaal luisterryk bekendgestel
Die ATKV belê ná 60 jaar se betrokkenheid by toneel in die land steeds in mense.
Nagenoeg 72 gaste het die onlangse bekendstelling van die ATKV-toneelfinaal se program by die manjifieke venue, Rooftop on Bree, in Kaapstad bygewoon.
Op hierdie soel lentedag het die sonsondergang selfs saamgewerk om die mooiste aansigte van ’n sluimerende Kaapstad en haar Tafelberg voort te bring.
Die geleentheid is onder andere bygewoon deur Frieda van den Heever, ATKV-Sêrmentor, die akteurs en ATKV-toneelmentors Jacques Bessenger, Wilhelm van der Walt en Lindsey Cele, en ATKV-Tienertoneeldeelnemers en hul ouers.
Die fokus van die aand was drieledig: Dit was ’n viering van die ATKV se 60 jaar van betrokkenheid by toneel, die bekendstelling van die nasionale Simbiose-toneelfinaalfees se program en ’n geleentheid om die werk van ons land se kreatiewe jeug – uiteindelik ’n noemenswaardige inspuiting vir die Afrikaanse film- en teaterindustrie – te vier.
Die gaste het mekaar oor ’n glasie vonkelwyn en kleurvolle mengeldrankies op die balkon leer ken, totdat almal kon aansit vir die opwindende programbekendstelling deur die ATKV se hoofbestuurder: kommunikasie, Mercia Esteen.
“Die ATKV se 60 jaar in toneel is ’n reis en kollektiewe poging waartoe soveel mense bygedra het tot iets veel groter as onsself. Die ATKV is trots daarop om in mense se lewens te belê,” sê Eksteen.
Die sanger Frieda van den Heever het die aand vervolmaak met liedjies soos “Huis toe”, “Bon Voyage” en “Asem” vanaf haar album Spoorsny.
Van den Heever tree ook as ATKV-Sêrmentor en -bekendsteller op en het haar blydskap uitgespreek dat dié projek ook nou vir hoërskoolleerders bestaan.
“Ek is so bly dat iemand weer sêr gaan doen, want ons kampusse is nie meer vol daarvan nie,” het sy gesê.
Danelle Jacobs, wat as die beste aktrise in ’n hoofrol by ATKV-Tienertoneel 2023 aangewys is, en Paul Strydom, beste akteur in ’n hoofrol by ATKV-Tienertoneel 2023, het die Tienertoneelprogram bekendgestel.
“My storie sou baie anders gewees het as dit nie vir die ATKV was nie,” het Strydom vertel.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, het destyds vir Strydom ná ’n groot teleurstelling die boek The Leader Who Had No Title gestuur.
“Vandag is daardie boek die belangrikste boek in my lewe, dit was one act of kindness. Dit het my geïnspireer om die produksie Slaansak te skryf vir verlede jaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie en dit is aangewys as die beste slegs-leerders-produksie vir 2023,” sê Strydom.
“ATKV, julle het my gesien en gesê ‘sawubona’ (wat ‘ek sien jou’ beteken). Vandag wil ek vir julle terugsê: ‘Ons sien julle, ATKV’.”
Die ATKV-Tienertoneelwenproduksies is vanjaar deel van die Toyota Stellenbosch Woordfeesprogram wat vanaf 28 September tot 6 Oktober plaasvind.
Feesbestuurder Saartjie Botha het die ATKV bedank vir die geleentheid wat die ATKV skep om die leerders se talent te ontwikkel, maar ook vir die gehore wat deur Tienertoneel geskep word.
Botha het gesê ATKV-Tienertoneel se vlak van professionaliteit is uitermatig hoog danksy ongelooflike onderwysers wat die regte span mense bymekaar kry. Vir haar is dit ’n voorreg om al die wenproduksies op die Woordfeesprogram te hê.
Die kordate Judi Hattingh, die beste tjokkeraktrise van 2023, het die Tjokkertoneelprogrambekendstelling vol ywer en drif behartig. Die Tjokkertoneelplatform gee vir laerskoolakteurs die geleentheid om hulle talente te slyp en op ’n professionele vlak te kan speel.
Charlize Herman van die televisiekanaal VIA het die vierde seisoen van Gekies vir die kollig, wat aan die einde van Oktober op die kassie sal wees, bekendgestel.
“Elkeen van die kinders vat eendag iets met hulle saam, ’n klein stukkie van die ATKV, of hulle nou op die silwer skerm, die kassie of in Hollywood speel,” sê Herman.
Projekorganiseerder JJ van Niekerk sê vanjaar se tema van die ATKV-Toneelaanbod, “simbiose”, is die inspirasiewoord wat dien as die intensie vir die ATKV se toneelprojekte in 2024.
“Dis ’n viering van samelewing, wedersydse ondersteuning, intieme verhoudingsbou en samewerking met ’n gesamentlike doel om ons kinders die lig op die horison te wys en vir hulle ’n stem te gee sodat hul stories kan vlieg en ook ander se eiendom word,” sê Van Niekerk.
Besoek https://linktr.ee/atkv_toneel vir meer inligting oor die nasionale Simbiose-toneelfinaal en om jou kaartjies daarvoor te koop.