Skryf nou in vir Vlymskerp-vasvra
Wat is Faf de Klerk se bynaam? Wat is die bomb squad en vir watter span speel hulle? Wat is die verskil tussen vir “seker” en “verseker”? Wie sing “Kaptein (Span die seile)”? As ’n jonge in jou kring hierdie en ander feite ken, moet hulle sommer op die daad inskryf vir die Vlymskerp-vasvrakompetisie wat op Vrydag 20 Oktober vir laerskole en Saterdag 21 Oktober vir hoërskool-slimkoppe by die Laerskool Sunridge in Gqeberha plaasvind.
Hierdie interskolevasvra is ’n opwindende, prettige ervaring om jongmense se algemene kennis te toets.
Die bekende akteur, Beer Adriaanse, wat ook die aanbieder is van Slim vang sy baas op VIA, en bekend is vir sy rolle in Hotel, Kanarie en Wonderlus, is vanjaar weer die aanbieder van hierdie kopkrappervasvra.
Volgens Christie Swanepoel, ATKV-streeksbestuurder: Oos-Kaap en Suid-Kaap, is die Vlymskerp-vasvra deur die vorige streeksbestuurder, Elda Kruger, op die been gebring.
Dit was ’n kompetisie tussen die leerlinge van plaaslike hoërskole met algemene-kennisvrae, en vrae oor taal en musiek. Destyds was Die Burger nog in druk in dié streek en het die leerders eers die koerant gelees voor vrae aan aan hulle gestel is. “Hierdie keer is dit meer algemene-kennisvrae oor die wêreld, taal en musiek. Dis belangrik dat kinders moet weet wat in die wêreld aangaan,” sê Christie.
“In die week van die Vlymskerp-vasvra kry hulle leidrade wat wenke gee oor waarna hulle moet kyk, soos die Wêreldbeker-rugbytoernooi, sodat hulle kan weet waarna om op te let.
“Ons vra hulle ook wat in die wêreld gebeur. Daar heers ’n lekker, ontspanne atmosfeer, daar is selfs ’n karnavaltema met die kos. Dis regtig nie ’n streng olimpiade nie. Vanjaar is die kompetisie oop vir alle laerskool- en hoërskoolleerlinge.”
Wat moet jy weet voor jy inskryf?
- Een span per skool kan inskryf en daar is vier leerders per span.
- Die laerskole neem op 20 Oktober deel. Die registrasie begin om 14:00 en die Vlymskerp-vasvra skop stiptelik om 15:00 af.
- Hoërskole neem op Saterdag 21 Oktober deel. Die registrasie begin om 09:00 en die Vlymskerp-vasvra begin stiptelik om 10:00.
- Die inskrywingsfooi is hondekos.
- Die wenspan kan R5 000 vir die skool wen, asook pryse vir die leerders.
- Daar sal ’n WhatsApp-groep geskep word op 16 Oktober, waar elke dag se leidraad geplaas sal word.
- Moenie gespanne wees oor die Vlymskerp-vasvra nie! Dit is groot pret en die idee is om dit te geniet.
Hoe om in te skryf:
Kontak Christie Swanepoel by 071 066 3530.
Volgens haar wil die ATKV van Maandag 16 Oktober begin om daagliks ’n leidraad op die WhatsApp-groep te plaas. Dit sal ook die deelnemers op hul gemak laat voel.
“As ’n skool eers Woensdag inskryf, sal al die leidrade van Maandag af ook aan hulle gestuur word,” sê Christie.