Romanzas bied ontvlugting in ’n gebroke wêreld

Of jy nou ’n warmbloedige romantikus is, skelm ’n romantiese rolprent kyk wanneer die res van die huishouding slaap, of ’n koue, gevoellose klip is, wil ons almal graag hê dat die held en die heldin uiteindelik bymekaar moet uitkom.
In die romanza-genre is een ding seker: liefde sal altyd oorwin – en aangesien dit die maand van die liefde is, is dit juis nou die ideale tyd om jouself te verdiep in ’n liefdesverhaal.
“Ek dink mense lees romanzas juis vir die rede hoekom ek hulle skryf. Ons lewe in ’n gebroke wêreld van egskeidings, enkelouerhuishoudings en hartseer. Die liefde is nie meer so gereeld in omloop nie en romanzas bring weer ’n bietjie hoop vir ’n leser,” sê die skrywer Dina Botha.
Dina het pas haar 81ste romanza, My alles vir jou, bekendgestel.
“’n Romanza het altyd ’n gelukkige einde. Dit gee vir die leser hoop dat daar dalk weer ’n maat of liefde daar buite is vir hulle,” sê sy.
Die skrywer Elsa Winckler gaan akkoord.
“Dit is baie soos die feëverhale wat ons as kinders gelees het. Dit bied ontvlugting in ’n tyd waar ons gereeld gekonfronteer word met oorloë, geweld en ’n onlangse pandemie. Jy kan ’n romanza in twee tot drie ure klaar lees, maar vir daardie paar uur vergeet jy van die lewe daar buite. Jy ontsnap na ’n werklikheid waar mense dinge regkry.”
Volgens haar is daar altyd ’n magiese tipe liefde in hierdie soort boeke.
“Dit volg die resep waar die held of heldin se ander helfte daar buite is. Daar is konflik en uitdagings, maar liefde seëvier.”
Elsa meen ook dat romanzas deur die jare verander het en aangepas het met die tye.
“Soos met die #MeToo-beweging, kan ’n held nie net vat wat hy wil hê nie. Hy moet vra en in die meeste gevalle is die heldin ’n sterk en onafhanklik vrou.”
Dina stem saam en sê sy poog altyd om ’n vars en moderne aanslag te hê wanneer sy skryf.
“Ek put baie inspirasie uit aktuele sake. Ek probeer gebeure in die werklikheid in my skryfwerk in te bring en om jonger lesers te boei, sal my karakters ook in baie gevalle moderne individue wees wat op datum is met die nuutste tegnologie en gebeure.”
Volgens Christelle Woudberg, redaktrise van die Romanza-druknaam by LAPA Uitgewers, is dié genre een van hulle gewildste.
“Dit volg ’n sekere resep. Niemand sterf nie. Daar is drama en konflik, maar dit is ’n lekker leeservaring.”
Christelle sê hulle publiseer jaarliks sowat 48 titels – twee elke maand.
“Die aanvraag is groot en lesers wil hê ons moet meer druk, maar ons het tans nie die kapasiteit daarvoor nie. Elkeen van ons titels verkoop ook uit as dit op die rakke verskyn.”
Sy verklap dat hulle ook vanjaar ’n nuwe druknaam, Romanza Stoom, op die been gebring het.
“Dit is warmer as jou gewone romanzas. In jou tradisionele romanza sal die kamerdeur toeslaan as die held en die heldin slaapkamer toe gaan. In hierdie boeke maak die deur nooit toe nie.
Hulle het ook ’n Romanza-boekklub, waarby lesers kan aansluit en maandeliks ’n sekere aantal boeke per koerier kan ontvang.
“Selfs op plase en verafgeleë plekke kan ons die boeke by die leser bring. In vandag se tyd moet almal weer in liefde kan glo.”