Rieldansers vier kultuurerfenis tydens Erfenisdag-minifeeste
Erfenisdag is veel meer as ’n Nasionale Braaidag. Hoewel Suid-Afrikaners lief is vir ’n vleisie op die kole, is dit maar slegs een van talle gedeelde erfenisse − soos ons herkoms, diversiteit en kultuur. Dié jaar word die rieldans in al sy glorie gevier, nadat die ATKV se Rieldanskompetisie die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie in die stof moes byt.
Die ATKV bied sedert 2006 die Rieldanskompetisie aan. Die riel is ’n sosiale kultuuraktiwiteit wat voor duisende mense gedans moet word. Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur sê, “Ons is terug met twee mini ATKV-Rieldansfeeste in Carnarvon en De Doorns om só weer die riel te bevorder en te vier. Die ATKV bied die Rieldansprojek aan om te verseker dat die riel in sy oorspronklike vorm behoue bly, ontwikkel en bevorder word; die essensie daarvan behoue sal bly as daar noodwendig enige verbeterings gemaak moet word; en die dansvorm sy regmatige plek tussen al die ander tradisionele danse van Suid-Afrika kan inneem.”
Die riel is ’n ekspressionistiese dansvorm waarin heelwat simboliek verskuil lê.
Benewens die energieke passies bestaan die riel ook uit ’n verskeidenheid nabootsings van fyn uitgewerkte simboliese bewegings soos die hoedgooi, die na-aap van verskillende diere en voëls, asook werksituasies. Die satiriese aard leer die rielgemeenskap om ten spyte van swaarmoedigheid en swaarkry tog die lewe te geniet.
Gerrie sê, “Rieldans is deel van ons kultuurerfenis. Kultuurtoerisme en entrepreneurskap in die kunste is van die kulturele voordele wat uit plattelandse danse soos die riel geput kan word. Deelnemers se lewensuitkyk word verbreed, want diegene wat selde of ooit hul tuisdorp verlaat, kry nou die geleentheid om ten minste een keer per jaar na ’n ander dorp te reis. Afhangend van ’n betrokke groep se prestasie, kan hulle selfs tot vier keer per jaar na ander dorpe reis. So word hulle hopelik gestimuleer om die gewone en soms hopelose bestaan in hul tuisdorp anders te benader. Gemeenskappe vind ook finansieel baat wanneer streeksuitdunne in hulle dorp aangebied word.”
Die ATKV-Rieldanskompetisie het vir baie jare die lewe van die deelnemende rieldansers en dié van hulle onderskeie gemeenskappe grootliks verryk. “Die terugreis na ’n kultuurskat wat deur invloede van buite, maar ook deur eie toedoen, na die buitenste periferie uitgeskuif is, bring die dansers se selftrots terug. Hierdie positiewe selfgeldingsdrang wat weer tot uiting kom, is baie duidelik te sien wanneer daar met mening teen mekaar gekompeteer word. Die rieldansers wat andersins nie juis raakgesien word nie, is nou die sentrum van belangstelling. Hulle besef hulle het iets om aan mense te bied en hulle moet dit na die beste van hulle vermoë doen! Ons sien geweldig uit na vanjaar se rieldansfeesvieringe,” sê Gerrie.
Die ATKV-Rieldans-minifeeste vind op 24 September om 10:00 by die Carnarvon Sportgronde plaas, en op 8 Oktober om 09:00 by die Hoërskool Hexvallei se sportgronde.