Samuel Jumat: Van stil seun tot wenregisseur
“My wonderlike regisseur, mnr. Samuel Jumat, het ook baie vir my beteken in die twee jaar waartydens ek deel van sy produksies was. Hy skryf heerlike tekste om te speel en maak drama baie lekker. Hy druk ons altyd om ons beste te wees en gee nooit op voor ons ons volle potensiaal bereik nie.” – Ruben Pfaff, wenner: ATKV-Tjokkertoneeltoekenning vir beste akteur
Samuel Jumat, onderwyser by die Laerskool De Hoop, het vanjaar weggestap met die Tjokkertoneeltoekenning as beste regisseur vir sy uithalerwerk in die drama Dertien. Die aanloop tot dié groot prestasie het begin op die plaas Kleinplaas, waar Samuel gebore en getoë is – en nie so spraaksaam was soos hy vandag is nie. “Ek het baie hard gewerk, ek was tjoepstil,” vertel hy. “Vandag praat ek baie, half asof ek daarvoor betaal word.”
Die eerste keer wat die tjoepstil kind voor 32 klasmaats moes praat as deel van ’n praktiese opdrag was egter sy Damaskus-ervaring sover dit drama betref.
“Ek het gebewe soos ’n riet, daar was ’n knop in my keel en my hart het in my bors gehamer, maar die gevoel was onbeskryflik,” onthou hy met ’n glimlag.
Dié passie is verder aangewakker deur juf. Tanita da Silva, sy drama-onderwyseres en rolmodel. “Die eerste dag in haar klas het sy vir ons verduidelik wat drama eintlik beteken en toe besef ek, ék, Samuel Jumat, is ’n stem vir die stemloses,” vertel hy. “Sy het die wêreld aan my bekendgestel en vir my oopgemaak, sy het my geleer om myself te vind en sy het my laat besef as jy wil, kán jy.”
Al dié insette en meer het bygedra tot een van Samuel se grootste missies: “Om kinders te laat woeker met hulle talente, om hulself te vind,” was vir hom van onskatbare waarde in sy eerste jaar as onderwyser. “Daar was heelwat kinders in my klas wat gesukkel het om te lees. Ek wou ’n stem wees vir hulle; ek wou vir hulle ’n storie vertel oor die kuns van lees,” verduidelik hy.
Sy leesliefde het hand aan hand gegaan met die verwesenliking van sy verhoogdrome – die hoogtepunt tot dusver, sy beste-regisseurtoekenning vir Dertien.
Die toekenning is voorafgegaan deur maande se voorbereiding – van oudisies en repetisies deur verhoogervaring, met lewenslesse vir almal.
“Een van my grootste lesse was om die proses en my akteurs te vertrou,” sê Samuel. “Dit het begin toe ek al die prentjies van Dertien in my kop soos ’n legkaart sien ooplê. Ek het ook opnuut besef harde werk word beloon, en ek het gesien hoe die kinders groei en hul karakters met eerlikheid aangryp.”
Die kinders, reken hy, se hoofles was spanwerk. Deur uitdagings soos gesinchroniseerde beweging en die aanleer van spreekkoortegnieke het hulle nie net geleer om mekaar te vertrou nie; daar is ook nuwe vriendskappe gesmee.
Die harde werk en lewenslesse was egter nie Samuel en sy span se enigste beloning nie. “’n Paar volwassenes het ons ná die produksie kom bedank dat ons hulle storie vertel het. Ek is dankbaar dat ek, ons, iemand se storie kon vertel,” sê hy trots.
Samuel sê die mooiste ding in sy lewe is dat alles so mooi uitgewerk het.
“Ek leef my passie uit. Dis soos ’n droom wat waar geword het; om vir klein sieletjies meer te leer oor die groot wêreld daar buite; om vir elke kind sy plekkie in die son te gee én om my passie vir drama uit te leef.”
Dit is egter nog net die begin vir en van Samuel Jumat. Met onderwys en drama onder die knie, het die skryfgogga hom gebyt én herinner dit hom aan die ding wat hy desjare in juf. Da Silva se klas besef het: “Ek wil stories skryf oor die eenvoudige, doodgewone stemloses.”
Dís mos nou ’n stem waarmee almal kan saamstem!