Skryf ’n kortverhaal en wen met ATKV-gesinstak Despatch

Kan daar ’n beter gevoel wees as geld in jou sak én om jou kortverhaal in ’n boek gepubliseer te sien?
Dit kan ’n werklikheid word as jy inskryf vir die ATKV-gesinstak Despatch se Fynskrif-kortverhaalkompetisie.
“Ons wil jongmense aanmoedig om hul talente te ontgin en ons wil ’n liefde vir Afrikaans by leerders kweek,” sê Carol Reyneke, takvoorsitter.
Die kompetisie is oop vir laerskool- en hoërskoolleerders en daar is ook ’n afdeling vir mense van 18 - 25 jaar oud. Benewens die drie afdelings, is daar ook twee kategorieë: Afrikaans huistaal en Afrikaans tweede taal.
Laerskoolkinders se kortverhale moet tussen 500 en 1 000 woorde wees, hoërskoolleerders s’n tussen 1 500 en 3 000 woorde, en jong volwassenes se kortverhale moet tussen 3 000 en 5 000 woorde wees.
Dit is die vierde jaar dat die tak dié kompetisie aanbied.
“Ons kry elke jaar kortverhale van baie hoë gehalte. Die kinders het ’n fantastiese verbeelding en dis lekker om te sien hoe baie hulle dit geniet om te skryf,” sê Carol.
Die wenner in elke kategorie ontvang ’n kontantprys van R200 en elkeen se kortverhaal word in ’n boek gepubliseer wat by skole versprei sal word.
Volgens Carol het die tak met die kompetisie opgekom omdat hulle iets wou hê wat hul vlagskipprojek kon wees.
“Ons wou ’n lopende projek hê wat leerders en die publiek met ons tak kan assosieer.”
Inskrywings sluit 30 Julie.
Vir navrae, kontak Carol Reyneke by 082 854 5913.