SA Noodhulpliga word 90

Vir die afgelope nege dekades het die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga (SANL) burgers nie net in staat gestel om kritiese noodhulpvaardighede aan te leer nie, maar dié aanpasbare organisasie het Afrikaans ook help bevorder.
Op 22 Augustus 2025 vier die SANL hul 90ste bestaansjaar.
Prof. Oppel Greeff, president van die organisasie, is al vir 52 jaar verbonde aan die liga en sê hul voortbestaan is te danke aan hul aanpasbaarheid en toewyding.
“Ons is ’n organisasie wat by die tye aanpas. Selfs vandag nog dien ons die groter gemeenskap en verseker dat ondernemings, skole en organisasies kritiese opleiding in noodhulp ontvang.”
Die SANL het destyds danksy die ATKV ontstaan toe daar uit verskeie oorde ’n behoefte onder Afrikaanssprekendes uitgespreek is vir opleiding in noodhulp in hul eie taal.
In 1935 is die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga tydens die ATKV se sesde jaarlikse kongres in Pretoria gestig. Die eerste tak word daardie selfde jaar in Bloemfontein geopen. Dit word die Bloemfontein-Werke Noodhulpligatak genoem. Drie jaar later maak ’n tak in die destydse Transvaal sy deure oop.
Mettertyd het dit takke landswyd en in Namibië gehad. Die aanvanklike doel was om Afrikaanssprekendes in hul moedertaal op ’n Christelike grondslag in noodhulp op te lei.
Sedert 1938 het die liga ook verskeie handleidings, wat voorheen slegs in Engels beskikbaar was, in Afrikaans uitgegee.
By die skryf van die handleidings moes Afrikaanse mediese terminologie geskep word, want Afrikaanse mediese skole het toe nog nie bestaan nie.
“Die liga het dus ook só ’n besondere bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans gelewer,” sê Greeff.
Teen 1943, ten spyte van die voortslepende Wêreldoorlog, was daar reeds 340 takke met ’n ledetal van 6 600.
Volgens Greeff het die liga veral tydens die grensoorlog floreer toe hulle lede bykans 24 000 was.
“Daardie jare was daar ’n groot behoefte aan noodhulpopleiding, aangesien ons in ’n oorlog gewikkel was en meer burgers hierdie kardinale vaardighede moes aanleer. Tydens die laat tagtigerjare en vroeë negentigerjare het baie mense ook weens die burgerlike beskermingsbeweging aangesluit.”
Greeff sê dié tydperk staan vir hom beslis as ’n hoogtepunt in sy loopbaan as president uit.
“Daardie tyd het ek amper 46 000 sertifikate uitgereik.”
Sedertdien het die liga sy strategie aangepas as organisasie met taklede en meer as ’n diensverskaffer begin optree wat noodhulpopleiding aan besighede, groepe, sportliggame en skole aanbied.
Hy sê dit is vir hulle veral belangrik om mense in staat te stel om lewens te red en ’n noodgeval met selfvertroue te hanteer.
“Dit is vir ons belangrik dat mense leer hoe om op ’n doeltreffende wyse tydens noodgevalle op te tree.”
Deesdae verskaf die SANL opleiding en handleidings in noodhulp, tuisverpleging en openbare gesondheid in Afrikaans, Engels, Xhosa, Zulu, Suid-Sotho, Venda en Pedi.
Die hoofkantoor van die liga is in Centurion. By dié kantoor is daar noodhulptoerusting te koop.
Greeff is van mening dat die SANL ook sy eeufeesviering sal hou en vir dekades nog die land en sy mense sal dien.
“Ons slagspreuk is immers: ‘In diens van die medemens,’” sê hy.