Resensie: Geheim van die gruwelsand – Zirk van den Berg
Mense hou meestal van Barra (Barrabas) Nel. Behalwe vir die feit dat hy nie geld het nie, is hy dalk die tipe ou wat baie jong mans graag wil wees. Hy doen nie te sleg met die meisies nie, hy het baie vryheid en ry die land – in dié geval Namibië – plat. Mens kry die indruk hy is aantreklik genoeg, en hy is ’n gawe ou. Hy bring selfs vir ou tannies groente terug van sy omswerwinge. Daar is natuurlik die klein sakie van ’n minder etiese manier om geld in die hande te kry, hoofsaaklik om van te leef, maar daarvoor vergewe die leser hom maklik.
Eendag gebeur ’n gruwelike, bloedige, insident en Barra word verantwoordelik gehou. Om die situasie te probeer beredder, beland hy in die woestyn saam met die pragtige Hedda Lafrentz en die bose Nazi-wetenskaplike, professor Grohman. Die twee hou hulle besig met sinistere en geheime eksperimente met die sand van die Namibwoestyn. Dit is 1942 en daar woed ’n Wêreldoorlog. Hedda roer dadelik Barra se hartsnare, en ’n ander snaar of twee ook, maar vreemde dinge begin gebeur. Op hierdie punt begin die boek dan ook voel soos ’n Hollywood-aksiefilm en Barra lyk teen dié tyd in die leser se kop na iemand soos Chris Hemsworth, maar ons praat nie van die soort aksiefilm wat jy al vyfhonderd keer in verskillende gedaantes gesien het nie. Nee, dié skop-skiet-en-wonderstorie, soos dit op die voorblad beskryf word, is veel slimmer en … kom ons sê, meer onwelriekend.
Dis ’n verhaal vol verbeelding, geskryf in die heerlike Afrikaans wat eie is aan Zirk van den Berg. Dit is vol van die tipe sinne wat ’n mens laat wonder waarom jý dit nie uitgedink het nie. Soos die aanvaller, wat die “ene sproete en venyn” is (bl. 22). Op bladsy 81 lees ons, “Hy is nie haar dienaar of minnaar nie, en is net spyt oor een van die twee.”
Kyk gerus uit vir die paaseiers (sogenaamde Easter eggs – as ’n skrywer verwysings na sy ander boeke by die storie inwerk) wat Van den Berg oral in die boek wegsteek. Hier was dit in die vorm van die titels van sy ander boeke, onder andere Ek wens ek wens, Tweegevreet en Die onsigbare pou.
Daar is ook ’n bietjie sand wat in hierdie leser se skoen beland en effens gekrap het. Die bose Grohman is miskien net té eendimensioneel-boos, maar die ander karakters is soos regte mense, en dit maak weer op daarvoor. Daar word ook hier en daar ’n vloekwoord gebruik, wat nie ’n probleem sou wees nie, maar dié spesifieke woord het eers in die 1990’s gebruiklik geraak in Afrikaans en in die boek gebruik die karakters dit in 1942 (bl. 9, bl. 181). Nog iets wat ek dink niemand in 1942 sou sê nie, is: “Jinne, daai vrou het ’n lyf!” Dis ’n uitdrukking wat veel later mode geraak het.
Die boek neem homself nie te ernstig op nie en is een van die prettigste boeke wat onlangs in Afrikaans verskyn het. Nou wil ek net graag ’n gollem sien.
Resensent: Analize Viljoen