Projek gaan kinders geldslim maak

Finansiële geletterdheid is ’n noodsaaklike lewensvaardigheid, soos ander vaardighede wat kinders moet bemeester om toegerus te word om lewensuitdagings as volwassenes met selfvertroue te kan bestuur. Só sê Jennifer Tise, direkteur van Save and Invest a Penny (Sip) en skrywer van die Pennie Pensie-boekreeks.
Die ATKV-tak Ennerdale Baanbrekers stem saam met dié uitgangspunt en bied daarom op 30 Julie, in samewerking met Sip, ’n projek oor finansiële geletterdheid vir kinders aan. Melvin Tobias, ATKV-streekbestuurder, sê as ’n opleidingsgerigte organisasie wil die ATKV kinders vroeg-vroeg geldslim maak. “Dit is veral belangrik in die konteks van ons huidige ekonomie. Sonder ’n werkende kennis van finansies kan dit uitdagend wees om ’n sukses van jou lewe te maak. Ten spyte hiervan faal baie ouers en skole om geldslimheid te bevorder.”
Volgens onlangse navorsing deur Business Tech spaar 76% van mense elke maand slegs 15% van hul inkomste, terwyl 35% niks wegsit nie. Volgens die studie beteken dit baie Suid-Afrikaners sal nie kan bekostig om af te tree nie, óf sal tevrede moet wees met ’n laer lewenstandaard as wat hulle tans handhaaf.
Jennifer sê dit is belangrik om ’n ander ingesteldheid onder kinders te skep. “Die ekonomiese uitdagings van ons tyd, wat onder meer groter en groter afhanklikheid van beperkte staatsbronne insluit, plaas ons samelewing op ’n afwaartse spiraal na totale afhanklikheid en armoede. As ons nie nou ingryp en ons kinders toerus nie, kan dit katastrofiese gevolge vir hul generasie inhou.”
Die projek wil kinders hoofsaaklik die nodige finansiële vaardighede leer sodat hulle in die toekoms hul geld met selfvertroue en kennis sal bestuur. “Ons wil ook die idee tuisbring dat dit nie altyd nodig is om te leef van die hand na die mond nie, spesifiek in gemeenskappe waar daar sosio-ekonomiese uitdagings is,” sê Melvin.
Die projek se teikengroep is grondslagfaseleerders en teikenopvoeders en ouers in die betrokke gemeenskappe. Jennifer sê die idee is om ouers en onderwysers te motiveer en inspireer om die projek verder te neem binne hul gemeenskappe.
Vir meer inligting, kontak Melvin Tobias by 082 623 5239 of melvint@atkv.org.za.