Resensie: ‘Is jy orraait, Elizabeth’

Ons ken waarskynlik almal iemand met ’n familielid of vriend met downsindroom of ’n ander soort gestremdheid in die familie. Maar wat weet ons regtig van die gesinsdinamika en uitdagings van so ’n familie?
In 2009 het ek die voorreg gehad om met Tobea Brink ’n onderhoud te doen oor haar boek Die hemelklip, en ook die boek by ons plaaslike leeskring bespreek. Die boek handel, net soos Is jy orraait, Elizabeth? deur Rozaan de Wet Boer, oor die lewe van ’n gesin met ’n Downsie. “Downsie”, die term wat deesdae gebruik word om na mense met downsindroom te verwys, is ’n sagte benaming vir sagte, weerlose mense.
Die afgelope paar jaar het daar verskeie verhoudingsromans verskyn oor doodgewone, onvolmaakte mense, soos die onlangse Haas en Harriët van Susan Coetzer en Donkertyd van Mariël le Roux.
Posttraumatiese stresversteuring is tipies van ons tydsgees, ook iets wat al hoe meer in boeke voorkom. Is jy orraait Elizabeth? is geen uitsondering en is vol onvolmaakte karakters.
Rozaan de Wet Boer debuteer in 2019 met Uit die hart van ’n vrou. Die tema is die helende krag van vriendskap tussen vroue in disfunksionele gesinne.
Is jy orraait Elizabeth? vertel die verhaal van drie boesemvriendinne – Ada, Mirna en Elizabeth – wat mekaar deur dik en dun ondersteun. Daar is ook ’n vierde newekarakter, Linelle. Hulle vriendskap is die kern van die verhaal en dien as ’n bron van krag en stabiliteit te midde van die uitdagings van die lewe.
Elizabeth is getroud met ’n toegewyde en oorwerkte chirurg, Derik. Haar huwelik verg baie opoffering, aangesien sy gereeld tweede viool speel teenoor haar moeë man se beroep.
Ada is ’n oorwerkte onderwyseres en aspirantskrywer. Sy leef eenvoudig. Materialisme en hedonisme pla haar nie, tog is haar akademiese statuur vir haar belangrik. Sy is gasvry, opgeruimd en altyd gereed om ondersteuning te bied.
Mirna, daarenteen, is ’n voorkomsbewuste, maar empatiese moeder. Alhoewel haar kinders reeds volwasse is, is sy steeds beskermend teenoor hulle. Sy sukkel met haar kompulsiewe koopgewoontes en die skuldgevoelens wat daarmee gepaard gaan.
Die sentrale fokus van die boek is Philip, Elizabeth en Derik se seun, wat met downsindroom gebore is. Elizabeth se aanvanklike reaksie op die diagnose is hartverskeurend. Sy gaan deur ’n rouproses en worstel met ontkenning, skuldgevoelens en frustrasie. Sy vind dit moeilik om haar seun te aanvaar, terwyl Derik hom makliker in hul lewe verwelkom. Philip se ouer suster, Santie, is van meet af aan lief vir hom en aanvaar hom onvoorwaardelik.
Mettertyd verander Elizabeth se verhouding met Philip. Sy besef dat sy nie ’n keuse het oor sy bestaan nie en dat sy lewe hul gesin ryker maak. Alhoewel sy sukkel met die praktiese uitdagings wat sy gestremdheid meebring, leer sy van onvoorwaardelike liefde en aanpassing. Sy besef dat Philip hul gesin leer om stadiger te leef en gesonde waardes na te streef.
Die roman ondersoek ook gesinskwessies soos egbreek, dwelmverslawing, eetversteurings, angs en die uitdagings van ouerskap.
Die roman se sterk punt is die rou, eerlike beskrywing van die ervarings van ’n ouer met ’n gestremde kind. Dit skroom nie om die moeilike oomblikke uit te beeld nie – soos Elizabeth se frustrasie oor Philip se stadige pas en sy masturbasie wanneer hy angstig voel.
Terselfdertyd is daar hartroerende, ligte oomblikke wat Philip se unieke persoonlikheid beklemtoon. Hy gee graag drukkies, bewonder sy ouers eindeloos en bring vreugde in hul lewe – al is dit soms op onvoorspelbare maniere.
Elizabeth se vriendskap met Ada en Mirna het ook sy eie dinamika, soos die lewe is. Hulle bied ’n skouer om op te huil, maar is ook eerlik met mekaar. Die roman beklemtoon hoe belangrik ware vriendskap is en hoe dit ’n mens kan dra deur die moeilikste tye.
Die skrywer gebruik haar eie ervarings om ’n geloofwaardige en egte vertelling te skep. Die rou eerlikheid vra ’n dapper leser. Dit dwing lesers om hulle eie vooroordele in die oë te kyk.
Tog is die boek nie sonder foute nie. Daar is te veel herhaling, en is in geheel ’n voorbeeld van telling, not showing. Dit is asof elke aksie deur die skrywer verduidelik moet word. Moontlik is dit doelbewus so gedoen, omdat geen mens hom in die skoene kan stel van ’n ouer met ’n kind met spesiale behoeftes nie. ’n Mens kan aflei hoe só ’n ouer die hele tyd genoop voel om verskonings te maak, of gedrag te verduidelik, wat dan in die skrywerstem deurkom.
Die boek speel af oor ’n ongespesifiseerde aantal jaar, wat dit moeilik maak om tred te hou met Philip se emosionele ontwikkeling. Tog is dit ook ’n aanduiding van die vaagheid van tydsverloop vir hom, en dus heel gepas.
Die treffende titel, Is jy orraait, Elizabeth? is amper ’n samevatting van hierdie belangrike werk. Dit is ’n huldeblyk aan ouers wat soortgelyke uitdagings moet hanteer en dra ’n belangrike boodskap van liefde, aanvaarding en volharding oor. Dit is ’n roerende en inspirerende storie wat die leser se perspektief op gesinsdinamika en gestremdheid verbreed.
Resensent: Trisa Hugo