RUK EN RYM stook alternatiewemusiekvlam
Taalgenoot-RUK EN RYM is in sy tweede jaar en hierdie opwindende musiekkompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, is nie meer ’n groentjie nie. RUK EN RYM, die geesteskind van die ontslape Taalgenoot-redakteur Johan Jack Smith, is die eerste keer in 2023 aangebied. Byna 100 inskrywings is vir die eerste kompetisie ontvang, wat uiteindelik op die spits gedryf is met twee semifinale rondes en Die Groot Finaal by Sognage in Randburg verlede Oktober.
RUK EN RYM 2024 beloof om die alternatiewe musiekvlam wat uit dié vonkie aangesteek is, aan te blaas en vanjaar se kompetisie beloof om groter en beter te wees. Nie net is daar vanjaar ’n noordelike semifinaal by Railways Café in Centurion nie, maar ’n suidelike semifinaal volg kort daarna as deel van die Toyota US Woordfees se amptelike program by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch, waar Karen Zoid die gaskunstenaar sal wees. Die dreunende musiekaksie se hoogtepunt is die groot finaal, vanjaar weer by Sognage in Randburg. Groot pryse is ook weer op die spel.
Dis gesellig om dié musikale musiekvuur, sê Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van RUK EN RYM. Hy meen die kompetisie gee nie net vir kunstenaars ’n geleentheid en ’n platform nie, maar skep ook ’n gemeenskap vir soortgelyke aweregses in die plaaslike musiekindustrie om mekaar te vind en saam te werk.
“Dit is ’n proses waar ons mense bymekaarbring. Ons het ’n hele nuwe gemeenskappie gevorm uit kunstenaars wat mekaar saam ontdek het en wat nou nog steeds saamwerk en belangstel in mekaar se loopbane. Ek kan nie wag om dit aan te hou groei hierdie jaar nie,” sê Jaco.
Die stromingsdiens Spotify is vanjaar die hoofstromingsborg van RUK EN RYM en alternatiewe musiekaanhangers sou dalk al opgemerk dat van verlede jaar se deelnemers deesdae ook op speellyste met alternatiewe Afrikaanse musiek verskyn.
Verlede jaar se wenner, Paul-Samuel Rheeder, beter bekend as SAMPAULE, het as deel van sy prys die geleentheid gekry om twee snitte by Peach van Pletzen se ateljee, Planet Awesome, op te neem en om ’n musiekvideo te vervaardig saam met Alan Sayers en André Badenhorst van The Nameless Productions. Naaswenner Hendriek Bleik (voorheen bekend as Hendriekx) het een snit saam met Peach opgeneem as deel van sy prys. SAMPAULE sê die kompetisie het sy horisonne verbreed.
“Die feit dat ek saam met Peach kon werk, was amazing, want ek het baie by hom geleer oor die tegniese aspekte wanneer dit kom by produksie en hy’t my ook anders oor musiek laat dink. Die musiekvideo wat ek saam met André en Alan en hulle span geskiet het, het my toegelaat om te relate met my fans en te kommunikeer met hulle en ’n dialoog te begin en vir hulle te wys, wow, Afrikaans is nie dood nie. Daar is soveel cool goed wat aangaan in Afrikaans,” sê hy.
Hy sê die kompetisie het sy selfvertroue ’n reusehupstoot gegee. “Ek voel die belangrikste ding wat ek uit RUK EN RYM gekry het, is confidence. Ek is iemand wat baie insecure is en toe ek ingeskryf het vir RUK EN RYM en as ’n semifinalis gekies is, was dit klaar ’n huge ego boost. Ek kon dit nie glo toe ek deurgedring het na die finaal nie – en toe wen ek. Dit het net iets unlock in my brein waar ek myself nie meer question nie.”
Angie Gallagher, assistentregisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, sê dit is vir die ATKV belangrik om vir alle Afrikaanse kreatiewes ’n platform te gee – ook vir dié wat nie van die hoofstroom deel is nie.
“Ons het verlede jaar gehoor hoe RUK EN RYM vir alternatiewe kunstenaars van plekke so verafgeleë soos Okiep ’n verhoog gegee het waarvandaan hulle musiek aan aanhangers oor die hele land uitbasuin kon word. RUK EN RYM is ’n megafoon wat alternatiewe Afrikaanse skeppers se gehoor verruim en die ATKV is trots daarop om ook op hierdie manier by te dra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse musieklandskap. Ons is vuur en vlam dat vanjaar se kompetisie weer wonderlike samewerkingsgeleenthede sal smee.”
Jaco is opgewonde oor die moontlikhede wat vanjaar ontsluit word deur die samewerkingsooreenkomste met die Toyota US Woordfees en Spotify.
“Noudat die kompetisie se Kaapse semifinaal ook deel is van die Woordfees en Spotify ook betrokke geraak het, wil ons net aanhou om die platform groter en sterker te bou en meer mense ’n kans te gee om hulle stemme te vind en te bou en te ontwikkel.
“Dit is wat die alternatiewe musieklandskap in ons land nodig het. Ons wil aanhou om van krag tot krag te gaan.”
Vind al die belangrike inligting oor vanjaar se Taalgenoot-RUK EN RYM en skryf in deur www.rukenrym.co.za te besoek.
BELANGRIKE DATUMS
- Sluitingsdatum vir inskrywings: Middernag (24:00) op 23 Augustus 2024
- Semifinaal 1 – Railways Café, Centurion: 14 September
- Semifinaal 2 – Daisy Jones Bar, Stellenbosch (as deel van die Toyota US Woordees): 2 Oktober
- Die Groot Finaal – Sognage, Randburg: 12 Oktober
Taalgenoot-RUK EN RYM word in samewerking met Wêreld aangebied. Vir enige navrae oor Taalgenoot-RUK EN RYM, stuur asseblief ’n e-pos na angieg@atkv.org.za. Volg RUK EN RYM op Facebook, Instagram, TikTok en YouTube.
RUK EN RYM 2023 se wenner, SAMPAULE, het ’n musiekvideo gewen as deel van sy prys. Sien “VISBAK” hier: