Raakprater met dwergisme naaswenner van Redenaars
Wat Willem Minnaar (11) van die Laerskool Anton van Wouw in Pretoria nie in lengte gekry het nie, het hy meer as dubbeld in selfvertroue en persoonlikheid gekry.
Dit is dus geen wonder nie dat die raakprater, wat voor sy geboorte met dwergisme gediagnoseer is, die tweede plek behaal het tydens die ATKV-Redenaarsfinaal vir leerders in graad 4 en graad 5.
Willem het reeds as klein seuntjie die internet aan die gons gehad het toe hy “Nkosi Sikelel' iAfrika” met emmers vol passie en trots gesing het.
Met dié video het Willem ook Kwêla se Funnies-afdeling gewen in hul jaarlikse amateurvideokompetisie.
Willem was van kleins af ’n prater, vertel sy ma, Carmen Minnaar.
“Hy het van die begin af gebabbel. As gevolg van sy dwergisme het dit hom langer geneem om fisieke mylpale soos sit en loop te bereik.
“Daar is dae wat ek vir hom sê ‘Boeta, ek dink jou woorde vir die dag is al op – jy moet nou eers ’n bietjie stilbly.’ Dis die een vraag op die ander,” vertel Carmen laggend.
Willem beaam haar woorde oor die rede hoekom hy besluit het om redenaars te doen.
“Dis seker omdat ek so baie van praat hou. Mamma sê ek praat soms te veel.
“Dis vir my lekker as ek praat en mense stem saam met wat ek sê en as mense lag vir die goeters wat ek sê. Dis ook vir my lekker om goed te presteer.”
Willem het die tema “grond” vir sy toespraak gekies en hy het gepraat oor die magneet in Suid-Afrika se grond wat die sterkste trek en hoekom mense kies om terug te keer na die land aan die suidpunt van Afrika.
“Die ATKV-Redenaarkompetisie beteken vir Willem baie,” sê Carmen. “Hy was verlede jaar ook by die finaal en het agtste in Suid-Afrika gekom. Daardie dag het baie dinge skeefgeloop. Dit was vir ons lekker om nog ’n kans te kry, te leer uit ons foute en dit reg aan te pak.”
Is hy op sy senuwees as hy voor mense moet praat?
“Met kompetisies, soos die ATKV[-Redenaarskompetisie], is ek so ’n bietjie, want dis vir my belangrik, maar as ek net vir die lekkerte praat of net ’n sertifikaat kry, is ek nie en dan praat ek net lekker.”
Wanneer Carmen oor Willem gesels, hoor ’n mens die trots in haar stem.
“Hy hou nie terug nie. Hy pak met enige ding die bul by die horings. Hy doen alles wat ander kinders kan doen en wat hy wil doen, dit doen hy.”
Hoewel Willem volgens sy ma waarskynlik die Springbokke se grootste ondersteuner is, mag hy nie rugby speel nie, maar dit beteken nie sy dae is nie vol nie.
Hy het vanjaar begin met ukulele-lesse, hy sing koor, neem deel aan spanredenaars, speel krieket, gholf, tennis en ry bergfiets.
En as dit kom by sy toekoms het hy groot planne.
“In graad R wou ek die Bokke se coach geword het, maar die laaste drie jaar wil ek ’n meganiese ingenieur vir ’n Formule 1-span, verkieslik McLaren of Red Bull word.”
* In die afdeling waarin Willem deelgeneem het, was Josua Potgieter van die Laerskool Durbanville eerste. Linka Fraser van die Laerskool Wierdapark in Centurion was derde en het ook die prys ontvang vir die beste taalgebruiker.
Kyk hier na ’n uittreksel uit Willem se naaswennerstoespraak.