‘Seun’ kyk dienspligspoke in die oë
Dana Snyman het ’n besonder kenmerkende skryfstyl. Hy is bekend vir sy rubrieke en kort sketse wat in bundels saamgevat word. In Seun wyk hy heeltemal daarvan af met ’n langer vertelling wat in vier dele afgebaken is.
In Anelia Heese se Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? (2023) vertel sy die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verpligte diensplig moes doen. Seun sluit uitstekend hierby aan, in Snyman se eie stem, as hy vir die eerste keer sy hart daaroor oopmaak.
Seun is ’n memoir wat elkeen wat self ’n seun of kêrel gehad het wat diensplig moes doen, sal breek. Hy praat oor sy ervaringe in die 1980’s, ’n tydperk waarin PW Botha se vinger reg na jong mans se gewete gewys het. Dana word oneervol uit die weermag ontslaan ná ’n verblyf in Saal 24, die psigiatriese eenheid van 1 Militêre Hospitaal. Daarna eindig hy werkloos, moedeloos en doelloos in ’n agterkamer in Pretoria, daar waar jy nie toegelaat word om te vergeet wie jy is nie – ’n Afrikaner.
’n Tema regdeur die boek wentel om die vraag: hoe word ’n seun ’n man? ’n Soort toksiese manlikheid wat gemeet word aan norme wat menswees ontken, is wat die samelewing vereis. Dit is eers baie later dat Dana leer dat ’n man maar weemoedig kán raak, nie ’n bars hoef te kan kyk, en nie ’n duiker met een skoot hoef dood te skiet nie.
Hy skets die tydsgees goed – ’n tyd waarin vroue hulle drome prysgee, waarin daar gewaarsku word teen kommunisme, simbole soos die gehapte appel, sataniese boodskappe op plate wat agteruit gespeel word en Scope se sterretjies.
Die titel Seun is ’n ironiese, maar welverdiende dwarsklap na sy pa, wat hom nooit as individu erken met selfs ’n eie naam nie, maar ’n generiese “Seun”, van wie die weermag ’n “man” moet maak. Die weermag en stafsersant Orton het genadiglik skromelik daarin misluk.
“Van die dak van die Voortrekkermonument af kyk die gees van my oeroupagrootjie wat in die Slag van Bloedrivier geveg het my agterna en skud sy kop teleurgesteld.” (bl. 79)
’n Mens wonder wat het van al die jong gay mans geword wat deur Doctor Shock, oftewel dokter Aubrey Levin, met sy aversieterapie mishandel is.
Dana as buitestander begin al die veroordeling in sy ouerhuis ervaar as hy nie ’n duiker met een koeël die doodskoot kan gee nie. Hierdie insident bly hom by en daar word telkens daarna verwys. Ou seer soos hierdie bly in ’n sensitiewe psige sit, en word deur bullebakke soos stafsersant Japie Orton tydens diensplig uitgebuit. Die jong mans wat teen boeliegedrag opstaan, of emosioneel knak soos Dana, word gestuur na die psigiatriese eenheid vir evaluasie. Daar word etikette soos skisofrenie geredelik om hulle nekke gehang. By nabetragting sou hy vandag dalk as held of rolmodel beskou kon word.
“’n Onnatuurlike geneigdheid. Miskien is dít die siekte wat ek het.” (bl. 63) Só het die kapelaan wat vir hom kom bid het dit genoem, waar hy ’n saal gedeel het met ’n outjie wat snags na sy ma roep, een wat sy polse met ’n lemmetjie wou oopkerf en een wat elke nag sy bed natmaak.
Geknakte kinders is wat die weermag aan hulle mense teruggegee het. Mans wat ná ’n paar dekades as pa’s nou nog stotter as hulle oor daardie tyd uitgevra word.
Dana Snyman se belewing van die tyd in ons geskiedenis toe bomme ontplof en mans met grys skoene oor landsake gesels het, sluit aan by Annamarié van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel en Marita van der Vyver se ’n Baie lang brief aan my dogter.
Seun bied ’n dapper besinning oor hoe belewenisse uit die verlede steeds ’n invloed op die mens uitoefen en dat dit inderdaad dapperheid verg om daardie spoke in die oë te kyk en te besweer.
Mag hierdie boek terapeutiese waarde hê, nie net vir die skrywer self nie, maar vir almal wat destyds deur verpligte diensplig geraak is.
Resensie deur Trisa Hugo.