‘Sluitstuk’ noop leser om dieper te gaan
Die titel van die boek Sluitstuk deur Johann Rossouw is swaar gelaai met betekenis en is ’n bietjie dubbelsinnig. Reeds vroeg in die boek vind ons uit van die karakter Markus Lourens se ontsteltenis oor dié term, toe ’n Nederlandse biograaf hom ontmoet vir ’n onderhoud oor die ontslape skrywer, Rudolf Eksteen.
Wat vir Markus begin het as ’n heldeverering, ontwikkel spoedig in ’n onmiddellike sielsherkenning en die geleidelike proses van die leermeester se invloed op die jonger man. Die trant is aanvanklik baie formeel, en selfs tot en met die laaste kontak bly dit so, asof daar ’n doelbewuste, maar onuitgesproke grens gestel was.
Die verhouding tussen leermeester en leerling was ook tipies van Eksteen se werk – berekend en vaag, amper slu en manipulerend, maar op ’n manier wat die leser inkatrol totdat die reis voltooi is en die leser besef dat die betekenis die hele tyd daar was. Simbole is deurentyd gebruik, en die reis was altyd inwaarts, ’n hunkering na volledige stilte, ’n gefokusde stilte wat meer is as die afwesigheid van geraas.
Die gebrek aan intimiteit, die amper té hoflike toon, die intense, maar tog formele en amper oorversigtige trant van die verhouding wat beskryf word, laat ’n mens vermoed dat daar ou bagasie uit kinderjare is wat nog ’n invloed het op mense, sodat hulle oorversigtig is om nie reaksie uit te lok nie. Hierdie vermoede word later bevestig.
Die irritasie van die biograaf Irene, laat ’n mens aflei dat sy min begrip het vir die Boeddhistiese lewenswyse. Ook die fokalisator se verhouding met die biograaf bly formeel en afstandelik. Tog gee die verhouding tussen Markus en die biograaf hom rede om na te dink oor die redes waarom mense by mekaar betrokke raak.
Selfs al het Markus die skrywer amper verafgod, was hy nie blind vir sy eienskappe en maniere wat nie strook met Boeddhisme nie, soos die aflegging van die ego en opperste verraad.
’n Waardevolle les uit die boek is hoe lees ontvlugting kan wees, maar skryf is die verwerking van trauma. Markus leer ook dat die skryf van romans soos stemme is wat wag om geboekstaaf te word, sodat hulle nie ongehoor weemoedig bly dool nie.
Sluitstuk is ’n waardevolle boek vir alle skrywers vir wie persoonlike groei ’n erns is.
“‘Met ander woorde,’ sê ek terwyl ons verder begin stap, ‘skryf is nie die voorwaarde vir persoonlike integrasie nie, maar die gevolg daarvan?’
Ek onthou ek was rasend van opwinding omdat ek vir die eerste maal ingesien het dat ek die oorsaak en gevolg nog altyd omgeruil het.
‘Ja,’ gaan hy geduldig voort, ‘maar jy moenie die fout begaan om te dink dat persoonlike integrasie ’n eenmalige proses is wat jy vroeg in jou lewe afhandel en dan lustig voortgaan om te skryf nie. Soos ek gesê het, dit is ’n reis inwaarts, en enige reis het sy onvoorsiene gebeurlikhede, sommige van so ’n aard dat dit die reis tydelik onderbreek en ’n ompad of selfs ’n koersaanpassing vereis. Dit is hierdie gebeurlikhede waaroor ’n mens nie beheer het nie, maar wat jy telkens weer moet integreer om sin te maak van wat met jou gebeur. En ook om vrede te maak met wat jy voorlopig nie verstaan nie. En dalk selfs nóóit sal verstaan nie. Dit hang nogmaals van jou reis af. Per slot van rekening is dit jóú lewe en kan slegs jy sin maak van wat jy op die reis ontdek, hoe goed jou voorbereiding en jou aanvanklike gids ook was. Die gids mag jou selfs vir ’n deel van die reis vergesel, maar op ’n dag ontdek jy dat jy alleen stap, en dan moet jy jou koers en jou pas bly handhaaf. Verál dan.’” (bl. 125)
Die biograaf het die asimmetrie (selfs fisiek) en dualiteit in die verhouding opmerklik gevind, aanvullend tot die jin-jang en leermeester-leerling-verhouding. Daardeur het Markus ook ’n objektiewe blik op sy verhouding met Eksteen gekry, en daar is dus ook ’n inwaartse reis vir hom deur die onderhoude.
Die onverbiddelikheid van onvervulde verlange, veral aan die einde van ’n lewensreis, is ’n wonderlike manier om hierdie boek mee af te sluit. Dit is nie ligte leesstof nie. Lees dit as jy tyd het, ook vir introspeksie.
Die skrywer beweeg naatloos tussen sy gesprek met die biograaf en innerlike dialoog, met beelde so duidelik asof jy dit sien afspeel, tekenend van Markus se lewensfilosofie.
Dit is opmerklik dat Rudolf aan die begin van die onderhoud heelwat Boeddhistiese terminologie gebruik, maar gaandeweg verander dit in die toepassing van die kennis, totdat hy dit oplaas volledig integreer en praat oor die samehang, die eenvoud en eenheid van stilte en skryf, baie soos die lang reis van die jong man wat asemloos ’n brief aan sy held stuur, totdat die sirkel voltooi is en hy weer die leermeester vir ’n student kan wees.
Hierdie stem het beslis nie ongehoor weemoedig bly dool nie.
I shen deng shin – Van my siel aan joune.
Resensent: Trisa Hugo