RUK EN RYM 2025: Hier kom ’n ding

Droom jy daarvan om ’n alternatiewe Afrikaanse kunstenaar te wees, maar jy twyfel steeds of jy goed genoeg is?
“Moenie in die pad van jou eie sukses staan nie.” Dié raad kom van Augusta Zietsman – ook bekend as die alternatiewe Afrikaanse kunstenaar Sossi – een van die beoordelaars van vanjaar se ATKV se Taalgenoot-RUK EN RYM-kompetisie.
Dié kompetisie is vir die eerste keer in 2023 gehou en bied ’n platform aan musikante wat nêrens anders beskikbaar is nie. Enige klankskeppende kunstenaar wat alternatiewe musiek met hoofsaaklik Afrikaanse lirieke maak, kan inskryf. Daar is geen inskrywingsfooi nie. Pryse sluit ateljeetyd, musiekvideo’s en optredes in.
Augusta verstaan alte goed die selftwyfel waarmee kunstenaars soms worstel. “Ek doen dit al jare en ek voel nog steeds nie ek is goed genoeg nie, maar ek het onlangs besef as jy iets nie nóú doen nie, gaan jy dit nóóit doen nie! As jy passievol is oor musiek en jy het ’n boodskap wat jy wil oordra, haal jouself uit die prentjie uit. Dit gaan oor die musiek.”
Sy voel as ’n liedjie “net een persoon ’n bietjie minder alleen kan laat voel” is dit alles die moeite werd.
Hoekom musiek maak in Afrikaans? “Ek dink daar gebeur iets in jou brein as jy kuns hoor of sien in jou moedertaal. Dit het vir my ’n dieper betekenis … hy gaan sit ’n bietjie in jou murg!” verduidelik Augusta.
En waarna gaan sy oplet as beoordelaar? “Is die persoon besig om homself te wees? Die oomblik wanneer jy op die verhoog klim, kyk mense regdeur jou. Mense sien of jy eg is of nie.”
Jaco van der Merwe, Taalgenoot-RUK EN RYM se kreatiewe direkteur, beaam dit. “Doen iets vars en iets wat eg is, wat jy is,” is sy raad aan voornemende deelnemers.
Jaco, wat al 27 jaar in die alternatiewe musiekbedryf is, verduidelik dié kompetisie vul die leemte in die Afrikaanse musieklandskap wat ontstaan het na die verdwyning van Oppikoppi en die TV-kanaal MK wat ’n platform vir veral Afrikaanse punk, rock, hip-hop en metal was.
Die afwesigheid van sulke platforms het kunstenaars gedwing om hul musiek op YouTube te laai, “waar jy met die res van die wêreld én die algoritme meeding”. Maar, sê Jaco, Taalgenoot-RUK EN RYM plaas nou die kollig helder op nuwe, alternatiewe Afrikaanse musiek.
Vanjaar is kykNET een van die kompetisie se borge. Waldimar Pelser, M-Net Direkteur: Premium-kanale sê kykNET is nog altyd toegewyd aan die groei en ontwikkeling van jong talent in die breë Afrikaanse mark wat die kanaal bedien.
“Ons vat gereeld hande met ander rolspelers wanneer ons werklik in die potensiaal van ’n projek glo wat die plaaslike vermaaklikheidsbedryf uitbrei. Taalgenoot-RUK EN RYM is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. Dit bied ’n dinamiese platform vir ontluikende kunstenaars wat alternatiewe musiek in Afrikaans skep en kweek opnuut passie vir uiteenlopende musiekgenres in Afrikaans. kykNET is dankbaar en opgewonde om saam met Taalgenoot stukrag te gee aan so ’n innoverende platform!”
Jaco is veral beïndruk met die reikwydte van die kompetisie en vertel vorige deelnemers het van sover as Kathu, Kimberley en Lichtenburg gekom.
Wat maak Taalgenoot-RUK EN RYM besonders?
Jaco meen dit is eerstens die geleentheid om nuwe musiek, lirieke, klanke en kunstenaars te ontdek waarvan ’n mens andersins nie sou weet nie. Boonop bied dit aan opkomende kunstenaars die geleentheid om – dikwels vir die eerste keer – voor ’n gehoor op te tree. Tweedens vorm deelnemers ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun.
Watter soort musiek moet jy maak om te kan deelneem? Jaco sê die doel van die kompetisie is om ’n platform te bied aan enige “vars, innoverende musikante wat nie hoofstroommusiek maak nie en nie formules volg nie”.
Inskrywings vir Taalgenoot-RUK EN RYM sluit op 28 Julie 2025 en die semifinaliste word op 4 Augustus aangekondig. Semifinale rondes word op 13 September by Sognage in Randburg en 24 Augustus in by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch gehou. Die finaal vind op 12 Oktober by die Daisy Jones Bar as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees plaas.
Jaco verklap dat Jack Parow by die geleentheid gaan optree en een van die gasbeoordelaars gaan wees.
Sanger-liedjieskrywers, bands, groepe, kletsrymers, elektroniese musikante en enigiemand wat oorspronklike musiek maak en meestal Afrikaans in die lirieke gebruik, mag inskryf. As jy dink jy het ’n talent, ’n liedjie of ’n oorspronklike idee wat gehoor moet word, skryf in! Besoek www.rukenrym.co.za vir meer inligting en om jou inskrywing in te dien.
Taalgenoot-RUK EN RYM se onmisbare vennote is kykNET, Spotify, die Toyota Stellenbosch Woordfees, Wêreld, Marshall Music, Planet Awesome, Veldskoen, Klyntji, Locally Yellow, Steyn IP, Sonder Ink, Yes! Definitely en The Paperclip.