Radiodramaskryfkompetisie: Méér wenners, méér prysgeld
RSG en die ATKV is trots om vanjaar die 30ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie te vier, en om hierdie mylpaal te gedenk, bied die 2026-kompetisie meer prysgeld én meer wenners.
Die kompetisie is een van die oudste en mees langslewende skryfkompetisies in die land, asook die enigste wat steeds radiodrama in Afrikaans bevorder. Van die land se bekendste woordkunstenaars, soos Chris Barnard, was al voorheen wenners, terwyl dit deur die jare jonger skrywers bekendgestel het en ’n nuwe geslag luisteraars gekweek het.
Van die wendramas is al as gewilde verhoogdramas en selfs rolprente verwerk. Die akteur Marcel van Heerden se 2013-wenradiodrama, Vryslag, het byvoorbeeld later ’n veelbekroonde kortprent geword.
Groot pryse
Vanjaar is die totale prysgeld R135 000, en in stede van een merieteprys sal daar ter viering van die kompetisie se dertigste verjaardag nou ’n totaal van drie merietepryse wees.
Die skrywer van die wendrama ontvang R50 000, die tweede prys is R25 000 en die derdeplekwenner ontvang R15 000. Daar is ook R15 000 vir die wenner in die afdeling vir jong skrywers (jonger as dertig jaar). Om die kroon te span, sal drie deelnemers ’n merieteprys ter waarde van R10 000 elk ontvang.
Die groot eer vir elke jaarlikse wenner is dat hul radiodrama opgeneem en dan ook op RSG uitgesaai word.
Danksy RSG se vennootskap met die ATKV kry tientalle voornemende skrywers en deelnemers ook die geleentheid om ’n gratis dag lange slypskool in Kaapstad of Johannesburg by te woon. Kobus Burger, RSG se programbestuurder, sal die slypskool op Saterdag 28 Februarie in Johannesburg aanbied en dan is daar op Saterdag 14 Maart ’n slypskool by die SAUK-ateljee in Seepunt, Kaapstad.
Die sessies sluit ook ’n besoek aan die radiodrama-ateljee in, waartydens ’n kort radiodrama opgevoer en opgeneem sal word. Hier sal deelnemers regisseurs soos Leon van Nierop en gedugte radio-akteurs in aksie kan sien. Beperkte plekke is beskikbaar en kan deur RSG se webblad bespreek word.
Inskrywings vir die kompetisie sluit op Dinsdag 30 Junie om 13:00. Ná die eerste ronde van beoordeling sal ’n groep finaliste die kans gebied word om hul tekste met die hulp van ’n mentor en skrywer of regisseur te slyp, voordat die eindronde van beoordeling plaasvind.
Die wenners sal op Maandag 30 November op ’n luisterryke wyse tydens Spitstyd op RSG bekendgemaak word.
“Radiodrama gee aan enigiemand se verbeelding vrye teuels,” sê Kobus. “Klank bied eindelose moontlikhede en daarom is dit ook verblydend om te sien hoe al hoe meer jonger skrywers die medium van radiodrama omarm. Ons sien uit na die nuwe stories wat die kompetisie se dertigste feesjaar gaan oplewer.”
“Dit is vir die ATKV ’n reusevoorreg om betrokke te kan wees by die RSG-Radiodramaskryfkompetisie. Ná drie luisterryke dekades dra hierdie projek steeds noemenswaardig tot die Afrikaanse storieskatkis by,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW. “Die radiodramaslypskole wat die sluitingsdatum voorafgaan is ’n besondere geleentheid vir elke deelnemer om in hulself te belê, en die kreatiewe landskap van Afrikaans word onmeetbaar verruim deur die bemagtiging wat hierdie opleiding bied.”
Vir meer inligting, besoek www.rsg.co.za.
Die kompetisie se handleiding, inskrywingsvorm, kompetisiereëls, asook die inskrywingsvorm vir die gratis slypskole is op RSG se webblad beskikbaar.