Ruk en Rym-wenners bekend: Hiér ruk dit!

“’n Mens dra dit half saam met jou – die buzz van die naweek. Ek sal dit nooit in my lewe vergeet nie, man ... die hele ervaring.”
Só sê Magé Troskie, op die verhoog bekend as Vir Nou Net Magé, oor die afgelope naweek se Taalgenoot-Ruk en Rym-finaal, waar sy as die algehele wenner aangewys is.
Die finale ronde van dié kompetisie vir alternatiewe klankskeppers het op 12 Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaasgevind.
Tien finaliste, aangewys na afloop van twee semifinale rondes – een ook by die Daisy Jones Bar en die ander by Sognage in Randburg – het tydens die eindronde om die gesogte titel van Ruk en Rym-wenner en die Johan Jack Smith-trofee meegeding. Dié trofee is vanjaar vir die eerste keer aan die wenner oorhandig en huldig die skepper van Ruk en Rym en voormalige redakteur van Taalgenoot, wyle Johan Jack Smith.
Die nu metal/punk-groep Ultra-Mal was die naaswenners, Karel Bester & Die Kraaines Band was derde en die rymkletser RFKI het die vierde plek ingepalm.
Die tien kunstenaars, wat in verskeie genres musiek maak, is beoordeel deur Jaco van der Merwe, voormalige voorbok van Bittereinder, Paul Riekert (Battery 9), Augusta Zietsman, ook bekend as SOSSI, en gasbeoordelaars Jolyn Phillips (Die Wasgoedlyn) en Jack Parow, wat ook die gaskunstenaar by die finaal was.
Jaco, ook die kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym, het klem gelê op die hoë gehalte wat vanjaar se finaliste na die verhoog gebring het.
“Ek is bly om te sê dat die derde finaal definitief die beste een is wat ons nóg gehad het. Dis baie lekker om die groei van die projek van jaar tot jaar te sien – nie net in terme van hoeveel mense daar was nie en hoeveel borge en pryse bygekom het nie, maar ook die musiek. Nie dat die eerste twee jaar se musiek sleg was nie; inteendeel, die eerste twee finale was amazing, maar hierdie jaar het dit net op ’n ander level gevoel.
“Uit die tien kunstenaars was daar nie vir my een wat nié ’n goeie kans gehad het om in die topvier te eindig nie. Ek hou ook van die diversiteit van die kompetisie. Dis wonderlik dat soveel verskillende mense uit soveel verskillende dele van die samelewing deel was van die finaal.
“Ons het ’n amazing wenner hierdie jaar. Dis wonderlik dat ’n sanger-liedjieskrywer met so ’n sagte aanslag gewen het. Dis nie net oor hoe hard jy kan rock of hoeveel geraas jy kan maak nie. It’s about songwriting en die krag van ’n baie goeie performance, wat ek dink Magé regtig gedoen het,” sê Jaco.
Danksy ’n ruim borgskap van kykNET, sal al tien finaliste die geleentheid kry om ’n musiekvideo te vervaardig wat dié kanaal dan ook later sal uitsaai. Die topdriekunstenaars ontvang elk ’n omvattende pryspakket wat onder andere kontant van die ATKV en geskenkbewyse van Marshall Music en Sonder Ink insluit, terwyl die wenner ook ’n handelsmerkontwikkelingspakket van Steyn IP ontvang.
Die wenner en naaswenner kry ook die geleentheid om opnames van hul liedjies by gerekende musiekvervaardigers te laat doen. Ruk en Rym se stromingsborg Spotify het bygedra om handelsmerkgoedere te vervaardig en bied later ’n werkswinkel aan waarin deelnemers touwys gemaak word oor onder andere hoe om hul musiek op speellyste geplaas te kry. Spotify maak dit ook moontlik vir een Ruk en Rym-kunstenaar om later vanjaar by die Liefde by die Dam-geleentheid op te tree.
Assistentregisseur van die kompetisie, Angie Gallagher, meen die gemeenskap wat Ruk en Rym skep, staan vir haar uit.
“Ons sien elke jaar hoe die kunstenaars met mekaar bande vorm wat dikwels lei tot kreatiewe samewerking. Die samehorigheid, meelewing en entoesiasme vir mekaar se werk is iets wat Ruk en Rym meer as bloot ’n kompetisie maak – dit bou aan ’n netwerk van aweregse kunstenaars wat iets anders in Afrikaans bring en die bedryf in sy geheel geweldig verryk,” sê sy.
Vanuit Bloemfontein, waar Magé by haar alma mater, die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, met vanjaar se matrikulante gaan praat het, is die Ruk en Rym-wenner se filosofiese lewensuitkyk duidelik. Dié groep was in graad agt toe Magé ’n paar jaar gelede die hoofmeisie hier was en hulle bemoedig het met ’n toespraak wat die internet destyds op hol gehad het.
“My boodskap vir hulle was, operate uit jou kern uit. Dis ook vanwaar ek skryf: in die spasie tussen jou hart en jou gut lê jou kern. Sy weet, sy ontvang die boodskap, sy verstaan duidelik en deel die boodskap op ’n manier wat ander mense verstaan.”
Taalgenoot-Ruk en Rym bedank ons borge en vennote:
- Klyntji
- kykNET
- Locally Yellow
- Marshall Music
- Planet Awesome
- Sonder Ink
- Spotify
- Steyn IP
- The Paperclip
- Toyota Stellenbosch Woordfees
- Wêreld
Vir meer navrae oor Taalgenoot-Ruk en Rym, reik gerus uit na Angie Gallagher by angieg@atkv.org.za. Besoek www.rukenrym.co.za vir meer oor die kompetisie en volg Ruk en Rym op Facebook, Instagram en TikTok.