Robin Fourie: Die Hooflig skyn helder
Robin-Dean Fourie is gebore en getoë in Worcester, en as kletsrymer staan hy nie net bekend as Die Hooflig nie, maar ook as “Die peetpa van Bolandse hip-hop”.
’n Aanlyn bewonderaar beskryf hom as “’n leidende lig vir al die musikante wat hy mentor”. Dit is ’n lig wat strek verby die kollig; wat, ironies genoeg, vir hom begin opkom het weens ’n spraakprobleem.
“Vandat ek begin praat het, het ek erg gehakkel en dit het my ’n introvert gemaak,” vertel die man wat vandag gehore en gemeenskappe aan sy voete het. “Om te gesels was vir my moeilik, want al het mense dit goed bedoel, het dit my ongemaklik laat voel as hulle my probeer help of my sinne probeer voltooi het. Ek het gesukkel met ’n lae selfbeeld en ek het nie baie courage gehad nie.”
Omdat hy nie goed kon praat nie en nie ’n goeie begrip van letters en woorde gehad het nie, het Robin boonop nie van boeke en lees gehou nie. “Ek het gedink, wat is die nut van lees as ek nie eens woorde kan sê nie? Ek het nie baie goed gedoen op skool nie, want ek kon nie goed skryf nie. Dit was vir my ’n groot ding,” verduidelik hy.
Aan die einde van sy hoërskoolloopbaan het hy egter die lig begin sien (al was dit nou nog nie Die Hooflig nie). “Die eerste keer wat ek regtig gelees het, was ná matriek. Toe kom ek agter ek het darem ’n breinsel of twee,” vertel hy.
Hy het ook besef daar is ’n beduidende silwerrandjie om die donker wolk van sy spraakgebrek – dit het hom geleer om na mense te luister en soms dieper werklikhede agter hul woorde te hoor. “Ek het agtergekom die mense wat so vlot praat, maak gewoonlik die meeste foute en hulle sê soms die verkeerdste goed,” verduidelik hy. “Ek het op ’n kol gedink dis eintlik ’n blessing om te hakkel, want dit laat jou jou woorde meer noukeurig kies ... Dit gee jou ’n sense van menswees.”
Hoewel Robin se woorde aanvanklik agterweë gebly het, het hy in graad agt in hip-hop begin belangstel, want, sê hy, hy “wou maar net êrens, êrens, êrens behoort”. In die proses het hy sy identiteit begin ontdek deur die musiek waarna hy geluister het, maar ook geweet daar moet meer wees …
’n Belangrike deel van die ontdekkingstog was en is sy betrokkenheid by die ATKV. ’n Vriend, Simon Witbooi, het hom agt jaar gelede aan die organisasie bekendgestel. “Toe ek vir die eerste keer by ’n ATKV-werkswinkel was, het hulle gehou van my en van wat ek doen, hoe ek die mense handle en wat ek offer,” vertel hy. “En soos die mense sê, the rest is history.”
Een van Robin se hoogtepunte is sy betrokkenheid by ATKV-Crescendo as kreatiewe direkteur en by uitstek die Platformsessies wat weens die Covid-19-pandemie ontstaan het.
“Niks het gebeur vir kunstenaars nie; niemand het nêrens gegaan nie en almal het half in vrees gelewe. Ek het die konsep van Platformsessies vir ATKV-Crescendo ontwikkel om mense te challenge; om te sê dat dinge moet aangaan,” vertel hy.
Die negende Platformsessie, getiteld GOUD het in November 2023 by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch plaasgevind, onder meer as die ATKV se manier om dankie te sê vir die media, borge, vennote en seisoenkaartjiehouers wat hulle in 2023 ondersteun het.
Ten diepste strek die Platformsessies se waarde egter veel verder as uitmuntende uitvoerende kuns of opregte dankbaarheid. “Die sessies is die plek waar ons equalisation laat gebeur; waar ons regmatig in mekaar se oë kan kyk en erken dat ons mekaar nodig het,” verduidelik Robin. “Musiek is ’n universele taal wat mense bymekaarbring. Met die Platformsessies wil ons vreugde, vrede en samehorigheid bewerkstellig”.
Benewens sy ATKV-betrokkenheid is Robin bykans twee dekades lank al ’n lid van die organisasie Enhancing Excellence in People (EXP), wat bestaan uit ’n groep kunstenaars wat sosiale transformasie deur die kunste probeer bewerkstellig. Een van die maniere waarop hulle dit doen is deur gratis Expression Sessions wat elke laaste Donderdag van die maand in Worcester plaasvind. “Ons vra niks by die deur nie, die kunstenaars vra niks om te perform nie. Ons doel is net om ’n platform te skep waar plaaslike kunstenaars hulself kan express, met idees eksperimenteer en networking doen,” verduidelik hy.
Dit is ook ’n geleentheid om mense in die ATKV se mentorskapprogram te kry, want EXP glo as jy ’n beter kunstenaar wil wees, moet jy ’n beter mens wees. “Daarom fokus ons op mense se karakter en integriteit voordat ons harde emphasis op hul talente sit,” sê Robin en voeg dan by, “Wat is die lekker daaraan om ’n gifted persoon te wees as jy nie ’n lekker character het nie?”
Nog ’n mikpunt en passie is om die huidige kulturele narratief te verander. Soos Robin dit stel, “van hoe mense van ons mense, van bruin mense dink. Ons het meer om te gee as wat van ons gesê was. Ons het meer om te bied as wat mense dink. Net om dit vir ander te kan sê, moet die liggies laat aangaan. Dit is klaar vir my ’n hoogtepunt en ek is so dankbaar vir die geleentheid wat ATKV-Crescendo en die Platformsessies vir my gee om ’n verskil te maak.”
Les bes, benewens al die loopbaan- en gemeenskapsuksesse, is Robin se familie sy hart se punt. “My familie beteken vir my alles. Die groot rede hoekom ek doen wat ek doen, is om ’n legacy te los; om iets te doen waaroor my kinders sal sê hulle is trots om daarmee geassosieer te word,” sê hy.
Uiteindelik is die dryfveer agter al dié hoogtepunte mense. “Dit gaan oor mense en mense se harte,” sê Robin-Dean Fourie, ook bekend as Die Hooflig, en vir almal wat op sy pad kom, ’n man wie se hart op presies die regte plek is.