Resensie: ‘Op pad na ’n klooster in die sneeu’
Mense ken Johannes De Villiers van sy insetsel Die Blydskapnavorser op RSG, sy landwye aanbiedinge oor onder andere aandagtigheid, asook sy vorige boeke oor kalmte en blydskap, Kalmte in die malle gejaag (2018), Blydskap (2020) en Meer as jou seerkry (2022).
Juis uit my respek vir die bewustelike manier waarop hy praat en lewe, het ek lank en met dieselfde respek aan Op pad na ’n klooster in die sneeu gelees.
Hierdie roman is ’n ernstige en introspektiewe pelgrimstog, met ’n weemoedige gevoel. Die storie fokus op ’n onbenoemde hoofkarakter – ’n jong apteker in Bloemfontein wat voel sy menswees word in die daaglikse sleur van werk, slaap en geldmaak vernietig. Hy voel eensaam en beleef die wêreld waarin hy leef as sinloos.
Wanneer hy op ’n mistieke skrywe van Thomas à Kempis afkom, begin hy van ’n ander lewe droom – ’n asketiese bestaan, weg van die materiële wêreld. Aan die vooraand van ’n reis na ’n Franse klooster kom hy agter dat hy ’n oom het wat ’n Katolieke priester geword het en in Parys woon. Hierdie ontdekking ontlok ’n diepe vriendskap tussen die jong apteker en die bejaarde pater, oor oseane en dekades heen.
“Jy is hier omdat jy jou rug op die lewe wil keer en jou heeltemal van alles los wil maak,” het hy gesê. “Maar jou soektog is vergeefs. Jy kan aan elke kloosterdeur die wêreld klop, maar jy sal nie stroping daar vind nie. Stroping is nie iets wat jy kan najaag net omdat jy moeg is vir die lewe nie. Stroping, indien dit dan wel jou lotsbestemming sou wees, sal met jou gebeur op ’n tydstip wat jy nie self sal kies nie en dit sal in diens wees van ’n hoër saak. Dit is hoe dit met my gebeur het. En ek hoop opreg dit bly jou gespaar.” (p.129)
Die verhaal word in twee tydlyne vertel. Die jong Adelbert reis in 1964 saam met Ollie en Clyde na San Giovanni Rotondo, in die hoop om Padre Pio se ontmoet. Padre Pio is nie bloot ’n karakter nie, maar ’n historiese figuur wat vir sy befaamde bilokasievermoë en permanente bloeiende stigmata bekend was. Daar het hulle ’n lewensveranderende ervaring en spat uitmekaar.
Aanvanklik aanvaar die leser dat die jong man die hoofkarakter is, maar gaandeweg kom jy agter dit is eintlik sy oom Adelbert Jansen van Breda se verhaal.
In die laaste gedeelte van die boek word dieselfde verhaal deur die bejaarde Adelbert se perspektief in die vorm van briewe vertel. Die verhaal neem ’n ander wending en die spanning bou op wat jou laat glo in storge en sielsverbintenisse.
Hierdie roman is ’n fisieke en geestelike introspeksie, ’n soeke na innerlike vrede, losmaking en stilword. Selfs die naamloosheid van die jong man dui op gestroopheid en aflegging van die ego, wat so ’n groot rol in hierdie boek speel. Die waarde van om in stilte te kan luister, is as onderstroom dwarsdeur sigbaar.
Die lewe het besig en ’n gejaag geword. Stilte word dikwels vermy. Ons vul dit met musiek, menings en konstante interaksie. In teenstelling daarmee stel die roman ’n wêreld voor waarin stilte nie ’n leegte is nie, maar ’n toegangspoort tot waarheid en geestelike verdieping. “Mense begryp stilte nie meer nie.” (Adelbert aan sy vriend Artur, p.257)
De Villiers beskryf stilte nie bloot as die afwesigheid van klank nie, maar as ’n aktiewe ruimte waarin die self ontbloot word. Só word ’n mens gekonfronteer met dit wat oorbly – jou innerlike stem, jou onsekerhede en onverwerkte herinneringe.
Die boek is in die verlede tyd geskryf, wat glad nie hinderlik is nie – inteendeel, dit versterk die meditatiewe, kontemplatiewe aard van die roman.
Hierdie is nie ’n maklike lees nie. Dit is vol vreemde woorde en plekname, maar dit noop die leser om die betekenis van woorde op te soek. Dit is immers nie ’n spanningsverhaal vol aksie nie, maar eerder ’n innerlike reis.
Een van die sterk punte van die boek is hoe De Villiers die innerlike stryd van die protagonis neerpen. Hy is nie net op soek na God of ’n ekstreme vorm van heiligheid nie – hy soek na homself, na sy eie identiteit.
Hierdie diep soeke word nie oppervlakkig aangebied nie – die skrywer vra moeilike vrae oor verlange, geloof, vriendskap en die koste van ’n geestelike roeping.
Die skryfstyl is kalm en meditatief, wat goed by die tema van kloosterlewe en kontemplasie pas. De Villiers se agtergrond as meditasie-onderwyser en sy ervaring met kloosters is duidelik. Hy bring ’n eerlike en genuanseerde perspektief, sonder dogmatiese preke, maar met ’n aanvoeling vir die mistieke lewe.
Dit is ook die aanvoeling wat ek as leser gekry het, dat hierdie boek se skryf vir die skrywer ’n tipe mistieke ervaring was, en dat die skrywe daarvan op ’n manier uit ’n universele bewustheid gekanaliseer is.
Terselfdertyd is die roman emosioneel ryk. Die koue sneeu, die berge, die stilte – dié omgewing dien as ’n simboliese ruimte vir die innerlike koue van die protagonis se hart, en ook as ’n plek van genesing. Daar is ’n gevoel van rituele en stilte dwarsdeur, wat die leser nooi om self stil te word en na te dink. Hierdie oopstelling en terugstaan kan as die pad na heiligmaking gesien word.
Op pad na ’n klooster in die sneeu is ’n weemoedige, poëtiese en diep-geestelike roman wat ’n unieke wêreld van stilte, innerlike soeke en ware vriendskap oopmaak en word vir alle ernstige lesers aanbeveel.