Sentrum kry nuwe wiele danksy ATKV-tak Vereeniging
Weg is die ou Nissan 1400-bakkie waarmee die personeel van die Tabita-versorgingsoord in Vereeniging hulle inwoners en pasiënte – waarvan sommige dames so oud soos 80 jaar – moes vervoer.
Die ATKV-tak Vereeniging, in samewerking met die Hoërskool Overvaal, het hulle hulpbronne saamgespan en ’n ordentlike minibus aan Tabita geskenk.
Frik Roets, wat die afgelope tien jaar as voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging dien, het ’n persoonlike verbintenis met Tabita nadat een van sy familielede vir ’n tyd daar versorg is.
“Ek het in daardie tyd kennis geneem van die goeie werk wat Tabita doen en wat die versorgingsoord vir die gemeenskap beteken,” sê Frik.
“’n Lid van die ATKV-tak in Secunda het my verlede jaar op die ATKV se Kultuurkuier by ATKV-Goudini Spa genader en gesê haar suster se kind is ook nou in Tabita geplaas. Sy het my gevra of ek kennis dra van die versorgingsoord se probleem met vervoer. Ek was toe reeds bewus van die feit dat Tabita sy pasiënte noodgedwonge in ’n 1400-bakkie vanaf die oord na klinieke, hospitale en dies meer moet vervoer.
“Dit was dus daar op die Kultuurkuier waar ons besluit het om die projek aan te pak. Ongelukkig was ons die enigste tak wat finansieel tot die projek kon bydrae, maar dit was uiteindelik nie ’n probleem nie, want dit is die gedagte wat tel en ons het deurgaans hulle ondersteuning waardeer.”
Frik dien die afgelope sewe jaar as voorsitter van die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, vandaar die goeie verhouding tussen die ATKV-tak Vereeniging en die skool.
“Die skool was nog altyd bereid om in die gemeenskap te help,” sê Frik.
“Ons het ook ’n klompie jare gelede die ATKV-jeugtak Mondjievol by die skool gestig, wat ook baie goed funksioneer en baie bedrywig is in die gemeenskap.
“Ek het uiteraard geweet van die bussie wat die beheerliggaam vir die skool aangekoop het en dat dit nie juis in gebruik was nie. Ek en die skoolhoof, Schalk Rabie, het tydens die skool se gholfdag Tabita se behoefte bespreek. Hy het die voorstel gemaak dat ons die skool se bussie koop en hy het dit aan ons vir ’n beter prys aangebied as waarvoor die beheerliggaam dit destyds aangeskaf het.
“Die skool het die verkoopprys met R15 000 verminder en daarmee ’n reusebydrae gelewer.”
Frik sê talle verskillende rolspelers het gehelp om die fondse in te samel om die bussie te kan koop.
“Ons het die afgelope jare goeie verhoudings in die gemeenskap gebou, onder meer deur die tak se werksaamhede,” sê Frik.
“Wat baie belangrik is, is dat hierdie vertrouensverhoudings is, dus het ek die geleentheid gehad om sekere mense te kontak en van die projek te vertel. Hulle het danksy ons vertrouensverhouding nie geskroom om betrokke te raak nie en het ’n uiters belangrike rol gespeel in die aankoop van die bussie.
“Dit is baie belangrik om ’n goeie netwerk te hê; hulle sê mos, ‘dit is nie wát jy ken nie, maar wié jy ken’. So, dit het beslis ’n rol hier gespeel, maar ’n mens moet van meet af aan met daai verantwoordelikheid optree dat mense jou sal vertrou dat dit wat jy vir hulle sê en waarvoor jy die geld vra, inderdaad tot daardie projek en daardie doel aangewend sal word.
“Dit is hoekom dit vir my belangrik is om die mense wat bygedra het na afloop van die projek in kennis te stel dat dit met sukses afgehandel is. Ek het reeds aan elke skenker ’n foto en ’n kort beskrywing van die afgelewerde bussie by Tabita gestuur sodat hulle kan sien die projek is afgehandel.
“Maar daar is terselfdertyd ’n baie fyn lyn; dit gaan nie vir my daaroor dat mense moet weet wat ons gedoen het nie, maar dat ons ’n behoefte kon aanspreek.”
Frik sê die personeel was beslis opgewonde toe die bussie by Tabita afgelewer word, maar wat hom die meeste opgeval het, was hulle dankbaarheid.
“Die personeel het gevra dat ons almal hande vat en die Here bedank vir die genadegawe wat ontvang is. Dit was baie spesiaal,” sê hy.
Frik het sy dank uitgespreek aan die skenkers, wie almal verkies om anoniem te bly, en die Hoërskool Overvaal.
“Ek is verheug dat ons in staat was om hierdie behoefte aan te spreek. Dit spruit doodeenvoudig uit ’n vertrouensverhouding met mense in ons gemeenskap, mense wat weet dit wat ons sê, is dit wat ons sal doen,” sluit hy af.