‘Roman’: Nuwe blik op boosaardige Bloubaard Swanepoel
Verskeie artikels en boeke is al oor die historiese Gert Bloubaard Swanepoel geskryf, onder andere ’n roman, Terror of the Outeniquas, deur Buks Venter. Dit is egter in Die grootpad is ’n grondpad deur Daniël Lötter dat ek vir die eerste keer kennis gemaak het met hierdie wrede man.
In hierdie vierde roman van Cas Wepener, Roman, word die verhaal van die navorser Danie Gouws vertel, wat in die Klein-Karoo navorsing doen oor kultuurhistoriese gebruike en gegewens. Wanneer hy te doene kry met die stories rondom die wreedaard Gert Bloubaard Swanepoel, ontwikkel hy ’n fassinasie met die karakter – veral omdat daar soveel verskillende weergawes van dieselfde storie is.
Hy leer dat die perspektief waarvandaan gekyk word, afhang van baie dinge, veral van watter voordeel die persoon uit ’n situasie trek. Só word die waarheid en herinneringe uit die verlede baie plooibaar.
Danie bevraagteken ook gedurig sy eie waarhede soos hy vorder en met meer mense gesels.
Die roman spring tussen die hede en die verlede en gaan dikwels soomloos in een toneel oor van die hede na dit wat afspeel in die verlede, asof dit ’n hersenskim is wat deur die newels sigbaar word.
Bygelowe, waarsêery en voorbodes word ingespan deur verskeie karakters wat met die spreekwoordelike helm gebore is om hulle verhale meer oortuigend te maak. Veral die hemelruim, komete en verduisterings kom herhaaldelik voor in die oorvertellings.
Gert Swanepoel was nie die rede waarom Danie Gouws aanvanklik Klein-Karoo toe is nie. Hy begin deur die kontrei se kultuurhistoriese gegewens op te teken, maar sy toenemende fassinasie met Gert Swanepoel van die plaas Rietfontein se verhaal, uit verskillende perspektiewe beskou, maak die boek uiteindelik oor hom. Hy was die laaste mens wat in die openbaar in George tereggestel is.
Die wreedheid van die karakter word al as kind waargeneem, waar hy gefassineer is en selfs lag as hy toekyk hoe sy ma ’n skreeuende kleintjie se “mangels skep” met ’n skerpgemaakte rooiwarm teelepel, terwyl die kind se mond met stange oopgesper word. Hy is dus geneties en sosiaal geprogrammeer om voort te bou op sy ma se wreedhede.
Die detail in die boek is afgryslik. Die afranseling van Feitjie laat die leser gru, maar jy moet weet waarheen mik die verhaal. Die spanning word snaarstyf getrek en gehou – die leser beweeg saam na die verlede. Tog slaag die skrywer uitstekend daarin om selfs aan die bose karakter ’n sy te gee waarmee die leser soms deernis kan hê.
Lesers assosieer meer met sekere karakters in ’n boek as met ander, dikwels omdat die karakters eienskappe of ervarings het waarmee die leser kan vereenselwig. Dit kan gevoelens van herkenning en besondere bekendheid ontketen, maar dit het nie noodwendig iets met reïnkarnasie of vorige lewens te doen nie. Of het dit? Kan karakters wat wissel tussen hede en verlede parallelle lewens lei? Die newelagtigheid waarmee die skrywer hierdie leser telkens verlei het om die skakeling en oorskakeling tussen toe en nou besonder eg te laat voel, asof dit maar een verhaal is, is knap hanteer.
Die taalgebruik is perfek in pas met die verhaal se tydlyne – die swak Wi-Fi sein nou, en die beul wat die lus om Gert se nek hang.
Lesers van historiese fiksie, sowel as dié wat diep geraak word deur menslikheid en die liefde wat stelselmatig kan ontspoor totdat mense mekaar kan sien vir wie hulle werklik is, gaan vasgevang sit, en weer I.D. du Plessis se gedig Rietfontein lees.
“By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom,
Word op maanverligte nagte nog ’n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.”
Klik hier om die boek aan te koop.